Regspraak: Appeal will not remedy a guilty plea presented for the wrong reasons
Regspraak: Appeal will not remedy a guilty plea presented for the wrong reasons
Author: Murdoch Watney
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 367-374
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a11
Abstract
Met aankoms op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe in Windhoek, Namibië verskaf twee senior advokate van die Johannesburg balie vals inligting aan die immigrasiepersoneel van die buurland oor die rede vir hul besoek aan die land. Die eerste appellant het aangedui dat hy die land wil binnekom vir ’n besoek, terwyl die tweede appellant aangedui het dat hy ’n vergadering kom bywoon. Beide se oogmerk was egter om Namibiese kliënte in ’n borgaansoek in die landdroshof te verteenwoordig. Op grond van hul mededelings is besoekerspermitte aan beide uitgereik. Beide appellante is die volgende dag by die landdroshof waar hulle namens kliënte wou verskyn, gearresteer.
Met hul verskyning laat dieselfde Vrydagmiddag in die Windhoek landdroshof, pleit beide appellante skuldig op twee aanklagte van oortreding van artikels 29(5) en 54(e) van die Namibiese Immigration Control Act 7 van 1993. Beide word na behore deur die landdros ondervra ingevolge artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet 51 van 1977 en ná skuldigbevinding gevonnis tot betaling van boetes met gevangenisstraf as alternatief.
Die appellante appelleer teen die skuldigbevindings en vonnisse na die Namibiese hoë hof en ná afwysing van die appèl, na die hooggeregshof. Die eerste grond van appèl handel oor die interpretasie van artikel 29(5) van die Immigration Control Act. Die appellante voer aan dat ’n enkele verskyning in ’n borgaansoek nie aangemerk kan word as die bedryf van ’n professie as advokaat soos bedoel in die immigrasiewetgewing nie. As sodanig sou na bewering ’n besoekerspermit voldoende wees en sou ’n werkpermit nie vereis word om die land binne te kom om in slegs ’n enkele saak te verskyn nie. As tweede grond is aangevoer dat beide appellante in besit was van ’n sertifikaat uitgereik deur die Namibiese hoofregter waarin toestemming ingevolge artikel 85(2) van die Legal Practitioners Act 15 van 1995 verleen is vir hul verskyning in die Namibiese hof. Die appellante versoek dat die skuldigbevindings en vonnisse ter syde gestel word en die aangeleentheid na die landdroshof terugverwys word vir ’n de novo verhoor. Die appellante dui aan dat hulle skuldig gepleit het vanweë druk wat uit die omringende omstandighede ontstaan het en veral weens vrees dat hulle oor die naweek in hegtenis aangehou sou word.
Die hoogste hof dui aan dat die artikel 85(2)-sertifikaat nooit aan die landdroshof voorgelê is nie en dat die hof van appèl nie geregtelik kennis kan neem van die bestaan daarvan nie. Die hof verwerp ook die appellante se betoog dat die landdros onreëlmatig, onbillik en onkonstitusioneel teenoor hulle gehandel het.
Uit die uitsprake van die twee howe van appèl blyk dit dat die appellante bewus was van die interpretasie wat die Namibiese immigrasiebeamptes heg aan die betrokke immigrasiewetgewing en dat daar vereis sou word dat die appellante vooraf aansoek moes doen vir werkpermitte. Ten spyte van hierdie besef het die appellante doelbewus wanvoorstellings aan die immigrasiebeamptes gedoen en op sterkte van besoekerspermitte en sertifikate uitgereik deur die hoofregter voortgegaan om hul kliënte te verteenwoordig. Met hul arrestasie op oortreding van die immigrasiewetgewing is die appellante uiteraard as verbode immigrante in hegtenis geneem en aangehou.
Die keuse was in die oë van die twee aangehoudenes om óf die vertolking van die immigrasiewetgewing in die hof te laat toets by wyse van ’n verhoor óf om skuldig te pleit en die aangeleentheid sodoende spoedig af te handel. Aangesien daar uiteraard geen waarborg kon wees vir die tydperk van aanhouding in hegtenis vir die duur van ’n verhoor nie, het die appellante besluit om die laaste uitweg te volg en die aangeleentheid daarna op appèl te probeer beredder. Hierdie benoude spronge het egter geen byval gevind in enige van die appèlhowe nie en die appèlle is tereg van die hand gewys.