Curbing company phoenix activity through the application of fraudulent and reckless trading provisions

Authors: A Basson and K Van der Linde

ISSN: 1996-2207
Affiliations: LLD student, University of Johannesburg; Professor of Corporate Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 31-43
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a3

Abstract

Na analogie van die mitiese voël wat uit sy eie as herrys, word die term feniksaktiwiteit gebruik om te verwys na die verskynsel waar ’n sukkelende (ou) maatskappy vervang word met ’n tweede (nuwe) maatskappy wat wesenlik dieselfde besigheid bedryf en wat deur dieselfde persone beheer word.

Die gemeenskaplike onderskeidende kenmerke van alle onwettige of bedrieglike feniksbedrywighede is dat die ou maatskappy se bates of besigheid sonder voldoende teenwaarde aan die tweede maatskappy oorgedra word en dat daar die bedoeling is om skuldeisers te bedrieg deur die afdwinging van hul eise te ontduik. Hoewel hierdie verskynsel in ander jurisdiksies ondersoek is, en dit selfs tot regshervorming gelei het, is daar nog nie in Suid-Afrika daaraan aandag geskenk nie. Die artikel toon aan dat sulke gevalle wel in Suid-Afrika voorkom.

Die outeurs ondersoek die geskiktheid van bepalings oor die bedrieglike of roekelose bedryf van maatskappye se besigheid as maatreëls om skadelike feniksbedrywighede te beperk of die gevolge daarvan aan te spreek. In hierdie verband word ondersoek ingestel na artikel 22 van die Maatskappywet 71 van 2008 in samehang met verwante bepalings asook die bekende artikel 424 van die herroepe Maatskappywet 61 van 1973, wat as deel van hoofstuk 14 van daardie wet steeds as oorgangsmaatreël geld ten opsigte van maatskappye in likwidasie.

Die gevolgtrekking is dat, hoewel onwettige feniksbedrywighede as die bedrieglike bedryf van besigheid aangemerk kan word, hierdie bepalings nie behoorlik toegepas word nie. Daar is ’n oordrewe fokus op private afdwinging deur middel van statutêre siviele aanspreeklikheid, wat nie ingevolge die 2008-wet blyk moontlik te wees nie. Van openbare afdwinging deur middel van strafregtelike vervolging asook deur middel van die Maatskappye en Intellektuele kommissie se bevoegdhede om klagtes te ontvang en te ondersoek en in gepaste gevalle te beveel dat ’n maatskappy sy besigheidsbedrywighede moet staak, kom daar nie veel nie. Groter bewustheid van die feniksverskynsel mag dalk tot beter afdwinging van die verbod op bedrieglike of roekelose handeldryf lei. Bepalings wat spesifiek teen die tipiese eienskappe van fenikspraktyke gerig is, behoort ook oorweeg te word aangesien dit kan bydra tot die voorkoming van sodanige aktiwiteit.