Administrative law and voluntary religious associations in South Africa: some reflections

Author: R Henrico

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor in the Department of Public Law and Jurisprudence, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 521-537
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a6

Abstract

Daar is in Suid-Afrika verskeie vrywillige godsdiensorganisasies. Hulle leerstellings het betrekking op geloofsgebaseerde aangeleenthede. Sodanige organisasies vervul ook funksies ten aansien van die bestuur van die kerk, die hiërargiese samestelling daarvan, administratiewe aangeleenthede, die gedragskode van lidmate en leraars en dissiplinêre optrede ingevolge huishoudelike tribunale. Die verhouding tussen die lidmate en die organisasie waartoe hulle hul vrywillig verbind het, is nie statutêr van aard nie. Die verhouding is gebaseer op die interne grondwet van die godsdienstige organisasie wat beteken dat die bevoegdhede wat byvoorbeeld uitgeoefen word deur dissiplinêre tribunale, gebaseer is op die instemming van die betrokkenes. Kragtens die bevoegdhede wat so verleen is, bestaan ’n ongelyke verhouding tussen die leierskap teenoor hulle lidmate en medeleraars. Dit bly egter ’n privaatregtelike verhouding en word geen publiekregtelike verhouding weens die magsverhouding nie. ’n Vergelyking kan gemaak word met administratiefregtelike verhoudings waar eweneens sprake van magsverhoudings is. Administratiewe verhoudings is openbare regsverhoudings, maar tog ook een van ongelykheid. Die staatsreg plaas die individu in ’n ondergeskikte verhouding teenoor die owerhede. ’n Lidmaat wat verontreg of gegrief is deur ’n besluit van die godsdienstige organisasie waarvan hy/ sy ’n lid is, kan sodanige besluit aanveg deur middel van die hersieningsprosedure waarvoor in die grondwet van die organisasie voorsiening gemaak word, maar kan ook bloot besluit om te bedank en uit die organisasie te tree. Dié bevoegdheid geniet ’n burger wat verontreg is deur ’n administratiewe vergryp van die owerheid, behoudens dan emigrasie, nie. Alhoewel die bevoegdhede wat binne ’n godsdienstige organisasie uitgeoefen word, gebaseer is op onderlinge instemming – en gereguleer behoort te word deur die interne grondwet van die vereniging – mag dit die moeite loon om kennis te neem van die beginsels van die administratiefreg in die lig van die omvang van gevestigde administratiewe regspleging. Die outeur ondersoek in hierdie artikel in die eerste plek private godsdienstige organisasies binne die bestek van die grondwetlike waarborge van indiwiduele en geassosieerde vryheid van godsdiens. Tweedens word gelet op die feit dat, nieteenstaande die private aard van die verhouding tussen lidmate en die vrywillige godsdienstige organisasie, ’n geregtelike hersiening van godsdienstige verenigings gebaseer op die gemenereg wel toepaslik mag wees. In ’n demokratiese bedeling leen nóg die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, nóg artikel 33 van die grondwet dit tot geregtelike hersiening van administratiewe optrede. Met inagneming van die horisontale toepassing van grondwetlike beginsels en artikel 39(2) en (3) in die handves van menseregte en die ongelyke verhouding tussen die partye, ontstaan die vraag of breër verligting deur middel van administratiewe regspleging nie moet seëvier in gevalle van sodanige “private administratiewe regspleging” nie. Ten slotte ondersoek die outeur die beginsel van vermyding van leerstellige verstrengeling. Dit onderstreep die respek wat ons howe verleen aan godsdiensvryheid waarkragtens die howe hulle daarvan weerhou om in te meng in die sake van godsdienstige organisasies tensy dit buite die bestek van die tersake eie norme en riglyne soos vervat in die tersake grondwette val.