A reasonable prospect for rescuing a company as a requirement for business rescue: a decade later

Authors: P O’Brien and J Calitz

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg; Associate Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2021, p. 688-717
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i4a3

Abstract

Voor inwerkingtreding van sakeredding as instelling op 1 Mei 2011 was doemprofete bevrees dat die sentrale en deurlopende vereiste van ’n redelike vooruitsig vir sakeredding die instelling so oneffektief as geregtelike bestuur onder die 1973-wet sou maak. Die vereiste word op twee verskillende maniere in die wet geformuleer. Daar word aan die hand gedoen dat die twee formulerings op dieselfde neerkom, alhoewel konsekwente taalgebruik deur die wetgewer verkieslik sou wees. Volgens die hoogste hof van appèl is daar geen algemene minimum voorgeskrewe voorskrifte om te bepaal of daar ’n redelike vooruitsig vir sakeredding is nie. Elke saak word op eie meriete beoordeel. Om daardie rede val die klem in hierdie bydrae op die algemene kwessies wat die vereiste na vore bring. Die vereiste verg dat die statutêre oogmerk van sakeredding bepaal moet word. Dit het die hoogste hof van appèl gedoen met die vreemde vertolking van die wet dat sakeredding se doel ook die alleenstaande oogmerk van sakemoord kan wees. Daar word aan die hand gedoen dat die vereiste heel verstaanbaar is indien die tradisionele redelike voorsienbaarheidstoets wat in verskeie regskontekste geld, in gedagte gehou word. Uiteraard is die objektiewe maatstaf aan die hand waarvan redelike voorsienbaarheid bepaal word, die redelike besigheidspersoon by sakeredding en nie die redelike persoon nie. Die beskrywing van die howe se funksie in hierdie opsig as die uitoefening van ’n diskresie in die los sin van die woord of die vel van ’n waardeoordeel, kan verwarrend wees en dra min by tot die debat. Die howe het nog nie die werklikheid prontuit gekonfronteer dat die las om die aanwesigheid of afwesigheid van die vereiste te bewys, op persone kan rus met wyd uiteenlopende vlakke van toegang tot kennis van die maatskappy se sake nie. Alhoewel lippediens bewys word aan die stelling dat dieselfde toets vir almal geld, is die howe skynbaar meer toegeeflik jeens persone met beperkte toegang tot kennis en meer hardvogtig jeens diegene met vollediger toegang tot kennis, in besonder jeens diegene met uitsluitlike kennis oor die sake van die maatskappy. Dispute oor die deurlopende teenwoordigheid van die vereiste kan op enige tydstip ontstaan. Een van die onbeantwoorde vrae is of die howe dispute daaroor kan bereg in gevalle waarvoor daar nie in die wet uitdruklik voorsiening gemaak word vir toegang tot die howe nie. Aansluitend daarby is of aksieverrigtinge vir beregtiging in sulke gevalle gebruik kan word waar daar feitedispute is of verwag word. Daar word aan die hand gedoen dat onder andere die grondwetlike reg tot toegang tot howe beteken dat die howe wel daardie dispute mag bereg. Weens die algemene moratorium teen die instel van regsgedinge tydens sakeredding, mag dit egter moontlik nodig wees om die toestemming daarvoor van die sakereddingspraktisyn of hof te bekom. Die argument dat aksieverrigtinge dalk beskikbaar is het min praktiese waarde weens die uitermate lang tyd wat dit neem om aksieverrigtinge af te handel. Alhoewel die vrese van doemprofete oor die uitwerking van die vereiste op sakeredding as instelling grootliks besweer is, bly daar na ’n dekade nietemin talle onbeantwoorde vrae daaroor.