A brief overview of collective consumer redress in the European Union and South Africa and moving towards the increased use of consumer class action in South Africa – part 1*

Author: T Broodryk

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor in Private Law, Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2024, p. 410-426
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i3a1

Abstract

Hierdie tweedelige artikel bied ’n oorsig oor kollektiewe verbruikersregstelling in die Europese Unie en in Suid-Afrika. Dit bekyk redes waarom in die Suid-Afrikaanse reg die bestaande klasaksie onderbenut bly as ’n meganisme om verbruikersgeskille mee op te los. In die afgelope sowat 30 jaar, is slegs twee sertifiseringsuitsprake in verbruikersklasaksies gelewer wat oor ’n geskil handel wat beheers word deur artikel 4(1) van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die onlangs uitgereikte aanwysing oor kollektiewe regstelling om die kollektiewe belange van verbruikers te beskerm van die Europese Unie, is aanduidend dat dit vir die Europese Unie ’n prioriteit is om verbruikersbelange te beskerm en dat ’n omvattende benadering verkieslik is om kollektiewe verbruikersregstelling in lidlande te hanteer.
Die gebrek aan wetgewende regulering van die Suid-Afrikaanse klasaksie soos ook van die meganisme vir verbruikersklasaksie wat in die Wet op Verbruikersbeskerming vervat is, bring mee dat die klasaksie sedert die instelling daarvan meer as ’n dekade gelede, steeds onderbenut bly. Ander faktore wat tot die onderbenutting van die verbruikersklasaksie bydra, is onder meer die onduidelike formulering van die Wet op Verbruikersbeskerming, verbruikers se gebrek aan kennis ten aansien van hul regte ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming en die afwesigheid van voldoende hulpbronne om verbruikers in staat te stel om hulle regte af te dwing, onder meer deur middel van so ’n klasaksie. Op hulle beurt belemmer al hierdie faktore toegang tot geregtigheid, wat juis die primêre doel van Suid-Afrika se klasaksie is.
Deel een van hierdie tweedelige artikel handel oor die ontwikkeling van kollektiewe regstelling in die Europese Unie asook die besonderhede van die aanwysing betreffende kollektiewe regstelling van die Europese Unie. In deel twee oorweeg die outeur kollektiewe regstelling in Suid-Afrika. Daarin ondersoek die outeur verder die redes waarom Suid-Afrika se klasaksie onderbenut bly as ’n meganisme om verbruikersgeskille op te los. Die bespreking bevat ook voorstelle, onder andere gebaseer op die Europese ervaring, vir die toenemende benutting van die Suid-Afrikaanse verbruikersklasaksie. Dit behels, onder andere, die regulering van die meganisme deur wetgewing asook die bemagtiging van Suid-Afrikaners om hul sodoende in staat te stel om hul regte, soos vervat in die Wet op Verbruikersbeskerming, uit te oefen.
Die oogmerk van die outeur met die artikel is om ’n bydrae te lewer tot die toenemende benutting van die Suid-Afrikaanse verbruikersklasaksie om sodoende toegang tot geregtigheid vir Suid-Afrikaanse verbruikers te help bewerkstellig.