Aantekeninge: The fight for the child in “smart” surrogate motherhood agreements
Aantekeninge: The fight for the child in “smart” surrogate motherhood agreements
Authors: Michele Van Eck and Whitney Rosenberg
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 735 – 745
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a7
Abstract
Surrogaatmoederskap is ’n omstrede kwessie en het baie morele en etiese grys areas binne die wetgewende raamwerk. In Suid-Afrika word altruïstiese surrogaatskap verkies bo kommersiële surrogaatskap, en word streng gereguleer deur die Kinderwet 38 van 2005, die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003 en die regulasies met betrekking tot die kunsmatige bevrugting van persone van 2012. Daarteenoor verbied Duitsland kunsmatige bevrugting en surrogaatskap onder die Embryonenschutzgesetz en die Adoptionsvermittlungsgesetz. Wanneer surrogaatmoederskapooreenkomste egter in ’n Suid-Afrikaanse konteks oorweeg word, vereis die Kinderwet die nakoming van streng formaliteite vir ’n geldige surrogaatmoederskapooreenkoms, insluitend, onder andere, dat so ’n ooreenkoms skriftelik moet wees en deur die partye onderteken word. Niks verhoed dat ’n surrogaatmoederskapooreenkoms in elektroniese formaat geplaas word nie, soos gereguleer deur die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies 25 van 2002, mits gevorderde elektroniese handtekeninge gebruik word om so ’n ooreenkoms te onderteken. Dit sal effektief verhoed dat vir surrogaatmoederskapooreenkomste die formaat van e-pos, SMS, WhatsApp of dies meer gebruik word.
Die outeurs ondersoek die saak deur te vra of surrogaatmoederskapooreenkomste dan die vorm van ’n slimkontrak kan aanneem. Hierin word ’n onderskeid getref tussen slimkontrakte wat nie blokkettingtegnologie gebruik nie (“af van die ketting”-slimkontrakte) en daardie slim kontrakte wat blokkettingtegnologie gebruik (“op die ketting”-slimkontrakte). Anders as meer komplekse algoritmes wat die slimkontrak onderlê, onderskei min ’n slimkontrak wat “af van die ketting” is van ’n elektroniese kontrak. Aan die ander kant is ’n “op die ketting” slimkontrak nie in staat om beëindig of gewysig te word nie en is dus problematies wanneer sake rakende ’n kind hanteer word, wat kan vereis dat ’n surrogaatmoederskapooreenkoms beëindig of gewysig moet word.
Wetgewende ontwikkelings in Europa ingevolge die Datawet vereis dat sodanige “op die ketting”- slimkontrakte die vermoë moet hê om beëindig te word. Hierdie ontwikkelings, sou dit in Suid-Afrika toegepas word, sal die voordeel van “op die ketting”-slimkontrakte verminder tot bloot ’n instrument vir rekordhouding van die transaksie. Die outeurs kom tot die gevolgtrekking dat ’n “slim” surrogaatmoederskapooreenkoms nie gebruik moet word nie, aangesien dit ’n rigiede vorm vereis; hoewel voordelig in kommersiële transaksies, kan dit nie die beste belang van die kind en die betrokke partye ondersteun nie. Die samelewing kan immers nie die belange van ’n kind aan die outomatiese uitvoering van ’n algoritme oorlaat nie.