Electronic signatures: where to next?
Author: Lee Swales
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer in Business and Cyber Law, University of KwaZulu-Natal
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 76-91
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a4
Abstract
Die afgelope paar jaar het die samelewing toenemend staatgemaak op moderne tegnologie – veral sedert Covid-19 en die reeks beperkinge ingevolge die Wet op Rampbestuur 57 van 2002. Daar word selfs na data verwys as die wêreld se nuwe vorm van olie. In die lig van hierdie paradigmaskuif, word daar al hoe meer gebruik gemaak van elektroniese handtekeninge. Die hoogste hof van appèl het onlangs, by twee gelenthede, elektroniese handtekeninge en die toepaslike wetlike raamwerk oorweeg: eerstens in November 2014 in Spring Forest Trading CC v Wilberry (Pty) Ltd t/a Ecowash en tweedens in Maart 2020 in Global & Local Investments Advisors (Pty) Ltd v Fouche. Ongelukkig het die jongste uitspraak gelei tot ’n mate van onsekerheid oor die manier waarop die regsraamwerk geïnterpreteer moet word. Op die oog af blyk die Global & Local-saak teenstrydig te wees met die Spring Forest-saak en artikel 13 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies 25 van 2002. Die oogmerk van die outeur met hierdie artikel is om die toepaslike wetlike raamwerk met betrekking tot elektroniese handtekeninge te evalueer en krities kommentaar te lewer op die bevindings wat in die Spring Forest– en Global & Local-sake gemaak is, met die doel om voorstelle te maak oor: i) die wyse waarop hierdie twee uitsprake van die hoogste hof van appèl geïnterpreteer moet word, in die lig van die wet en ander relevante regspraak en ii) die pad vorentoe vir toekomstige regsgedinge. Na die beslissing in die Spring Forest-saak, is algemeen aanvaar dat waar ’n kommersiële ooreenkoms gebruik maak van die begrippe “skrif” en “handtekening”, databoodskappe aan hierdie vereistes kan voldoen, as daar aan die spesifieke vereistes in die wet voldoen word. Hierdie bevinding was sinvol en het rekening gehou met moderne ontwikkelinge. Na die uitspraak in die Global & Local-saak bestaan daar egter twyfel of ’n “handtekening” uitgevoer kan word deur ’n elektroniese handtekening via databoodskap te gebruik. Die jongste uitspraak dui daarop dat as partye elektronies ’n ooreenkoms wil onderteken, ’n elektroniese “handtekening” (spesifiek met die uitsluiting van die woord elektronies) uitdruklik in die ooreenkoms vermeld moet wees: met ander woorde, hierdie uitspraak vereis dat partye vooraf ooreenkom dat ’n elektroniese ooreenkoms toelaatbaar is, en dit veroorsaak twyfel of die begrip “handtekening” ’n elektroniese handtekening insluit. Hierdie artikel voer aan dat die Global & Local-saak regsekerheid ondermyn. Wat word benodig om vorentoe te beweeg? Eerstens, duidelikheid of die begrip “handtekening” ’n elektroniese handtekening insluit. Tweedens, ’n bevestiging dat ’n elektroniese handtekening, soos dit tans verwoord is, nie gebruik kan word om ’n ooreenkoms vir die verkoop van vaste eiendom, ingevolge Wet 25 van 2002, aan te gaan nie. Twyfel is geskep in die onlangse beslissing in Borcherds v Duxbury 2021 1 SA 410 (OKP). Derdens, bevestiging van ’n hooggeregshof oor watter faktore in ag geneem moet word by die bepaling of ’n elektroniese handtekening betroubaar is. In die vierde plek, en hierdie punt is aanvegbaar, kan dit met die oog op moderne ontwikkelinge die moeite werd wees om weer te kyk of die wet gewysig moet word, vir die gebruik van elektroniese handtekeninge in ooreenkomste vir die verkoop van vaste eiendom.