A conceptual view of the act of testation to elucidate a testator’s intention in the South African law of
succession: a proposed “act-based model” as opposed to the traditional “requirements model” (part 1)

Author: J Faber

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Lecturer, Faculty of Law, University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 504-520
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a5

Abstract

Die Suid-Afrikaanse erfreg, as deel van die privaatreg, spesifiek die vermoënsreg, opereer aan die hand van die subjektiewe regsleerbenadering en veral die inbegrepe beskikkingsbevoegdheid – as een van die inhoudsbevoegdhede – waaroor ’n regsubjek as die reghebbende van subjektiewe regte beskik. Die beskikkingsbevoegdheid word uitgeoefen aan die hand van ’n beskikkingshandeling – as regshandeling – wat moontlik is weens die uitoefening van die regsbevoegdhede waaroor regsubjekte beskik, vernaamlik die regsbevoegdheid en handelingsbevoegdheid. Op die gebied van die erfreg, deur enersyds die beskikkingshandeling te onderskei van ander handelinge en aangeleenthede wat inhoudelik in die testament mag voorkom (byvoorbeeld die herroepingshandeling) en andersyds te onderskei van ander handelinge in die testeerproses (byvoorbeeld die verlydingshandelinge ten einde aan die formaliteitsvereistes te voldoen) sal die begripsverwarring wat in die Suid-Afrikaanse erfreg heers, veral wat die testateur se bedoeling betref en gevolglik ook die begrip van ’n testament as sodanig, ten beste aangespreek word. Die testateur se bedoeling kan slegs teoreties korrek verklaar word aan die hand van ’n voorgestelde handelingsmodel ten opsigte van die deurlopende proses van testering ten einde te toon dat testateursbedoeling ’n saamgestelde, meersydige konsep is, wat meerdere bedoelingsvorme of bedoelingsfasette omvat. Die beskikkingsbedoeling byvoorbeeld, moet ten eerste gevorm word alvorens dit tot uiting kan kom in ’n wilsverklaring, as die tersake beskikkingshandeling. Die handelingsmodelbeskouing staan in teenstelling tot die tradisionele beskouing dat ’n testament die gevolg is van die eenmalige aanwesigheid van ’n aantal gestelde vereistes (die sogenaamde “vereistesmodel”). Ingevolge die handelingsmodel-beskouing is ’n testament die gevolg van ’n proses van testering wat die verrigting van spesifieke handelinge met bepaalde gepaardgaande bedoelingsvorme behels, wat deur verskeie partye verrig word ten einde ’n testament daar te stel. Die plek en rol van, sowel as die wisselwerking tussen, die onderskeie “vereistes” kan slegs teoreties korrek gekontekstualiseer word ooreenkomstig hierdie beskouing. Dit staan ’n bevoegde testateur vry om na keuse oor sy of haar bates te beskik aan die hand van die beginsel van testeervryheid. Die beskikking oor bates geskied by wyse van ’n testeerhandeling, as die tersake regshandeling in die erfreg. Ten einde te kwalifiseer as ’n testeerhandeling, word ’n volledige beskikkingshandeling vereis, in die sin dat al die elemente vir ’n testamentêre beskikking teenwoordig moet wees; sowel die nodige testeerbedoeling (animus testandi) as die bedoeling dat daar by die dood regtens aan die beskikking gevolg gegee moet word. In die testate erfreg word ’n skriftelike wilsuiting, soos beliggaam in ’n geldige testament, vereis. Die testeerhandeling – as die vergestalting van die beskikkingsbedoeling en testeerbedoeling (animus testandi) – laat die dokument wat dit beliggaam, as testament kwalifiseer. Hierdie prosesmatige beskouing – met die klem op die testeerhandeling eerder as op voldoening aan ’n reeks vereistes – bied ’n behoorlike verklaring van wat ’n testament is, klaar die huidige begripsverwarring met betrekking tot testateursbedoeling op en lê die grondslag vir die bekendstelling van ’n bedoelingsleerstuk in die Suid-Afrikaanse erfreg.