Caveat petitor. Must a business rescue practitioner pay costs of liquidation de bonis propriis?
Authors: Patrick O’Brien and Juanitta Calitz
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg; Associate Professor of Mercantile Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2023, p. 249 – 269
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i2a4
Abstract
’n Sakereddingspraktisyn is verplig om aansoek by die hof te doen om die likwidasie van die maatskappy indien dit blyk dat daar nie meer ’n redelike vooruitsig is om die maatskappy te red nie. Wanneer sakeredding daardie stadium bereik, is die kanse goed dat die sakereddingspraktisyn ’n skuldeiser van die maatskappy is vir onbetaalde fooie en uitgawes. ’n Skuldeiser wat aansoek by die hof doen om die likwidasie van ’n maatskappy, moet ’n bydrae maak om die likwidasiekoste te delg indien die verkoop van die bates van die maatskappy nie voldoende vrye oorskot oplewer om dit te betaal nie. Daar is ook ’n goeie kans dat die verkoop van die bates van die maatskappy nie voldoende vrye oorskot sal oplewer om die likwidasiekoste te delg nie.
Met hierdie bydrae oorweeg die outeurs of dit beteken dat die sakereddingspraktisyn wat ook ’n skuldeiser van die maatskappy in sakeredding is ’n bydrae (effektief de bonis propriis) moet maak om die likwidasiekoste te delg. Dié regsvraag word beheers deur die Insolvensiewet van 1936, die Maatskappywet van 1973 en die Maatskappywet van 2008. Die tersake statutêre bepalings is nie met mekaar belyn ten einde die regsvraag sonder teenspraak te beantwoord nie. Die korrekte vertolking van die wetgewing word oorweeg aan die hand van wat hedendaags die geykte benadering van die Suid-Afrikaanse reg is dat vertolking dieselfde gewig moet verleen aan die teks, konteks, en oogmerk van die wetgewing wat gelyktydig oorweeg moet word, samelopend met die grondwetlike oorwegings.
Die outeurs doen na oorweging van hierdie faktore aan die hand dat die sakereddingspraktisyn nie ’n bydrae moet maak om ’n tekort aan te vul om likwidasiekoste te delg indien die aansoek qua sakereddingspraktisyn gebring word om likwidasie van die maatskappy nie. Die sakereddingspraktisyn voldoen met so ’n aansoek aan ’n statutêre verpligting en bring dit nie om ’n verpligting van die maatskappy jeens die sakereddingspraktisyn as skuldeiser af te dwing nie. ’n Teenstrydige vertolking sal ’n bykomstige hindernis plaas in die evaluering van die potensiële keuses om sakeredding na te streef. Dit sal, teenstrydig met die openbare belang, sakereddingspraktisyns afskrik om aanstellings te aanvaar en hulle aanmoedig om voort te ploeter met sakeredding nieteenstaande die feit dat objektief dit geen vooruitsig op sukses het nie.