Considerations that inform the view of whether there is a reasonable prospect of rescuing a company: a decade of legal precedent

Considerations that inform the view of whether there is a reasonable prospect of rescuing a company: a decade of legal precedent

Authors: Patrick O’brien and Juanitta Calitz

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg; Associate Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 25-49
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a2

Abstract

Suid-Afrikaanse howe het oor die afgelope dekade rigting gegee oor die algemene beginsels wat ter sprake kom wanneer die deurlopende vereiste van n redelike vooruitsig vir sakeredding van n maatskappy oorweeg word. Volgens die hoogste hof van appèl is daar geen algemene minimum voorskrifte om te bepaal of daar n redelike vooruitsig vir sakeredding is nie. Dit is dus nie moontlik om n afmerklys of templaat te ontwerp van oorwegings wat in hierdie opsig ter sprake kom nie. Daar moet van geval tot geval bepaal word watter oorwegings relevant is om te bepaal of daar n redelike vooruitsig vir sakeredding is. Daar moet bepaal word watter gewig aan elke oorweging gegee moet word. Die oorwegings (wat uiteenlopend en selfs teenstrydig mag wees), moet teen mekaar opgeweeg word. Volgens die hoogste hof van appèl is daar twee selfstandige oogmerke vir sakeredding: sakeredding en sakemoord (laasgenoemde wanneer sakeredding wat uitloop op sakemoord, n beter opbrengs kan bewerkstellig as onmiddellike likwidasie). In hierdie bydrae word aandag geskenk aan die oorwegings wat in die regspraak oor die afgelope jare ter sprake gekom het om te bepaal of daar n redelike vooruitsig vir sakeredding is. Eerstens word die oorwegings bespreek wat by albei oogmerke vir sakeredding ter sprake mag kom, maar moontlik meer relevant is wanneer die oogmerk inderdaad sakeredding is. Daarna word die oorwegings bespreek wat veral ter sprake kom wanneer die oogmerk is dat n beter opbrengs bewerkstellig word deur sakeredding as by wyse van likwidasie. Alhoewel hierdie oorwegings geen afmerklys of templaat verteenwoordig nie, word vertrou dat hierdie ontleding van die regspraak, tesame met die algemene beginsels wat volgens die regspraak by die vereiste van n redelike vooruitsig vir sakeredding ter sprake kom, van hulp kan wees vir diegene wat met die beantwoording van vrae in verband met hierdie vereiste gekonfronteer word.

 

The calling of witnesses viva voce during the extradition procedure: is it a legal requirement?

The calling of witnesses viva voce during the extradition procedure: is it a legal requirement?

Authors: JJ Du Toit and Marko Svicevic

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Retired Deputy Director of Public Prosecutions, Office of the Director of Public Prosecutions, Johannesburg; Lecturer, Centre for International Humanitarian and Operational Law, Faculty of Law, Palacký University, Czech Republic
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 50-75
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a3

Abstract

Die ondervraging en kruisondervraging van getuies, viva voce, in n uitleweringsaansoek bly n onderwerp wat nie noodwendig baie aandag geniet in die regspraak nie. Is dit regtens noodsaaklik dat getuies inderdaad viva voce geroep moet word om te getuig in n uitleweringsaansoek? Moet n persoon wat voor die hof verskyn in n uitleweringsaansoek toegelaat word om getuies te roep om die getuienis wat die staat aangebied het, viva voce te weerlê vir die uiteindelike beoordeling deur die voorsittende beampte en die minister van justisie en korrektiewe dienste? In hierdie artikel bespreek die outeurs die Suid-Afrikaanse en sommige buitelandse regsposisies en wys op die relevante en soms uiteenlopende regsgesag op dié punt. Hulle werp verder lig op die omstandighede waaronder viva voce-getuienis aangebied behoort te word in n uitleweringsaansoek. In besonder word die aard van uitleweringsaansoeke in ag geneem. Sodanige uitleweringsondersoeke is sui generis van aard en gevolglik verskil dit van die prosedure wat gevolg word in kriminele verhore. In die eerste deel van die artikel ondersoek die outeurs in detail hoe uitleweringsondersoeke gewoonlik onder die vaandel van die Wet op Uitlewering 67 van 1962 gehou word. Daarna ondersoek hulle die regspraak om vas te stel hoe die Suid-Afrikaanse howe oor jare die bepalings van die Uitleweringswet geïnterpreteer het. In die lig daarvan word vervolgens ondersoek hoe verskeie ander jurisdiksies hul eie prosedures vasgestel het ten opsigte van die roep van getuies om viva voce te getuig. Die volgende jurisdiksies word ondersoek: Malawi, die Bahamas, die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada. Na evaluering van die regspraak van Suid-Afrikaanse howe en die howe van ander lande, word verskeie slotopmerkings gemaak wat in ag geneem behoort te word voordat viva voce-getuienis tydens n uitleweringsaansoek in Suid-Afrika aangebied behoort te word. Hierdie oorwegings sluit onder andere in dat die sui generis aard van uitleweringsverrigtinge nooit uit die oog verloor behoort te word nie en dat beide partye tot die aansoek die geleentheid gebied behoort te word om getuienis aan te bied, insluitend viva voce-getuienis. Die oogmerk van die outeurs is om vir die leser n gebalanseerde oorsig van die regspraak te voorsien wat oorweeg kan word wanneer besluit moet word om viva voce getuienis aan te bied tydens n uitleweringsaansoek al dan nie. Die outeurs beveel ten slotte aan dat die huidige Uitleweringswet gewysig behoort te word om meer duidelikheid te verskaf hoe uitleweringsaansoeke in die praktyk behoort plaas te vind veral weens die feit dat voorlopige ondersoeke, wat tot n mate die normale prosedure in die verlede was, al vir n geruime tyd in die verband in onbruik verval het.

 

Electronic signatures: where to next?

Electronic signatures: where to next?

Author: Lee Swales

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer in Business and Cyber Law, University of KwaZulu-Natal
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 76-91
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a4

Abstract

Die afgelope paar jaar het die samelewing toenemend staatgemaak op moderne tegnologie veral sedert Covid-19 en die reeks beperkinge ingevolge die Wet op Rampbestuur 57 van 2002. Daar word selfs na data verwys as die wêreld se nuwe vorm van olie. In die lig van hierdie paradigmaskuif, word daar al hoe meer gebruik gemaak van elektroniese handtekeninge. Die hoogste hof van appèl het onlangs, by twee gelenthede, elektroniese handtekeninge en die toepaslike wetlike raamwerk oorweeg: eerstens in November 2014 in Spring Forest Trading CC v Wilberry (Pty) Ltd t/a Ecowash en tweedens in Maart 2020 in Global & Local Investments Advisors (Pty) Ltd v Fouche. Ongelukkig het die jongste uitspraak gelei tot n mate van onsekerheid oor die manier waarop die regsraamwerk geïnterpreteer moet word. Op die oog af blyk die Global & Local-saak teenstrydig te wees met die Spring Forest-saak en artikel 13 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies 25 van 2002. Die oogmerk van die outeur met hierdie artikel is om die toepaslike wetlike raamwerk met betrekking tot elektroniese handtekeninge te evalueer en krities kommentaar te lewer op die bevindings wat in die Spring Forest– en Global & Local-sake gemaak is, met die doel om voorstelle te maak oor: i) die wyse waarop hierdie twee uitsprake van die hoogste hof van appèl geïnterpreteer moet word, in die lig van die wet en ander relevante regspraak en ii) die pad vorentoe vir toekomstige regsgedinge. Na die beslissing in die Spring Forest-saak, is algemeen aanvaar dat waar n kommersiële ooreenkoms gebruik maak van die begrippe skrif en handtekening, databoodskappe aan hierdie vereistes kan voldoen, as daar aan die spesifieke vereistes in die wet voldoen word. Hierdie bevinding was sinvol en het rekening gehou met moderne ontwikkelinge. Na die uitspraak in die Global & Local-saak bestaan daar egter twyfel of n handtekening uitgevoer kan word deur n elektroniese handtekening via databoodskap te gebruik. Die jongste uitspraak dui daarop dat as partye elektronies n ooreenkoms wil onderteken, n elektroniese handtekening (spesifiek met die uitsluiting van die woord elektronies) uitdruklik in die ooreenkoms vermeld moet wees: met ander woorde, hierdie uitspraak vereis dat partye vooraf ooreenkom dat n elektroniese ooreenkoms toelaatbaar is, en dit veroorsaak twyfel of die begrip handtekening” ’n elektroniese handtekening insluit. Hierdie artikel voer aan dat die Global & Local-saak regsekerheid ondermyn. Wat word benodig om vorentoe te beweeg? Eerstens, duidelikheid of die begrip handtekening” ’n elektroniese handtekening insluit. Tweedens, n bevestiging dat n elektroniese handtekening, soos dit tans verwoord is, nie gebruik kan word om n ooreenkoms vir die verkoop van vaste eiendom, ingevolge Wet 25 van 2002, aan te gaan nie. Twyfel is geskep in die onlangse beslissing in Borcherds v Duxbury 2021 1 SA 410 (OKP). Derdens, bevestiging van n hooggeregshof oor watter faktore in ag geneem moet word by die bepaling of n elektroniese handtekening betroubaar is. In die vierde plek, en hierdie punt is aanvegbaar, kan dit met die oog op moderne ontwikkelinge die moeite werd wees om weer te kyk of die wet gewysig moet word, vir die gebruik van elektroniese handtekeninge in ooreenkomste vir die verkoop van vaste eiendom.

 

The mother’s right to privacy in infant abandonment cases

The mother’s right to privacy in infant abandonment cases

Author: W Rosenberg

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Lecturer in Private Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 92-105
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a5

Abstract

Met inagneming van die hoë getal babas wat in Suid-Afrika onder ongekontroleerde omstandighede deur hul moeders verlaat en dus wees gelaat word, is die voorstel van nuwe wetgewing om voorsiening vir vondelingluike en veilige hawens vir babas daar te stel n positiewe stap in die regte rigting. Die outeur sien egter n paar hindernisse op dié weg. Een van hierdie hindernisse is die potensiële inbreuk op die ma se reg op privaatheid. In die gebruik van n veilige metode van babaverlating behoort n ma se identiteit beskerm te word soos by die gebruik van n vondelingluik. Laasgenoemde is tipies n ingeboude vak, laai of kas in n buitemuur van n inrigting soos n klooster of tehuis vir ongehude moeders waar n ma haar baba anoniem kan plaas. Sodra die klap na die vondelingluik gesluit word, ontvang die beheerders daarvan n sein en kan die agtergelate baba daar afgehaal en veilig versorg word. In dié opsig funksioneer dit soos wanneer n baba by n goedgekeurde veilige hawe deur die moeder afgegee word en waar sy haar baba oorhandig aan die betrokkenes by so n hospitaal, polisiestasie of brandweerstasie. Die baba se versorging word verseker deurdat die kind nie onder n spreekwoordelike doringbos langs die pad gelaat word nie. Die moeder se identiteit behoort egter desgewens doelbewus beskerm te word sodat sy anoniem bly. Met hierdie moontlike nuwe wetgewing om onveilige babaverlating te bekamp, is een van die motiverende faktore die waarborg van die vertroulikheid van persoonlike inligting van die moeder van die kind. Indien die baba daarenteen onseremonieel bloot weggegooi word, behoort die moeder geen aanspraak op beskerming van haar identiteit as krimineel te hê nie. Dan behoort sy vir haar kriminele optrede vervolg te word. Sonder hierdie waarborg dat gebruikmaking van n veilige vondelingluik of ander veilige babahawe die moeder vrywaar van kriminele vervolging wat gemeenregtelik aan die misdaad van kinderverwaarlosing gekoppel word, is dit onwaarskynlik dat n moeder met n ongewenste baba hierdie opsie sal oorweeg omdat sy steeds aan vervolging blootgestel sal wees. Dan sal hierdie wetgewing die beoogde doel mis en nutteloos wees. Sodanige waarborg gee vir die moeder die vertroue dat sy nie opgespoor sal word nie en ook dat sy nie strafregtelik aanspreeklik gehou sal word vir die strafregtelike misdaad van kinderverlating en/of -verwaarlosing nie. Statutêre beskerming van die moeder se privaatheid in dié omstandighede hou egter die implikasie in dat inbreuk gemaak word op die kind se reg op kennis van sy/haar herkoms. In hierdie artikel word die potensiële regverdiging vir die beklemtoning van die moeder se reg op haar privaatheid ondersoek in die lig van die kind se mededingende reg op kennis van sy/haar herkoms. Die grondwet se beperkingsklousule is as n maatstaf gebruik om te bepaal of n beperking van die moeder se reg op privaatheid redelik en regverdigbaar sou wees in n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die outeur bevind dat beide mededingende aspekte deel van die inhoudsbevoegdhede van privaatheid vorm en die doel om die moeder se reg op privaatheid te beperk minder belangrik is as die wettige doel wat die reg in hierdie konteks dra, naamlik om onveilige babaverlating te beperk. Laastens is met inagneming van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013 ondersoek of die beskerming van die moeder se persoonlike inligting voldoende beklemtoon word.

 

Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (the applicable rules of law)

Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (the applicable rules of law)

Author: Prince Obiri-Korang

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow, Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 106-121
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a6

Abstract

In n regstelsel waar partye by internasionale kontrakte die outonomie gelaat word om die reg van toepassing op hulle kontrak te kies, word algemeen verwag dat die reg wat hulle kies die reg van n staat is. Die keuse van enige soort buitestaatlike reg as die reg van toepassing op kommersiële kontrakte word gewoonlik nie deur die howe toegelaat nie. Indien n bepaalde internasionale kontrak n arbitrasieklousule bevat, verskil die posisie. Daar is presedente wat toon dat arbitrasie-tribunale bereid is om regskeuses in internasionale kontrakte te handhaaf en toe te pas, ongeag die aard van die gekose reg, hetsy dit staatlik, of buitestaatlik is. Die vraag wat in hierdie verband ontstaan, is waarom howe arbitrasietoekennings sonder voorbehoud afdwing, selfs wanneer n nie-staatlike reg deur die tribunaal toegepas is om tot die beslissing te kom wat nou afgedwing moet word, maar terselfdertyd die toepassing van dieselfde buitestaatlike reg verwerp in sake wat direk voor hulle kom. In hierdie artikel argumenteer die outeur dat howe die keuse deur die partye van buitestaatlike reg behoort te aanvaar op grond van die beginsel van partyoutonomie. Die outonomiebeginsel speel n rol in alle kommersiële kontrakte. In die internasionale kontraktereg word partyoutonomie vandag beskou as die belangrikste verbindingsfaktor vir die vasstelling van die reg. Die erkenning van die keuse van buitestaatlike reg bied aan partye die geleentheid om toepaslike regsreëls te kies vir die hantering van spesifieke juridiese uitdagings wat verband hou met hul kontrak. Partye sal baat by die gevolglike regsekerheid en voorspelbaarheid wat die reg betref wat van toepassing is op die kontrak. Dit sal sodoende help om lang en duur geskille te voorkom wat bloot handel oor welke reg van toepassing sou wees. Die outeur bespreek welke kategorieë van buitestaatlike reg gekies behoort te kan word om internasionale kontrakte te beheers.

 

Aantekeninge: A stay of legal proceedings in insolvency law: a reappraisal

Aantekeninge: A stay of legal proceedings in insolvency law: a reappraisal

Author: Patrick O’Brien and Yvette Joubert

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 122-143
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a7

Abstract

Beste internasionale praktyk verg dat die concursus creditorum wat teweeggebring word by die aanvang van insolvensieverrigtinge, regsgedinge teen die skuldenaar opskort ten opsigte van eise wat deel vorm van die concursus. Die Suid-Afrikaanse wetgewing wat hoofsaaklik insolvensie- en likwidasieverrigtinge beheers, is die Insolvensiewet 24 van 1936 en die Maatskappywet 61 van 1973. Albei wette kan vertolk word om gevolg te gee aan n algemene opskorting van regsgedinge teen die skuldenaar wanneer n concursus creditorum ontstaan. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse howe nie die wetgewing noodwendig op hierdie wyse vertolk nie. Beide wette verleen n grasietydperk na die ontstaan van n concursus creditorum waarbinne n skuldeiser die geleentheid gebied word om hangende regsgedinge voort te sit sonder toestemming van die hof. Die Maatskappywet brei hierdie geleentheid uit na die instelling van nuwe regsgedinge de novo. Daar is egter formaliteite waaraan die skuldeiser moet voldoen gedurende hierdie grasietydperk. Dit sluit in dat kennisgewing gegee moet word van die voorneme om die regsgeding voort te sit of in te stel aan die kurator, likwidateur of meester, afhangende van die omstandighede. Indien n skuldeiser nie gedurende die grasietydperk aan hierdie formaliteite voldoen nie, het die skuldeiser die toestemming van die hof nodig om die regsgeding voort te sit of in te stel, afhangende van die geval. Volgens die regspraak mag n kurator of likwidateur ook toestem tot die instel of voortsetting van die regsgeding. In die aantekening word die statutêre meganisme ontleed wat bestaan om kollektief die eise teen insolvente boedels en regspersone in likwidasie te bewys. Hierdie statutêre meganisme maak dit moontlik om baie vinniger en goedkoper die eise van skuldeisers te hanteer as wat die geval sou wees as regsgedinge ingestel of voortgesit word teen die skuldenaar. Die statutêre meganisme maak dit deurlopend moontlik vir skuldeisers om hulle na die howe te wend indien hulle nie daarin slaag om hulle eise af te dwing deur van die statutêre meganisme gebruik te maak nie. Die statutêre afdwingingsmeganisme raak dus geensins n skuldeiser se reg tot toegang tot howe nadelig nie. Die skuldeiser word voorts beskerm deur n spesiale reëling vervat in die Verjaringswet 68 van 1969 wat die afloop van verjaring uitstel terwyl die skuld die onderwerp is van n eis wat volgens die statutêre afdwingingsmeganisme gehanteer word. Met die aantekening doen die outeurs aan die hand dat, volgens internasionale praktyk, skuldeisers verplig moet wees om die statutêre afdwingingsmeganisme te gebruik indien hulle nie binne die grasietydperk aan die voorgeskrewe formaliteite voldoen vir voortsetting of instelling van regsgedinge nie. Alhoewel die Insolvensiewet slegs n redelike verskoning van n skuldeiser verg om n hangende regsgeding voort te sit indien daar nie binne die grasietydperk aan die formaliteite voldoen word nie, verg die Maatskappywet dat die hof alle faktore moet oorweeg om te besluit of die regsgeding ingestel of voortgesit mag word. Dit sluit in die belange van ander skuldeisers en die likwidateur. Die Engelse howe vra pertinent waarom die skuldeiser verkies om van n duur en uitgerekte regsgeding gebruik te maak, eerder as om in die kollektiewe belang van die skuldeisers gebruik te maak van die veel goedkoper en vinniger statutêre afdwingingsmeganisme. Daar word aan die hand gedoen dat Suid-Afrikaanse howe daardie benadering behoort te volg. Dit is die hooggeregshof by maatskappye en beslote korporasies, of die landdroshof by beslote korporasies, waar die geregistreerde kantoor van die betrokke regspersoon geleë is wat die nodige toestemming moet gee vir instelling of voortsetting van die regsgeding, ongeag die forum wat die geding moet aanhoor. Dit is so omdat die hof alle skuldeisers en likwidateurs se belange in ag moet neem by hierdie besluit, en nie net die belange van n spesifieke skuldeiser en die skuldenaar wat dalk deur n spesiale tribunaal (soos n arbitrasieliggaam of die arbeidshof) oorweeg moet word nie. Daar word ten slotte aan die hand gedoen dat die grasietydperk vir die instel of voortsetting van regsgedinge nie in ooreenstemming met beste internasionale praktyk is nie. Dit behoort tydens wetswysiging geskrap te word.