“Beneficial owner” and “beneficial ownership” in South African trust law: troublesome aspects of the General Laws (Anti-Money Laundering and Combating Terrorism Financing) Amendment Act 22 of 2022

“Beneficial owner” and “beneficial ownership” in South African trust law: troublesome aspects of the General Laws (Anti-Money Laundering and Combating Terrorism Financing) Amendment Act 22 of 2022

Authors: Francois Du Toit, Bradley Smith and Louis Janse Van Vuren

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Private Law, University of Cape Town; Senior Lecturer: Research, The IIE’s Varsity College, South Africa; Extraordinary Professor of Private Law, University of the Free State; Chief Executive Officer, Fiduciary Institute of Southern Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 387 – 405
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a1

Abstract

Die Wysigingswet op Algemene Wette (Teengeldwassery en Bekamping van Terrorismefinansiering) 22 van 2022 is op 29 Desember 2022 bekragtig. Dié wet wysig, met 1 April 2023 as die inwerkingtredingsdatum van al hierdie wysigings, die Wet op die Beheer oor Trustgoed 57 van 1988 in verskeie opsigte. In hierdie bydrae neem ons twee wysigings onder die loep, naamlik die invoeging van ’n definisie van “uiteindelik geregtigde” (“beneficial owner”) in artikel 1 van Wet 57 van 1988 asook die vaslegging van die idee van “uiteindelike geregtigheid” (“beneficial ownership”) in artikel 11A van daardie wet.  Ons voer aan dat beide toevoegings onvanpas is in die Suid-Afrikaanse trustreg aangesien dit nie strook met meerdere van die grondbeginsels van die Suid-Afrikaanse trustreg nie. Ons wys in die besonder daarop dat die wetgewer se gebruik van “uiteindelik geregtigde” en “uiteindelike geregtigheid”: (i) onder inhoudelike onsekerheid gebuk gaan; (ii) nie strook met sommige van Wet 57 van 1988 se bepalings nie, by uitstek die definisie van “trust” in artikel 1 en ’n trustee se sorgplig ingevolge artikel 9; (iii) oënskynlik berus op ’n mistasting oor die regsaard van ’n trust asook die aanvaarde regsbeginsels rakende die misbruik van die trustvorm en skyntrusts en (iv) die gevaar inhou van die voortydige verkryging van regte deur trustbegunstigdes. Ons argumenteer derhalwe dat die wetgewer se gebruik van “uiteindelik geregtigde” en “uiteindelike geregtigheid” in die wysigingswet en Wet 57 van 1988 teoretiese en praktiese onsekerhede skep wat nie alleen die begripsmatige onderbou en samehang van die Suid-Afrikaanse trustreg skaad nie, maar ook dermate uit pas is met sommige van die bestaande wet se bepalings dat hierdie wysigings bykans onmoontlike verpligtinge ten opsigte van die insameling, vaslegging en verslagdoening van inligting (ter nakoming van die – weliswaar prysenswaardige – oogmerke van die wysigingswet) op trustees plaas. Ten einde hierdie kwessies aan te spreek, doen ons ’n alternatiewe – en onses insiens werkbare – wetsbepaling aan die hand wat, alhoewel dit grootliks op die bestaande bewoording van die tersake bepalings van die wysigingswet gegrond is, wegdoen met “uiteindelik geregtigde” en “uiteindelike geregtigheid” terwyl dit steeds uitvoering aan die oogmerke van die wysigingswet gee. Die voorgestelde wetsbepaling spreek in die besonder die problematiek aan met betrekking tot die besit van of doelmatige beheer oor trustbates – wat sentraal tot die idee van ’n “uiteindelik geregtigde” staan. Dit beperk die voorskrifte oor die besit van of doelmatige beheer oor trustbates tot gevalle waarin trustees sinvolle uitvoering aan die tersake wetsbepaling kan gee.

The use of artificial intelligence in international commercial arbitration in South Africa: prospects and challenges

The use of artificial intelligence in international commercial arbitration in South Africa: prospects and challenges

Author: Solomon Okorley

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Academic Assistant, Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, Faculty of Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 406 – 423
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a2

Abstract

Sedert die opkoms van kunsmatige intelligensie is die impak daarvan in die meeste sektore van die ekonomie gevoel, wat die gesondheidsektor, media en kommunikasiesektor, finansies, landbou en, mees opvallend, die motorbedryf insluit. Dit word gemanifesteer in die vervaardiging van outonomiese voertuie wat as noodsaaklik beskou word in die Vierde Nywerheidsrevolusie. Die regsprofessie is geen uitsondering tot die impak van kunsmatige intelligensie nie.  Suid-Afrika se strewe om kunsmatige intelligensie in sy ekonomie te integreer, word gesien in die vestiging van die Presidensiële Kommissie oor die Vierde Industriële Rewolusie. Suid-Afrika se oogmerk om die voorkeur bestemming te wees vir die oplossing van internasionale kommersiële geskille via arbitrasie het gelei tot die afkondiging van die Wet op Internasionale Arbitrasie 15 van 2017.  Hierdie artikel oorweeg die gebruik van kunsmatige intelligensie in internasionale handelsarbitrasie in Suid-Afrika. Dit kan die vorm aanneem van kunsmatige intelligensie wat óf as die arbiter óf as deel van die arbitrasiepaneel dien. Daarbenewens kan kunsmatige intelligensie-gebaseerde toestelle help met die arbitrasieproses, soos: die keuse van arbiters; die samevatting en analisering van partye se indienings en die wet; regsnavorsing en die opstel van arbitrasie-uitsprake. Die beoogde probleme wat met hierdie inisiatief gepaard gaan, sluit in die skep van tegnologiese werkloosheid, die probleem van vooroordeel, delegering en moeilikheid in die toewysing van aanspreeklikheid.  Om hierdie probleme op te los, word aanbeveel dat die huidige regsraamwerk van internasionale kommersiële arbitrasie gewysig word om kunsmatige intelligensie in sy regsargitektuur op te neem. Op nasionale vlak sal dit die wysiging van die Wet op Internasionale Arbitrasie behels. Alternatiewelik kan die Modelwet van die Verenigde Nasies se Kommissie vir Internasionale Handelsreg van 1985 op internasionale vlak gewysig word om hierdie moontlikheid te weerspieël. Daar is ook die behoefte aan die opvoeding van burgers oor kunsmatige intelligensie, die toerusting van die werksmag met kunsmatige intelligensie-vaardighede, en die belegging in kunsmatige intelligensie-infrastruktuur. Dit sal help om die volle voordele van die gebruik van kunsmatige intelligensie in internasionale kommersiële arbitrasie te benut en die struikelblokke wat met hierdie innovasie gepaard gaan te verminder.

Mind the misnomer: juxtaposing discriminatory intent with motive in relation to grievous religious persecution

Mind the misnomer: juxtaposing discriminatory intent with motive in relation to grievous religious persecution

Author: Werner Nicolaas Nel

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, Faculty of Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 424 – 458
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a3

Abstract

Verskeie hedendaagse verskynsels van massa-diskriminerende gruweldade word óf in die naam van godsdiens óf op grond van die slagoffers se godsdienstige identiteit gepleeg. Gevolglik kan die vryheid om ’n godsdiens te kies en in die naam daarvan op te tree ’n tweeledige effek hê in die konteks van die internasionale strafreg, oënskynlik in terme van die onderskeid tussen “godsdiensgebaseerde vervolging” en “godsdiensgemotiveerde vervolging”. Dit is daarom ’n wanopvatting dat godsdienstige onverdraagsaamheid (vooroordeel gebaseerde godsdienstige motief) die katalisator is vir sulke massa-diskriminerende gruweldade. Dit is meer akkuraat om, waar van toepassing, te onderskei tussen vervolgingsvergrype wat gemotiveer is deur godsdiens en vervolgingsvergrype gebaseer op die slagoffers se godsdienstige oortuigings. Alhoewel beide verskynsels betreurenswaardige dade van miskenning van gelykheid en menswaardigheid is, kan beide gepleeg word sonder ’n onderliggende godsdienstige onverdraagsaamheid. Terwyl eersgenoemde oorwegend gepaard gaan met waarom die vervolging gepleeg is (godsdiens as die katalisator van motief), oorweeg laasgenoemde teen wie die vervolging gerig was (godsdiens as die identifiserende element). Dit is gebaseer op die onderskeid tussen die mens rea-elemente van “opset” en “motief”, wat nie uitgeklaarde konsepte is wat ’n eenvoudige, duidelike onderskeid toelaat nie. Trouens, motief word oor die algemeen beskou as irrelevant in die vasstel van strafregtelike aanspreeklikheid vanweë die sui generis-aard daarvan, wat kompleks, veelvuldig en onderling verwant kan wees. Godsdiensmotief en godsdiensgerigte diskriminerende opset vervleg egter dikwels – veral met godsdienstige onverdraagsaamheid – in welke geval ’n onderskeid tussen motief en opset kunsmatig en oorbodig is. Kwansuis is “motief” egter van belang om die aard van vervolgingsvergrype te verstaan. Gevolglik stel die artikel die diskriminerende opset om te vervolg naas die motief vir vervolgingsvergrype om sodoende die rol van godsdiens in die konseptualisering van godsdiensgebaseerde vervolging as ’n misdaad teen die mensdom in terme van die Statuut van Rome (sogenaamde “gruwelike godsdiensgebaseerde vervolgingsvergrype”) te verduidelik.

The standard of proving an investor is corrupt in international investment arbitration: red flag or red handed?

The standard of proving an investor is corrupt in international investment arbitration: red flag or red handed?

Author: L Koen

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Lecturer, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 459 – 475
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a4

Abstract

Korrupsie het toenemend ’n alomteenwoordige probleem geword wat internasionaal tot verhoogde oproepe gelei het om hierdie probleem aan te spreek. In ’n Suid-Afrikaanse konteks kom voorbeelde van korrupsie baie voor, insluitend gevalle van omkopery, tenderbedrog en ongemagtigde staatsuitgawes. Die wêreld van belegger-staatarbitrasie is nie gespaar van die effek of voorkoms van korrupsie nie. In die afgelope paar jaar het beskuldigings van korrupsie toenemend ’n algemene grondslag vir eise deur beleggers in beleggingsarbitrasie geword. In dié gevalle beweer beleggers dat korrupsie ’n faktor was wat bygedra het tot hul verlies as beleggers of tot onteiening gelei het. Beskuldigings van korrupsie is egter nie beperk tot beleggers nie. Ook state voer die verweer van beleggerkorrupsie in beleggingsarbitrasie aan. Hierdie verweer word tipies namens state geopper om te beweer dat ’n belegger se eis afgewys moet word omdat die belegging self deur korrupsie verkry is. In sodanige gevalle word namens die staat geargumenteer dat die belegger nie toegelaat moet word om voordeel te trek uit ’n belegging wat deur korrupsie bekom is nie. Tribunale wat met hierdie beskuldigings gekonfronteer word, het nie deurgaans ’n konsekwente benadering gevolg met betrekking tot die standaard van bewys wat vereis word vanaf die party wat die beskuldiging van korrupsie maak nie. Hoewel daar oor die algemeen konsensus is dat die party wat korrupsie beweer dit moet bewys, is daar ’n afwyking onder tribunale met sommige wat aandui dat die standaard van bewys hoër is as dié van “op ’n oorwig van waarskynlikhede”. Tog het sommige tribunale beslis dat dit voldoende sou wees vir die staat om ’n reeks rooi vlae te vertoon waarna die las verskuif na die belegger om aan te toon dat korrupsie nie voorgekom het nie. In hierdie bydrae ontleed die outeur krities hierdie afwykende benaderings tot die bewyslas in korrupsiesake by beleggingsarbitrasie en identifiseer ’n benadering wat algemene byval mag vind. Die artikel gee ’n kort oorsig van korrupsie in internasionale beleggingsreg en beklemtoon die noodsaak om korrupsie in beleggingsarbitrasie aan te spreek. Die outeur bespreek die gevolge van ’n bevinding van korrupsie op die beskerming van ’n belegging en die argument dat korrupsie as ’n aangeleentheid van transnasionale openbare beleid verbied is. In hierdie verband oorweeg die outeur ook die gepaste tyd om bewerings van korrupsie aan te spreek voor die afwykende benaderings tot die bewyslas in korrupsiesake krities ontleed word.

Augmenting ethics and the normative value system in the regulation of emerging technologies

Augmenting ethics and the normative value system in the regulation of emerging technologies

Author: Michele Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Private Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 476 – 492
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a5

Abstract

Ontwikkelde en opkomende tegnologieë (soos kunsmatige intelligensie en robotika) is onvoorspelbaar en het in uiterste gevalle die vermoë om quasi-onafhanklike besluite te neem sonder die betrokkenheid van mense. Die onvoorspelbaarheid van ontwikkelde en opkomende tegnologieë maak dit moeilik om sodanige tegnologieë te beheer. Twee oplossings is aanvanklik deur kundiges in die bedryf en sekere akademiese skrywers voorgestel vir die beheer van sodanige tegnologieë, soos om selfregulasie asook die drie wette van robotika van die wetenskapfiksie-outeur, Isaac Asimov, te gebruik as die etiese en normatiewe raamwerk vir die regulering van ontwikkelde en opkomende tegnologieë. In hierdie bydrae argumenteer die outeur dat sodanige oplossings ’n konseptueel foutiewe benadering bevat en dat tradisionele reguleringsmeganismes voldoende is om die beheer van ontwikkelde en opkomende tegnologieë asook die etiese en normatiewe raamwerk van sulke tegnologieë aan te spreek. Sodanige tradisionele reguleringsmeganismes bevat sowel ex ante-kontroles (wat in plek gestel is voor die aanvang van ’n aktiwiteit, soos lisensiëring, registrasie en goedkeuringsvereistes) asook ex post-kontroles (wat ingestel word na die begin van ’n aktiwiteit, soos om ’n bedryf of ’n spesifieke produk se nakoming van wetgewende reëls en regulasies te verseker en te monitor). Wetgewende en regulatoriese raamwerke van ’n land inkorporeer in ’n groter of mindere mate, beide ex ante en ex post-kontroles en ’n mens kan verwag dat ’n kombinasie van die twee tipes beheermaatreëls gebruik mag word in die beheer van ontwikkelde en opkomende tegnologieë. Hierdie kontroles strek oor drie gebiede, naamlik die ontwikkeling, die gebruik en die funksionering van die tegnologie. Dit is die derde kategorie wat ’n twispunt geword het aangesien ontwikkelde en opkomende tegnologieë die vermoë van quasi-onafhanklike besluitneming het en in sommige gevalle op onvoorspelbare maniere optree. Hierdie onvoorspelbaarheid skep spanning met die tradisionele manier waarop tegnologieë beheer en gereguleer word. In werklikheid is die wetgewende en regulatoriese beheermaatreëls in Europa, Kanada en in die Verenigde State van Amerika nie beduidend anders as die huidige benadering tot tradisionele beheermaatreëls nie en sodanige raamwerke berus op ’n risiko-gebaseerde benadering. Die outeur kom tot die gevolgtrekking dat dit maklik is om vasgevang te word in die fantasievolle wêreld van wetenskapfiksie asook spekulatiewe en filosofiese debat oor ontwikkelde en opkomende tegnologieë. Die regsreaksie en die deelnemers aan die regsdiskoers moet hul egter weerhou van fantasievolle en fiktiewe benaderings. Die werklike kwessies behoort eerder bespreek te word want ’n ernstige regsdebat word vereis op hierdie gebied van die reg. Die relatief konserwatiewe benadering wat in Europa, Kanada en die Verenigde State van Amerika in dié verband gevolg word, behoort as voorbeeld te dien vir die Suid-Afrikaanse wetgewer vir die ontwikkeling van beheermaatreëls vir ontwikkelde en opkomende tegnologieë.