An analysis of the preclusion rule in documentary credit practice with specific reference to the position of nominated and confirming banks

Authors: Charl Hugo and Cayle Lupton

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Emeritus Professor of Banking Law, University of Johannesburg; Senior Lecturer, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2023, p. 235 – 248
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i2a3

Abstract

’n Dokumentêre kredietbrief (ook bekend as ’n kredietbrief) is ’n betaalmetode wat wyd in internasionale handelstransaksies gebruik word. Die hoofpartye tot ’n dokumentêre kredietbrief is die aansoeker (tipies die koper in die handelstransaksie), die begunstigde (verkoper) en die uitreikingsbank. Weens die internasionale aard van die transaksie kan verdere banke egter betrokke raak, insluitend ’n genomineerde bank en ’n bevestigende bank.

Betaling in dokumentêre kredietpraktyk kan op verskeie maniere gereël word. In alle gevalle spruit dit egter voort uit die aanbieding van dokumente in ooreenstemming met die vereistes van die dokumentêre kredietbrief. Die aanbieder van die dokumente kan die begunstigde van die dokumentêre kredietbrief wees, of dit kan ’n genomineerde of bevestigende bank wees. Wanneer ’n bank dokumente ontvang (of dit nou die uitreikende bank, genomineerde bank of bevestigende bank is) moet dit die dokumente ondersoek om te bepaal of dit aan die vereistes voldoen. Indien die dokumente nie daaraan voldoen nie, kan die bank weier om te betaal. So ’n weiering moet by wyse van ’n kennisgewing van weiering aan die aanbieder van die dokumente gekommunikeer word.

Voorgaande blyk uit die internasionale reëls wat altyd kredietbriewe beheer, naamlik die Eenvormige Gebruike en Praktyke vir Dokumentêre Krediete wat deur die bankkommissie van die Internasionale Kamer van Koophandel geformuleer is. Die reëls gaan egter verder en maak voorsiening vir ’n sogenaamde “uitsluitingsreël” wat in wese inhou dat, indien ’n bank nie sy weiering binne die gespesifiseerde tyd aan die aanbieder meedeel nie, die bank verhinder word om te beweer dat die dokumente nie voldoen aan die vereistes vir aanbieding nie. In sodanige geval is die bank aanspreeklik teenoor die begunstigde van die dokumentêre krediet ten spyte van die onvoldoende aanbieding. In gevalle waar op die uitsluitingsreël deur die begunstigde vir betaling onder die dokumentêre krediet staatgemaak word, kan die reël relatief maklik toegepas word.

Dit raak egter problematies wanneer daarop staatgemaak word deur ’n genomineerde of bevestigende bank wat terugbetaling van ’n uitreikende bank soek vir ’n betaling wat deur die genomineerde of bevestigende bank aan die begunstigde van die dokumentêre kredietbrief gemaak is. Die outeurs ondersoek hierdie kwessie teen die agtergrond van ’n stel feite wat onlangs in Suid-Afrika na vore gekom het.