Aantekeninge: A renewed call for a wider recognition of the pactum successorium in light of recent developments

Authors: Henk Kloppers and Anel Gildenhuys

ISSN: 1996-2207
Affiliations: North-West University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2024, p. 785-801
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i4a8

Abstract

Behoudens ’n vererwingsklousule in ’n geregistreerde huweliksvoorwaardekontrak en ’n donatio mortis causa wat aan testamentêre formaliteite voldoen, word alle ander vorme van erfopvolgingsooreenkomste (pacta successoria of pactum successorium as die enkelvoud) as onafdwingbaar beskou. Die vernaamste hedendaagse besware teen die erkenning van die pactum successorium is die beperking van testeervryheid waar die individu van die geleentheid om vererwing deur ’n testament te bewerkstellig ontneem word en die moontlike omseiling van testamentêre formaliteite soos voorgeskryf in artikel 2 van die Wet op Testamente 7 van 1953. Alhoewel verskeie outeurs oor die jare heen (veral in die 1980’s en 1990’s) vir ’n verslapping van die streng verbod op die erkenning van die pactum successorium betoog het, blyk dit dat die howe nie ten gunste van sodanige verslapping is nie. Die pactum successorium was die onderwerp van twee onlangse uitsprake (Oosthuizen v Barnard (20665/2021) 2023 ZAGPPHC 30 (24 Jan 2023) en Lotter v Trustees for Time Being of Phildi Trust (13754/2023) 2024 ZAWCHC 158 (7 Junie 2024)) in die konteks van skikkingsooreenkomste wat in egskeidingsbevele geïnkorporeer is. In beide sake het die howe die vestigingstoets (soos geformuleer in Jubelius v Griesel NO 1988 2 SA 610 (K) en goedgekeur in McAlpine v McAlpine 1997 1 SA 736 (HHA)) toegepas en tot die gevolgtrekking gekom dat die onderskeie erfopvolgingsklousules in die skikkingsooreenkomste inderdaad pacta successoria daarstel, en aangesien dit nie binne die erkende uitsonderings val nie, is die klousules by verstek onafdwingbaar. As kritiek teen die kunsmatige benadering wat deur die howe gevolg word, probeer die outeurs van hierdie bydrae voortbou op die vorige oproepe vir die wyer erkenning van die pactum successorium in die lig van algemene ontwikkelinge wat sedert die 1980’s en 1990’s plaasgevind het, spesifiek met verwysing na die moontlike insluiting van ’n derde erkende vorm van die pactum successorium naamlik ’n erfopvolgingsklousule in ’n egskeidingskikkingsooreenkoms, welke ooreenkoms ’n bevel van die hof gemaak is. Formaliteite, statutêre beperkings en onlangse uitsprake wat testeervryheid beperk, sal uiteengesit word om die huidige primêre besware teen die pactum successorium (soos genoem ’n beperking op testeervryheid en die omseiling van testamentêre formaliteite), te betwis. Met verwysing na die uitsprake in die Oosthuizen- en Lotter-sake kom die outeurs tot die gevolgtrekking dat, gegewe die formaliteite verbonde aan die insluiting van ’n skikkingsooreenkoms in ’n egskeidingsbevel, sodanige ooreenkomste as ’n derde uitsondering op die streng verbod teen die erkenning van die pactum successorium beskou moet word.