Aantekeninge: A review muddle on an inappropriate application of general anti-avoidance rule

Aantekeninge: A review muddle on an inappropriate application of general anti-avoidance rules

Authors: C Keulder and T Legwaila

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 133-144
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a7

Abstract

In Commissioner for the South African Revenue Service v Absa Bank Limited (2024 1 SA 361 (HHA)) het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die belastingbetalers in kennis gestel van die voorneme om die algemene reëls teen belastingvermyding op ’n reeks onderling verbonde transaksies toe te pas. In hierdie verband het die belastingbetalers die Suid-Afrikaanse Inkomstediens versoek om hierdie kennisgewing kragtens artikel 9 van die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 terug te trek. Hierdie versoek is geweier. Verder het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ’n bykomstige aanslag uitgereik om gehoor te gee aan die algemene reëls teen belastingvermyding.

Die belastingbetalers het beide besluite, naamlik die weiering om die kennisgewing terug te trek en die uitreiking van die bykomstige aanslag, op hersiening na die hooggeregshof geneem. Dié hof het bevind dat die algemene reëls teen belastingvermyding nie toegepas kon word nie omdat Absa nie direk by die reëling betrokke was nie en géén belastingvoordeel uit die transaksies verkry is nie. Alhoewel die kennisgewing van voorneme om die reël toe te pas nie finaal was nie, was dit steeds hersienbaar. Die hof het ook beslis dat die hooggeregshof jurisdiksie het om ’n belastingaangeleentheid direk aan te hoor as ’n hersieningsaansoek waar daar ’n dispuut ten opsigte van ’n regspunt is.

Hierdie vonnisbespreking fokus op die daaropvolgende appèlbeslissing van die hoogste hof van appèl. Ten opsigte van die weiering om die kennisgewing van voorneme om die algemene reël teen belastingvermyding toe te pas, toon hierdie vonnisbespreking die hoogste hof van appèl se verwarring aangaande ’n hersieningsaansoek kragtens die “Promotion of Administrative Justice Act” 3 van 2000 en een op grond van legaliteit. In hierdie verband wys die outeurs verskeie redes uit waarom die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se besluit irrasioneel was, aangesien die onderling verbonde transaksies wat oorweeg is nie binne die omskrywing van die algemene reëls teen belastingvermyding val nie. Verder beklemtoon die vonnisbespreking die verwarring oor wanneer die hooggeregshof se inherente hersieningsbevoegdheid van toepassing is.

Regspraak: Email hackers, conveyancers and pure economic loss

Regspraak: Email hackers, conveyancers and pure economic loss

Author: E Zitzke

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 145-161
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a8

Abstract

Hierdie vonnisbespreking is ’n kritiek op Edward Nathan Sonnenberg v Hawarden (2024 5 SA 9 (HHA)). Die saak handel oor epos-kuberkraking in die konteks van aktebesorging wat lei tot suiwer ekonomiese verlies. Die koper van onroerende eiendom moes die koopprys aan die aktebesorger oorbetaal. Die aktebesorger het sy bankbesonderhede per epos aan die koper gekommunikeer. ’n Kuberkraker het die epos onderskep voordat die koper dit ontvang het en het sy eie bankbesonderhede aan die koper verskaf. Die misleide koper het toe R5,5 miljoen aan die boosdoener oorbetaal. Die kuberkraker het verdwyn teen die tyd wat die waarheid na vore gekom het.

Die koper eis haar verlore miljoene van die aktebesorger in ’n deliksaksie in die hooggeregshof. In Hawarden v Edward Nathan Sonnenbergs Inc (2023 4 SA 152 (GJ)) bevind die hof van eerste instansie dat die aktebesorger onder ’n regsplig was om “nie nalatig” teenoor die eiser te handel nie. Die hof bevind ook dat die regsplig nie nagekom is nie en dat die verweerder die eiser se skade op ’n nalatige wyse veroorsaak het. Dus slaag die eiser. Terwyl die uitspraak swak gestruktureer is en konseptuele foute daarin gemaak word, bevat dit ’n paar akkurate stellings oor die beleidsoorwegings wat in ag geneem moet word by die bepaling van die onregmatigheid van die verweerder se handeling.

Op appèl beslis die hoogste hof van appèl dat die eiser om twee redes nie onregmatigheid kon bewys nie: Eerstens sou ’n bevinding van onregmatigheid lei tot onbepaalde aanspreeklikheid en tweedens was die eiser nie kwesbaar vir die risiko nie omdat sy haarself kon beskerm het teen die skade wat sy gely het.

In hierdie vonnisbespreking word daar geargumenteer dat die hoogste hof van appèl se bevinding oor onregmatigheid foutief is. Teenstrydig met die hoogste hof van appèl se bevinding, word geargumenteer dat verskeie faktore daarop dui dat onregmatigheid wél aanwesig is: (i) die feit dat die erkenning van ’n regsplig in hierdie konteks ’n inkrementele verwikkeling van die reg sou behels wat alreeds ’n regsplig erken tussen ’n prokureur en derde partye wat betalings maak; (ii) die professionele aansien van prokureurs en statutêre verpligtinge wat op regspraktisyns geplaas word; (iii) die nabye en direkte verhouding tussen die eiser en verweerder in hierdie geval; (iv) die vertroue wat die publiek in regsfirmas behoort te hê; (v) die feit dat daar geen aantoonbare risiko van onbepaalde aanspreeklikheid is nie; (vi) die feit dat die eiser se bydraende nalatigheid nie as ’n absolute verweer teen haar gebruik mag word nie; en (vii) die feit dat die tegnologiese risiko van epos-kuberkraking objektief akuut voorsienbaar is asook die verweerder se subjektiewe kennis hieroor.

Regspraak: Return to the infamous English case of Hollington v F Hewthorn & Co Ltd 1943 KB 587 (CA): still authoritative in South Africa, albeit restricted to its original ratio

Regspraak: Return to the infamous English case of Hollington v F Hewthorn & Co Ltd 1943 KB 587 (CA): still authoritative in South Africa, albeit restricted to its original ratio

Author: W De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 161-171
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a9

Abstract

In Technology Corporate Management (Pty) Ltd v De Sousa het die vraag onder andere ter sprake gekom of die reël in die dikwels gekritiseerde Engelse saak Hollington v F Hewthorn & Co Ltd, bo en behalwe ’n skuldigbevinding in ’n strafsaak, ook van toepassing is op die bevindinge van ander tribunale. Die verhoorhof het, met ’n beroep op die Hollington-saak, beslis dat die bevinding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (meestal op Engels afgekort as die CCMA), dat die eerste respondent (De Sousa) se ontslag uit die diens van die eerste appellant (Technology Corporate Management (Pty) Ltd) (TCM) billik was, ontoelaatbaar was in die daaropvolgende siviele geding tussen De Sousa en TCM. Die verhoorhof het die eiser (De Sousa) se eis op die meriete gehandhaaf. Daarteen het TCM na die hoogste hof van appèl geappelleer.

Die hoogste hof van appèl, bestaande uit vyf waarnemende appèlregters, het by monde van waarnemende appèlregter Wallis bevind dat die verhoorregter gefouteer het wat die toepassing van die reël uit die Hollington-saak betref. Volgens die appèlhof moet die Hollington-reël streng beperk word tot skuldigbevindings in strafsake. Die verrigtinge in die KVBA was nie ’n strafverhoor nie en die bevinding van die tribunaal het dus buite bestek van die Hollington-reël geval. Derhalwe was die verwysing na die bevinding van die KVBA wél toelaatbaar in die daaropvolgende siviele saak tussen die genoemde partye.

Aangesien die hoogste hof van appèl bevind het dat die Hollington-reël nie van toepassing was op die onderhawige siviele saak nie, was die hof nie geroepe om oorweging te gee aan die afskaffing van die reël deur die uitoefening van die hof se inherente bevoegdheid om die gemenereg te ontwikkel nie. Enige uitlatings in die verband sou obiter dicta gewees het, wat nie bindend op laer howe sou wees nie. Alhoewel dit nie die geleentheid was om die Hollington-saak ter ruste te lê nie, is die hof se beslissing dat die reël in die saak streng tot skuldigbevindings in strafsake beperk moet word te verwelkom. Daar was in die verlede wel enkele sake waarin die uitbreiding van die Hollington-reël na ander tribunale se bevindinge goedgekeur is. Gelukkig het die hoogste hof van appèl se beslissing hierdie ontwikkeling gekelder.

Die appellant het ook geargumenteer dat die verhoorregter se optrede gedurende die verhoor die billikheid van die verhoor geskaad het. Die hoogste hof van appèl het dit nie nodig gevind om dié punt te beslis nie aangesien die hof eenparig op die meriete beslis het dat die appèl gehandhaaf moes word. Desnietemin het die hof sekere riglyne neergelê oor hoe ’n verhoorregter behoort op te tree om te verseker dat die verhoor in alle opsigte billik verloop. Die uitlatings is uiteraard alles obiter dicta, maar nietemin gesaghebbend aangesien dit deur die hoogste hof van appèl gemaak is.

Regspraak: Teleological interpretation of section 189A of the Labour Relations Act and procedural fairness in large-scale retrenchments

Regspraak: Teleological interpretation of section 189A of the Labour Relations Act and procedural fairness in large-scale retrenchments

Author: M Van Staden

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 172-187
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a10

Abstract

In die uitspraak het die konstitusionele hof geworstel met die interpretasie van artikels 189A(13) en 189A(18) van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 in die konteks van grootskaalse afleggings vir operasionele vereistes. Die saak het deurslaggewende vrae aangespreek oor die jurisdiksie van die arbeidshof om die prosedurele billikheid van sodanige afleggings te beoordeel en die aard en omvang van die remedies wat ingevolge artikel 189A(13) van Wet 66 van 1995 aan werknemers beskikbaar is.

Hierdie bespreking ontleed die uiteenlopende uitlegbenaderings wat deur die meerderheids- en minderheidsuitspraak in die uitspraak aanvaar is sowel as die uitlegbenadering wat geheers het voor uitspraak in die saak gelewer is. Die meerderheid het ’n breë, doelgerigte interpretasie nagevolg – ’n teleologiese uitleg – wat uiting gee aan, onder meer, die grondwetlike reg op billike arbeidspraktyke en die reg op toegang tot die howe. Die meerderheid het aanvaar dat artikel 189A(18) van Wet 66 van 1995 slegs arbeidshof-jurisdiksie kragtens artikel 191 uitsluit en nie jurisdiksie kragtens artikel 189A(13) uitskakel nie. Die meerderheid het bevind dat artikel 189A(13) beide primêre oogmerke dien om prosedurele voldoening voor ontslag af te dwing en sekondêre doeleindes nastreef om remedies vir prosedurele onbillikheid te verskaf, met vergoeding beskikbaar selfs wanneer primêre remedies nie meer lewensvatbaar is nie. Die minderheid het, hoewel hulle met die beslissing van die meerderheid saamgestem het, ’n enger, meer terughoudende benadering tot die uitleg van voorafgaande uitsprake en die genoemde wetsbepalings verkies.

Die bespreking evalueer hierdie uitlegbenaderings teen sleutelvermoedens van statutêre interpretasie, insluitend dat regstellende wetgewing mildelik uitgelê moet word, dat wetgewing nie geredelik hofjurisdiksie uitskakel nie en dat wetgewing uitgelê moet word om die openbare belang te bevorder. Daar word aangevoer dat die meerderheid se benadering verkieslik is, aangesien dit volle uitvoering gee aan die beskermende en remediërende doeleindes van Wet 66 van 1995 in ooreenstemming met grondwetlike waardes. Die gevolgtrekking is dat die meerderheidsuitspraak ’n belangrike bydrae lewer tot die ontwikkeling van ’n transformerende arbeidsregspraak. Die meerderheid se breë, doelgerigte interpretasie van artikels 189A(13) en 189A(18), onderlê deur grondwetlike beginsels en waardes, bied ’n waardevolle model vir howe wanneer arbeidswetgewing vertolk moet word. Die uitspraak bevorder die fundamentele doelwitte van Wet 66 van 1995 en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 deur doeltreffende remedies en toegang tot howe te behou vir werknemers wat prosedureel onbillike afleggings in die gesig staar.

Regspraak: Slicing the baloney pretty thin: Lessons in fair use from the Warhol case

Regspraak: Slicing the baloney pretty thin: Lessons in fair use from the Warhol case

Author: S Karjiker

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 187-202
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a11

Abstract

Wanneer dit kom by inbreukmaking op kopiereg is die belangrikste wysiging van die Wet op Outeursreg 98 van 1978 wat deur die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg voorgestel is (Wysigingswetsontwerp op Kopiereg B 13D – 2017, 9 Junie 2022), in alle waarskynlikheid die bekendstelling van die Amerikaanse konsep van billike gebruik (“fair use”), om ons huidige stelsel van billike handeling (“fair dealing”) te vervang. Dit is dus insiggewend om die mees onlangse billike gebruik-uitspraak van die Amerikaanse hooggeregshof in Andy Warhol Foundation for the Visual Arts, Inc v Goldsmith (2023) 143 SCt 1258 te bespreek gegewe die feit dat hierdie hof nie gereeld kopieregsake aanhoor nie.

Die Warhol-saak het gehandel oor ’n bewering van kopieregskending van ’n foto wat deur die fotograaf Lynn Goldsmith geneem is en waarvan ’n syskerm afdruk deur die popkunstenaar Andy Warhol gemaak is. In 1981 het Goldsmith ’n swart en wit ateljeeportretfoto van die musikant Prince (“die foto”) geneem. Die foto is in 1984 aan die tydskrif Vanity Fair gelisensieer as ’n “kunstenaarsverwysing vir ’n illustrasie”, wat in die tydskrif sou verskyn saam met ’n artikel oor Prince later daardie jaar. Vanity Fair het Warhol opdrag gegee om die illustrasie te skep. Hy het verskeie syskermafdrukke vervaardig, gebaseer op die foto. Een van hierdie syskermafdrukke is in die 1984-tydskrif gebruik. Na die dood van Warhol is die kopiereg van die syskermafdrukke aan die Andy Warhol Foundation for the Visual Arts, Inc (“AWF”) oorgedra.

Ná Prince se dood, in 2016, het Condé Nast (Vanity Fair se houermaatskappy) nog een van die syskermafdrukke gebruik vir ’n gedenkartikel oor die musikant, nadat die AWF toestemming daarvoor gegee het. Goldsmith het egter nie toestemming vir die verdere gebruik van die syskermafdruk gegee nie. Goldsmith het ook geen betaling ontvang nie, en is ook nie as die bron van die illustrasie erken nie. Dit was ten opsigte van hierdie verdere gebruik dat Goldsmith beweer het dat haar kopiereg in die foto geskend is. Die AWF het beweer dat hierdie gebruik van die syskermafdruk nie Goldsmith se kopiereg in die foto geskend het nie, aangesien Warhol se syskermafdruk op billike gebruik van die foto neerkom, en dat dit transformerend was.

Die appèl na die Amerikaanse hooggeregshof was beperk tot net een kwessie: of die eerste faktor vir billike gebruik – die doel en karakter van die gebruik – die AWF of Goldsmith bevoordeel. Die hooggeregshof het bevind dat hierdie faktor Goldsmith bevoordeel het, en dat haar kopiereg in die foto geskend is. Die beslissing van die Amerikaanse hooggeregshof was egter nie eenparig nie. Daar was teenstrydige meerderheids- en minderheidsuitsprake, wat wys dat billike gebruik nie dieselfde sekerheid as billike hantering gee nie. Dit lei tot vermorste en duur litigasie (of ’n groter moontlikheid daarvan). Daar word voorgehou dat hierdie saak, of soortgelyke sake, ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing as direkte kopieregskending beskou sal word. Die Warhol-saak dien as nog ’n bewys van die problematiese aard van billike gebruik, en daar word sterk aangeraai om die implementering daarvan te vermy.

Regspraak: Exposing the bureaucratic red tape of adoptions and the department’s underlying prejudices

Regspraak: Exposing the bureaucratic red tape of adoptions and the department’s underlying prejudices

Author: W Rosenberg

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 202-217
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a12

Abstract

Hierdie saak behels twee byna identiese stelle feite oor die eerste en tweede applikant en hul keuses om hulle babas B and L vir aanneming af te gee en die departement van maatskaplike ontwikkeling se verontagsaming eerstens van die eerste en tweede applikant se reg om aanneming te kies en tweedens vir die beste belange van B en L. Volgens die feite in beide gevalle is die applikante “geviktimiseer en gestraf” vir hul keuse van aanneming as opsie uit hul verknorsings.

Die optrede van die departement en maatskaplike werkers het ’n reeks gebeure tot gevolg gehad wat daartoe gelei het dat die beste belange van die kinders geskend is en die regte van die aansoekers op menswaardigheid, privaatheid en liggaamlike en sielkundige integriteit ook geskend is. Die departement het praktykriglyne vir aanneming opgestel en deur middel van hierdie riglyne gepoog om die aanneming van B en L te ontspoor en kultuur as ’n rede aan te voer, asook daarop aan te dring dat ’n bykomende ondersoek gedoen moet word of die kinders sorg en beskerming benodig voordat B en L aanneembaar verklaar kan word. Die departement het ook beweer dat die kinderhof nie ’n aannemingsbevel kan uitreik alvorens’n aanbevelingsbrief wat sodanige aanneming goedkeur, van die departement ontvang is nie. Dít het die hof bevind is in stryd met die skeiding van magte-leerstellings. Regter Dippenaar het die optrede van die departement en maatskaplike werkers krities onder die loep geneem en ook die praktykriglyne wat nie deur die minister opgestel en afgekondig is nie krities ontleed.

Hierdie uitspraak dien as ’n wekroep aan die departement én maatskaplike werkers om te besef dat die grondwet en kinderwet geen ruimte laat vir onderliggende vooroordele nie en dat ons nuwe grondwetlike bedeling die erkenning, beskerming en afdwinging van sowel die regte van kinders as dié van die betrokke volwassenes beskerm. Hierdie beslissing is veral belangrik aangesien aannemingsgetalle in Suid-Afrika afneem en die aantal kinderlose gesinne wat begerig is om ’n kind aan te neem, afneem terwyl die getal weerlose kinders wat gesinne benodig as gevolg van die stygende koers van kinderverlating in Suid-Afrika toeneem. As gevolg van die stygende koers van kinderverlating is dit belangrik dat aannemings vaartbelyn word en alle onnodige rompslomp verwyder word.