(Clan)destined for corruption: authority and accountability for intrusive intelligence practices

Author: H Taylor

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, South African Institute for Advanced Constitutional, Human Rights, Public and International Law (SAIFAC), University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2022, p. 338-355

Abstract

Met hierdie artikel werp die outeur lig op die gebrekkige regulering van die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste en die magsmisbruik wat dit moontlik maak maar ook waartoe dit bestem was. Die outeur belig die verband tussen statutêre gesag vir intelligensiepraktyke en die aanspreeklikheid van die intelligensiedienste. Met verwysing na grondwetlike beginsels beoog die outeur om die grondwetlike beredenering vir die vereiste dat die intelligensiedienste gevestig moet word en dat hul bevoegdhede deur nasionale wetgewing gekontroleer moet word, te verdedig. Die algemene beweegredes om waarde te heg aan die statutêre regulering van openbare mag is met buitengewone oortuigingskrag van toepassing op intelligensiebevoegdhede, omdat opdringerige metodes van intelligensieversameling nie slegs regte skend nie, maar dit heimlik doen. ’n Afwesigheid van statutêre regulasie maak hierdie bevoegdhede effektief onsigbaar: nóg die regmatige omvang nóg die wesentlike uitoefening van intelligensiebevoegdhede is maklik vasstelbaar of toeganklik. Dus is die deursigtigheid van statutêre regulasie ’n noodsaaklike, dog weliswaar onvoldoende, voorwaarde vir die aanspreeklikheid van die intelligensiedienste. As ’n vraagstuk van grondwetlike praktyk, identifiseer die outeur drie gebiede van onderregulering wat die intelligensiedienste daartoe in staat gestel het om op ’n onregmatige en ontoerekenbare wyse werksaam te wees: (a) die herstrukturering van die intelligensiedienste deur presidensiële proklamering; (b) die gebrek aan statutêre regulering van opdringerige intelligensiepraktyke; en (c) die ontoeganklikheid van reglemente wat klassifisering beheer. Om die verband tussen die gebrek aan statutêre regulering en die misbruik van intelligensiebevoegdhede toe te lig, maak die artikel gebruik van die bewyse van korrupsie in die intelligensiedienste wat blootgelê is ná onlangse hofsake, asook twee presidensiële ondersoeke, naamlik die hoëvlak-hersieningspaneel oor die staatsveiligheidsagentskap en die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.