Regspraak: Appeal will not remedy a guilty plea presented for the wrong reasons

Regspraak: Appeal will not remedy a guilty plea presented for the wrong reasons

Author: Murdoch Watney

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 367-374
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a11

Abstract

Met aankoms op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe in Windhoek, Namibië verskaf twee senior advokate van die Johannesburg balie vals inligting aan die immigrasiepersoneel van die buurland oor die rede vir hul besoek aan die land. Die eerste appellant het aangedui dat hy die land wil binnekom vir ’n besoek, terwyl die tweede appellant aangedui het dat hy ’n vergadering kom bywoon. Beide se oogmerk was egter om Namibiese kliënte in ’n borgaansoek in die landdroshof te verteenwoordig. Op grond van hul mededelings is besoekerspermitte aan beide uitgereik. Beide appellante is die volgende dag by die landdroshof waar hulle namens kliënte wou verskyn, gearresteer.
Met hul verskyning laat dieselfde Vrydagmiddag in die Windhoek landdroshof, pleit beide appellante skuldig op twee aanklagte van oortreding van artikels 29(5) en 54(e) van die Namibiese Immigration Control Act 7 van 1993. Beide word na behore deur die landdros ondervra ingevolge artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet 51 van 1977 en ná skuldigbevinding gevonnis tot betaling van boetes met gevangenisstraf as alternatief.
Die appellante appelleer teen die skuldigbevindings en vonnisse na die Namibiese hoë hof en ná afwysing van die appèl, na die hooggeregshof. Die eerste grond van appèl handel oor die interpretasie van artikel 29(5) van die Immigration Control Act. Die appellante voer aan dat ’n enkele verskyning in ’n borgaansoek nie aangemerk kan word as die bedryf van ’n professie as advokaat soos bedoel in die immigrasiewetgewing nie. As sodanig sou na bewering ’n besoekerspermit voldoende wees en sou ’n werkpermit nie vereis word om die land binne te kom om in slegs ’n enkele saak te verskyn nie. As tweede grond is aangevoer dat beide appellante in besit was van ’n sertifikaat uitgereik deur die Namibiese hoofregter waarin toestemming ingevolge artikel 85(2) van die Legal Practitioners Act 15 van 1995 verleen is vir hul verskyning in die Namibiese hof. Die appellante versoek dat die skuldigbevindings en vonnisse ter syde gestel word en die aangeleentheid na die landdroshof terugverwys word vir ’n de novo verhoor. Die appellante dui aan dat hulle skuldig gepleit het vanweë druk wat uit die omringende omstandighede ontstaan het en veral weens vrees dat hulle oor die naweek in hegtenis aangehou sou word.
Die hoogste hof dui aan dat die artikel 85(2)-sertifikaat nooit aan die landdroshof voorgelê is nie en dat die hof van appèl nie geregtelik kennis kan neem van die bestaan daarvan nie. Die hof verwerp ook die appellante se betoog dat die landdros onreëlmatig, onbillik en onkonstitusioneel teenoor hulle gehandel het.
Uit die uitsprake van die twee howe van appèl blyk dit dat die appellante bewus was van die interpretasie wat die Namibiese immigrasiebeamptes heg aan die betrokke immigrasiewetgewing en dat daar vereis sou word dat die appellante vooraf aansoek moes doen vir werkpermitte. Ten spyte van hierdie besef het die appellante doelbewus wanvoorstellings aan die immigrasiebeamptes gedoen en op sterkte van besoekerspermitte en sertifikate uitgereik deur die hoofregter voortgegaan om hul kliënte te verteenwoordig. Met hul arrestasie op oortreding van die immigrasiewetgewing is die appellante uiteraard as verbode immigrante in hegtenis geneem en aangehou.
Die keuse was in die oë van die twee aangehoudenes om óf die vertolking van die immigrasiewetgewing in die hof te laat toets by wyse van ’n verhoor óf om skuldig te pleit en die aangeleentheid sodoende spoedig af te handel. Aangesien daar uiteraard geen waarborg kon wees vir die tydperk van aanhouding in hegtenis vir die duur van ’n verhoor nie, het die appellante besluit om die laaste uitweg te volg en die aangeleentheid daarna op appèl te probeer beredder. Hierdie benoude spronge het egter geen byval gevind in enige van die appèlhowe nie en die appèlle is tereg van die hand gewys.

Regspraak: The trade and production of income requirements for the deductibility of interest

Regspraak: The trade and production of income requirements for the deductibility of interest

Author: Thabo Legwaila

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 374-386
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a12

Abstract

Ten einde ’n rente uitgawe wat voortspruit uit ’n skuldinstrument te kan aftrek, moet ’n belastingbetaler aan beide die vereistes van “in beoefening van ’n bedryf” en “die voortbrenging van inkomste” voldoen. Die beoefening van ’n bedryf-vereiste behels dat die belastingbetaler moet aantoon dat hulle ’n positiewe stap geneem het, nie bloot ’n passiewe rol vertolk nie. Ten einde aan die voortbrenging van inkomste-vereiste te voldoen, moet die belastingbetaler aantoon dat die uitgawe nou verwant is aan die voortbrenging van inkomste soveel so dat dit as deel daarvan geag kan word. Alhoewel die algemene aftrekkingsformule vereis dat die belastingbetaler ’n bedryf moet uitoefen en die uitgawe vir doeleindes daarvan aangegaan moes wees, vereis die spesiale reëls betreffende die aangaan en toevalling van rente, sowel as die insluiting en aftrekbaarheid van rente, soos vervat in artikel 24J van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962, nie so ’n skakel nie.
Die belastingbetaler in Unitrans Holdings Ltd v CSARS ((A3094/2022) 2024 ZAGPJHC 3 (9 Jan 2024)) het probeer om meer as wat nodig was aan te toon om ’n aftrekking te eis, naamlik dat dit ’n bedryf as ’n geldskieter beoefen het, terwyl dit voldoende sou wees om aan te dui dat dit ’n bedryf, enige bedryf, beoefen het. Hierdeur het die belastingbetaler ’n risiko geloop om die geskil op die vraag van die beoefening van ’n bedryf te verloor, maar het eintlik die saak verloor omdat daar nie bewys is dat die rente-uitgawes aangegaan was in die voortbrenging van inkomste nie. Alhoewel die bedoeling om ’n wins te maak nie ’n vereiste vir die beoefening van ’n bedryf is nie, ontken die gebrek daaraan die doel van die voortbrenging van inkomste. ’n Direkte skakel tussen die uitgawe en die voortbrenging van inkomste word steeds vereis. Indien daardie skakel nie bestaan nie, of gebreek is, is die uitgawe nie aftrekbaar nie. Dit is ook die geval waar die uitgawe, soos in casu, bedoel is om belastingvrye inkomste voort te bring.
Die Suid Afrikaanse Inkomste Diens se voorneme om die praktyk te staak om rente-aftrekkings toe te laat op geleende geld wat teen ’n hoër of laer rentekoers herleen word, beklemtoon die belang van artikel 24J van die wet en die nakoming van die reëls daarvan.

Regspraak: “A veritable cesspool of lawlessness”: upholding impartiality and decorum in South African judgments

Regspraak: “A veritable cesspool of lawlessness”: upholding impartiality and decorum in South African judgments

Author: Marno Swart

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Cambridge
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 386-396
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a13

Abstract

Die onpartydige beslegting van geskille deur die regbank is ’n grondliggende kenmerk van ’n legitieme en beskaafde regsisteem. Hierdie beginsel is onheuglik tot die Suid-Afrikaanse reg en ontspruit uit die Romeins-Hollandse stelreël nemo iudex in sua causa potest (niemand is geskik om as ’n regter in hul eie saak op te tree nie). Sedert 1996 word regterlike onpartydigheid deur die grondwet onderskryf wat, tesame met die gemenereg en ’n ryk regspraak, regterlike onpartydigheid reël.
Dit is oor die algemeen onbetwis dat misdadigheid en korrupsie deesdae in Suid-Afrika gedy. Voorsittende beamptes word, uit hoofde van hul amp, waarskynlik nog meer blootgestel aan dié realiteit as die deursnee-Suid-Afrikaner. Hierdie blyk duidelik vanuit ’n onlangse uitspraak in die Gauteng afdeling van die hooggeregshof te Pretoria, waar hierdie ongelukkige toedrag van sake gekritiseer word in ’n meestal obiter dicta relaas, wat nouliks verband hou met die aangeleentheid onder besleg.
Dié aantekening neem die uitspraak in die Mogoai-saak krities in oënskou en voer aan dat die opperheerskappy van die reg as kernbeginsel – asook die onafhanklike funksionering van die Suid-Afrikaanse howe as deel van die trias politica – vereis dat hofuitsprake onpartydig, behoorlik deurdag en gepas moet wees tot die dekorum van (formele) regsverrigtinge. Ten eerste analiseer die aantekening die uitspraak van waarnemende regter Ngalwana om vas te stel wat die regsvraag is waaroor besleg moes word, asook om uit te lig waar die grense van ’n behoorlike, onpartydige uitspraak oortree word. Daarna kontekstualiseer die aantekening die normatiewe regsbeginsels binne die regsprofessie ten einde hofuitsprake te kategoriseer as ’n besondere genre van (formele) skryfwerk. Laastens, word die uitspraak in die Mogoai-saak gejukstaponeer teen die uitgelegde normatiewe bepalings en word aan die hand gedoen dat voorsittende beamptes selfbeheersing aan die dag moet lê en berekend moet wees by die skryf van hofuitsprake (en hofverrigtinge oor die algemeen). Dit verseker dat die integriteit en waardigheid van die regbank bewaar, en die opperheerskappy van die reg gehandhaaf word.
Hierdie aantekening bespreek uitsluitlik die wyse waarop die hof sy uitspraak uitdruk in die Mogoai-saak. Die meriete van die onderskeie partye se sake, en die beslissing aan die hand daarvan, word nie bespreek nie. Hierdie aantekening voer aan dat die waarnemende regter die grense van sy amp oortree en as’t ware ’n partydige toespraak (eerder as ’n uitspraak) gelewer het. Die gevolg van die irrelevant-polemiese uitspraak is ’n verwarrende en swak beredeneerde ratio wat nie in belang van geregtigheid is nie.

Lessons to be learned from the German Modernising Apartment Ownership Act of 2020 (WEMoG 2020) on structural alterations to a scheme building with an emphasis on the promotion of electromobility by the installation of charging stations for electrical vehicles

Lessons to be learned from the German Modernising Apartment Ownership Act of 2020 (WEMoG 2020) on structural alterations to a scheme building with an emphasis on the promotion of electromobility by the installation of charging stations for electrical vehicles

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Fellow, Department of Private Law, University of Stellenbosch, Emeritus Professor in Civil Law, University of Aberdeen and the Law Faculty, University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 1-19
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a1

Abstract

Ingevolge artikel 20(1) van die Duitse Moderniserende Deeltitelwet (Wohnungseigentumsmodern­isierungsgesetz WEMoG) mag deeleienaars struktuurveranderinge aan die deeltitelgebou aanbring wat instandhouding en herstelwerk aan die gebou oorskry. Dit kan gedoen word deur hetsy ’n besluit op ’n algemene vergadering geneem deur twee derdes van die deeleienaars aanwesig op daardie vergade-ring wat meer as die helfte van die totale mede-eiendomsaandele in die gemeenskaplike eiendom het óf deur ’n gewone meerderheidsbesluit wat ’n individuele deeltiteleienaar magtig om die verandering te onderneem. Ingevolge artikel 20(2) van die Duitse Moderniserende Deeltitelwet kan ’n deeleienaar of huurder aanspraak maak op struktuurveranderinge aan die gebou vir die aanleg van laaigeriewe vir elektriese voertuie, die verwydering van gedeeltes van die gebou wat die bewegingsvryheid van be­jaarde persone of persone met ’n fisiese gestremdheid aan bande lê, struktuurveranderinge wat inbreuk in deeltiteleenhede hokslaan en wat die opvang van die internet in eenhede verbeter. Ingevolge artikel 20(4) mag struktuurveranderinge wat ’n residensiële skema prinsipieel herontwerp of wat een deeleie­naar ongeregverdig sonder sy toestemming teenoor die ander deeleienaars benadeel nie toegelaat word of deur ’n eienaar of huurder aangevra word nie. Betreffende elektromobiliteit word die lede van die bestuursliggaam ingevolge die bogenoemde super meerderheidsbesluit toegelaat om ’n laaigerief teen die buitemuur van die gebou te installeer (wall box) en dit deur elektriese kabels aan die bestaande kragbron te verbind.

In beginsel dra die deeleienaar die koste van die struktuurverandering wat hy of sy aanbring of wat namens hom of haar deur die bestuursliggaam aangebring word en is hy of sy alleenlik geregtig om die verandering te benut. Indien die lede deur ’n superbesluit die verandering goedgekeur het, word die koste verbonde aan die verandering proporsioneel volgens hulle mede-eiendomsaandeel tussen al die lede van die bestuursliggaam verdeel en mag hulle die verandering dienooreenkomstig gebruik. Slegs in die geval waar die koste verbonde aan die verandering onproporsioneel is tot die voordele wat die verandering meebring en waar die koste nie binne ’n redelike tyd afbetaal sal kan word nie, hoef die lede wat teen die besluit gestem het, nie by te dra tot die koste nie. Hierdie lede mag egter later deur betaling van ’n vasgestelde bedrag bydra tot die koste van die verandering om sodoende medegebruik van die verandering byvoorbeeld die herlaaigerief of kragopwekkingseenheid te verkry.

Volgens die Suid-Afrikaanse Regulasies ingevolge die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas sal slegs struktuurveranderinge wat elektromobiliteit bevorder in luukse deeltitelskemas geklassifiseer word as veranderings wat redelik noodsaaklik is. Sodanige verandering sal egter slegs aangebring kan word indien die trustees die lede vir 30 dae vooraf skriftelik ingelig het omtrent die totale koste van die voorgenome verandering, hoe die regspersoon die koste gaan betaal, wat die effek van die verandering sal wees en hoekom dit noodsaaklik is. Indien enige lid tydens die 30 dae aandui dat ’n spesiale vergadering omtrent die aangeleentheid byeengeroep moet word, moet die trustees die vergadering belê en kan die verandering slegs deurgevoer word indien dit bekragtig word deur ’n spesiale besluit.

Gedragsreël 4(2) bepaal dat die eienaar of okkupeerder van ’n deel geag word toestemming van die trustees te verkry het om ’n sluit- of veiligheidstoestel te installeer ten einde bewoners teen indringers te beskerm of ’n vensterskerm aan te bring wat diere en insekte verhoed om die deel binne te kom. Hierdie struktuur ter beskerming moet behoorlik aangebring word en moet ooreenstem met die ontwerp, kleur, en materiaal wat skriftelik deur die trustees goedgekeur is.

Daar is geen gesag in die Suid-Afrikaanse reg betreffende struktuurveranderinge wat die verwydering van gedeeltes van die gebou wat die bewegingsvryheid van gestremde persone aan bande lê, of die verbetering van internetontvangs van deeltiteleienaars magtig nie.

Ten einde tred te hou met die omgewingskrisis, die wêreldwye bevordering van elektromobiliteit, die beskerming van die regte van persone met gebreke, die beskerming van dele teen inbrake en die verbetering van internetontvangs van dele, sal die Suid-Afrikaanse wetgewer moet besluit watter van die Duitse maatreëls oor struktuurveranderinge nagevolg moet word en of verdere gevalle soos die oprigting van sonkragopwekkingstasies ook geprivilegeer moet word. Weens die omslagtige manier waarop eienaars of huurders van deeltiteleenhede in die Duitse Moderniserende Wet geprivilegeer word, verkies ek die benadering van die Oostenrykse wetgewer wat die toestemming van al die eienaars tot die struktuurveranderinge onder sekere omstandighede veronderstel.

Die 2023 Oostenrykse wetgewing standaardiseer die bepalings vir die oprigting van gemeenskaplike kragopwekkingstasies om te voorkom dat oprigting van individuele kragstasies in die weg staan van gemeenskaplike opwekkingstasies.

Wind farms and fantasy dinners

Wind farms and fantasy dinners

Author: A Firth

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Non-resident Teacher for Intellectual Property and Knowledge Management for the Master’s Programme at Maastricht University; Visiting Professor, Newcastle Law School; Professor Emeritus in Law, University of Surrey
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 20-30
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a2

Abstract

Immaterieel goedereregte vorm deel van die vermoënsregte en is as sodanig boedelbates met ’n potensiële ekonomiese waarde. Saam met ander vermoënsbates kan dit ’n bousteen vorm van ’n kapitalistiese besigheidsmodel wat wins najaag ook uit verbruikbare bates. Die tipiese kenmerke van die post-industriële fase met die kenmerkend hoë persentasie aan vermorsing van hulpbronne kan ook ten aansien van die immateriële goedereregte negatief druk uitoefen op toekomstige geslagte. ’n Toekomstige verandering in ingesteldheid wég van die maklike wegsmyt en vervanging van alle gebruikte toerusting ná ’n era van gewaardeerde hergebruik of herwinning van waardevolle grondstowwe teen die toenemende vermorsing van skaars hulpbronne stuit teen gevestigde immaterieel goedereregte wat waak teen aanklamping en namaaksels. Plagiaat maak by ontstentenis van ’n toegekende lisensie vir gereguleerde benutting van die beskermde immateriële belang direk inbreuk op belange van die patentreghebbende of die outeur of komponis van die beskermde werk.

In hierdie bydrae reageer die outeur op temas wat tydens ’n ius commune-werkswinkel aangebied aan die Universiteit te Maastricht oor grensverskuiwende tegnologie en ’n sirkel-ekonomie gehou is. In plaas daarvan om die standaard liniêre ekonomiese model na te volg van verbruik en verwerking van grondstowwe en uiteindelik vermorsende afval, moedig ’n sirkel ekonomie die deel, hergebruik en herbestemming van bates aan. In die bydrae word twee uitsprake bespreek waarin volgens die tersake wetgewing van die Verenigde Koninkryk uitspraak gelewer is en waarin die gedagte onderliggend aan deel en herbestemming van immateriële bates ter uiting kom.

In die eerste saak, Siemens Gamesa Renewable Energy A/S v GE Energy (UK) Limited, is die hergebruik en deel deur middel van kruisverwysing van formulerings benut in verdrag- en wetstekste ontrafel om te beslis of die Britse oktrooi- of patentreg ook toepassing vind met betrekking tot ’n windplaas wat aangelê is buite die gebiedswaters van Groot Brittanje. Die regbank beslis dat die patentwetgewing van Groot Brittanje nie uitgebrei is en van toepassing is op die deel van die seegebied wat kragtens die seereg as eksklusiewe ekonomiese sone tussen het Verenigde Koninkryk en die Europese Vasteland geleë is nie. Daar is egter beslis dat dit wel strek tot die kontinentale plaat wat dieselfde oppervlakte insluit. Die twee sones gee eksklusiewe bevoegdhede oor verskillende aldaar te vinde natuurlike hulpbronne.

Die tweede saak, Shazam Productions Ltd v Only Fools The Dining Experience Ltd, handel oor die herbestemming van persoonlikhede, insidente, grappe en kwinkslae ontleen aan ’n gewilde televisiereeks “Only Fools and Horses”. Die hof beslis vir die eerste keer in die Engelse reg dat outeursreg wel insluit die beskerming van die fiktiewe persoonlikhede soos dit beskerming bied aan die hele werk waarmee dit vereenselwig word. In die proses kom ook ter sprake tot welke mate die verweer van eerlike hantering van die idee vir doeleindes van parodie, pastiche en karikatuur steek hou. In geskil was of die outeursreg van toepassing op die televisiereeks verhinder dat die onderliggende idee herbenut kan word deur ’n ander vir eie gewin.