A balancing of interests: financial inclusion, the fight against money laundering and terrorism financing, and the role of banks

Author: L Takaedza

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, Centre for Banking Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2025, p. 281-297
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i2a4

Abstract

Finansiële insluiting beteken om toe te sien dat almal toegang tot finansiële dienste het wat pas by hul finansiële behoeftes. Hierdie beleid is wyd beskikbaar maar is van besondere belang in die ontwikkelende wêreld waar die meeste volwassenes geen toegang tot formele finansiële dienste het nie. Dit is gebiedend vir ’n staat om die faktore wat lei tot finansiële uitsluiting van kwesbares te begryp ten einde te doen wat nodig is om hulle aan te spreek. In Suid-Afrika is werkloosheid en armoede van die faktore wat in die pad staan van die finansiële insluiting van die kwesbares. Finansiële insluiting speel ook ’n belangrike rol in die stryd teen finansiële misdaad (soos geldwassery en die finansiering van terrorisme) aangesien finansiële transaksies onderwerp word aan skerp ondersoek om onwettige verskuiwing van geld op te spoor. Die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum 38 van 2001 beoog om dit te bewerkstellig en van banke word verwag om in ooreenstemming met hierdie bepalings op te tree in hul besigheidsbedrywighede. Aan die ander kant is die Financial Sector Regulation Act 9 of 2017 aangeneem in Suid-Afrika om finansiële insluiting te bevorder (tesame met ander oogmerke) en die Conduct Standard for Banks daarkragtens uitgereik plaas besondere klem op die regverdige behandeling van kliënte. Banke speel ’n noodsaaklike rol in die voorsiening van finansiële dienste. Nietemin is hulle openbare maatskappye met die gepaardgaande regte, spesifiek dat hulle kan besluit met wie hulle wil kontrakteer. Dit is veral so in die era van die risiko-gebaseerde benadering wat vereis dat banke kliënte moet aanvaar wat in harmonie is met hul risiko aptyt. Boonop, wanneer banke finansiële dienste lewer behoort dit gedoen te word op ’n wyse wat die stabiliteit van die finansiële stelsel beskerm weens die belangrikheid hiervan in die ekonomiese lewe van die mense en regerings. Dit is gevolglik nodig om die behoeftes van kliënte om toegang te hê tot finansiële dienste te balanseer met die reg van banke om hul kliënte te kies, terwyl die integriteit van die finansiële sisteem beskerm word. In hierdie bydrae word hierdie aangeleenthede aangespreek in die hoop om by te dra tot sodanige balansering.