Aantekeninge: A stay of legal proceedings in insolvency law: a reappraisal
Author: Patrick O’Brien and Yvette Joubert
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 122-143
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a7
Abstract
Beste internasionale praktyk verg dat die concursus creditorum wat teweeggebring word by die aanvang van insolvensieverrigtinge, regsgedinge teen die skuldenaar opskort ten opsigte van eise wat deel vorm van die concursus. Die Suid-Afrikaanse wetgewing wat hoofsaaklik insolvensie- en likwidasieverrigtinge beheers, is die Insolvensiewet 24 van 1936 en die Maatskappywet 61 van 1973. Albei wette kan vertolk word om gevolg te gee aan ’n algemene opskorting van regsgedinge teen die skuldenaar wanneer ’n concursus creditorum ontstaan. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse howe nie die wetgewing noodwendig op hierdie wyse vertolk nie. Beide wette verleen ’n grasietydperk na die ontstaan van ’n concursus creditorum waarbinne ’n skuldeiser die geleentheid gebied word om hangende regsgedinge voort te sit sonder toestemming van die hof. Die Maatskappywet brei hierdie geleentheid uit na die instelling van nuwe regsgedinge de novo. Daar is egter formaliteite waaraan die skuldeiser moet voldoen gedurende hierdie grasietydperk. Dit sluit in dat kennisgewing gegee moet word van die voorneme om die regsgeding voort te sit of in te stel aan die kurator, likwidateur of meester, afhangende van die omstandighede. Indien ’n skuldeiser nie gedurende die grasietydperk aan hierdie formaliteite voldoen nie, het die skuldeiser die toestemming van die hof nodig om die regsgeding voort te sit of in te stel, afhangende van die geval. Volgens die regspraak mag ’n kurator of likwidateur ook toestem tot die instel of voortsetting van die regsgeding. In die aantekening word die statutêre meganisme ontleed wat bestaan om kollektief die eise teen insolvente boedels en regspersone in likwidasie te bewys. Hierdie statutêre meganisme maak dit moontlik om baie vinniger en goedkoper die eise van skuldeisers te hanteer as wat die geval sou wees as regsgedinge ingestel of voortgesit word teen die skuldenaar. Die statutêre meganisme maak dit deurlopend moontlik vir skuldeisers om hulle na die howe te wend indien hulle nie daarin slaag om hulle eise af te dwing deur van die statutêre meganisme gebruik te maak nie. Die statutêre afdwingingsmeganisme raak dus geensins ’n skuldeiser se reg tot toegang tot howe nadelig nie. Die skuldeiser word voorts beskerm deur ’n spesiale reëling vervat in die Verjaringswet 68 van 1969 wat die afloop van verjaring uitstel terwyl die skuld die onderwerp is van ’n eis wat volgens die statutêre afdwingingsmeganisme gehanteer word. Met die aantekening doen die outeurs aan die hand dat, volgens internasionale praktyk, skuldeisers verplig moet wees om die statutêre afdwingingsmeganisme te gebruik indien hulle nie binne die grasietydperk aan die voorgeskrewe formaliteite voldoen vir voortsetting of instelling van regsgedinge nie. Alhoewel die Insolvensiewet slegs ’n redelike verskoning van ’n skuldeiser verg om ’n hangende regsgeding voort te sit indien daar nie binne die grasietydperk aan die formaliteite voldoen word nie, verg die Maatskappywet dat die hof alle faktore moet oorweeg om te besluit of die regsgeding ingestel of voortgesit mag word. Dit sluit in die belange van ander skuldeisers en die likwidateur. Die Engelse howe vra pertinent waarom die skuldeiser verkies om van ’n duur en uitgerekte regsgeding gebruik te maak, eerder as om in die kollektiewe belang van die skuldeisers gebruik te maak van die veel goedkoper en vinniger statutêre afdwingingsmeganisme. Daar word aan die hand gedoen dat Suid-Afrikaanse howe daardie benadering behoort te volg. Dit is die hooggeregshof by maatskappye en beslote korporasies, of die landdroshof by beslote korporasies, waar die geregistreerde kantoor van die betrokke regspersoon geleë is wat die nodige toestemming moet gee vir instelling of voortsetting van die regsgeding, ongeag die forum wat die geding moet aanhoor. Dit is so omdat die hof alle skuldeisers en likwidateurs se belange in ag moet neem by hierdie besluit, en nie net die belange van ’n spesifieke skuldeiser en die skuldenaar wat dalk deur ’n spesiale tribunaal (soos ’n arbitrasieliggaam of die arbeidshof) oorweeg moet word nie. Daar word ten slotte aan die hand gedoen dat die grasietydperk vir die instel of voortsetting van regsgedinge nie in ooreenstemming met beste internasionale praktyk is nie. Dit behoort tydens wetswysiging geskrap te word.