Combating money-laundering through currency control: do Exchange Control Regulations 3(3) and 19(1) limit a traveller’s right to privacy?

Author: F Moosa

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor in the Department of Mercantile and Labour Law, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2022, p. 672-688
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i4a4

Abstract

Geldwassery is ’n transnasionale misdaad waarteen Suid-Afrika nie immuun is nie. Geldwassery word makliker gemaak deur die wegval van geografiese grense en tegnologiese ontwikkelings, asook die gebruik van virtuele geldeenhede as ’n betaalmiddel vir goedere en dienste. Anders as die Suid-Afrikaanse Rand, gesteun deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, is virtuele geldeenhede (soos Bitcoin) tans ongereguleerd en nie amptelik ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank nie. Die aard van kripto-geldeenhede as ontasbare bates wat in elektroniese vorm binne ’n gerekenariseerde netwerk bestaan, stel die benutters daarvan in staat om dit onmiddellik oor die grenslose internet oor te dra met die klik van ’n knoppie op ’n elektroniese toestel (soos, ’n rekenaar, skootrekenaar of selfoon).
Die wêreldwye web is ’n ongereguleerde elektroniese omgewing. In hierdie ekosisteem is daar verbeterde anonimiteit en die vrye vloei van gedigitaliseerde eiendom is byna onnaspeurbaar. Hierdie kenmerke is aantreklik vir sindikate, bendes en individue wie se optrede daarop gemik is om die opbrengs van misdaad transnasionaal, en buite die formeel gereguleerde finansiële stelsels te verskuif. Om sy internasionale verpligtinge na te kom, het die Suid-Afrikaanse regering wette gepromulgeer wat daarop gemik is om die plaag van geldwassery te bekamp.
In hierdie artikel toon die outeur dat die magte wat regulasies 3(3) en 19(1) van die Deviesebeheerregulasies, 1961 uitgevaardig ingevolge die Wet op Betaalmiddels en Wisselkoerse 9 van 1933 toeken, belangrike wapens is in die arsenaal van wetstoepassingsagentskappe wat as funksie het om geldwassery en ander ekonomiese misdade te bekamp. Hierdie magte maak egter inbreuk op regte van privaatheid en op die belange wat in artikel 14 van die grondwet verskans is. Die privaatheid van ’n persoon, sy huis- en sake omgewing moet deur agente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gerespekteer word wanneer hul die magte tot wetstoepassing onder die regulasies uitoefen. Hoewel inkomste uit belasting deurslaggewend is vir die bereiking van grondwetlike doelwitte, moet die toepassing van wette wat ontwerp is om Suid-Afrika se belastingbasis te beskerm, binne die orde van die grondwet plaasvind. Gevolglik toon hierdie artikel dat op die reg op privaatheid, soos beskerm in artikel 14 van die grondwet, inbreuk gemaak word deur regulasies 3(3) en 19(1). Indien korrek, maak dit dié bepalings prima facie onwettig. Enige staatsinstelling wat op die beperking staatmaak moet die beperking regverdig. Dit is ’n besondere onus. Daarom bly die vraag of op ’n proporsionele beoordeling van mededingende belange die beperkings op privaatheid wat deur regulasies 3(3) en 19(1) toegelaat word, die grondwetlikheidstoets slaag, met inagneming van alle tersaaklike faktore wat in artikel 36(1) van die grondwet vervat is. Dit is ’n verdere grondwetlike aangeleentheid wat deeglike ontleding in ’n toekomstige artikel vereis.