Error 404 or an error in judgment? An ethical framework for the use of ChatGPT in the legal profession

Author: M Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Private Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2024, p. 469-490
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i3a4

Abstract

Daar is geen kortpaaie om reg te praktiseer nie, maar dit is nie ongewoon dat regspraktisyns bystand of raad vir hul werk soek nie. Dit kan gedoen word deur kollegas asook tradisionele regsdatabasisse te nader. Onlangs het die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie egter waargenome “kortpaaie” vir regsnavorsing verskaf. Die gebruik van tegnologieë, soos ChatGPT, vir regsnavorsing is ’n nuwe kwessie wat in verskeie hofsake in Suid-Afrika, die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk asook Kanada afgespeel het.
In hierdie artikel word die gerapporteerde gevalle van die gebruik van ChatGPT in hierdie jurisdiksies ondersoek om die etiese en professionele slaggate in regspraktisyns se gebruik van ChatGPT vir regsnavorsing te bepaal. Hier word die risiko’s van die gebruik van ChatGPT vir regsnavorsing uitgelig; spesifiek die gebruik van vals of vervaardigde informasie en regsake, wat grootliks voortspruit uit ChatGPT se tegniese tekortkominge. Tog is daar voorbeelde waar regspraktisyns ChatGPT gebruik het sonder om die resultate te verifieer, wat daartoe gelei het dat regspraktisyns in verskeie gevalle aanspreeklik gehou is vir sulke gedrag. Teen hierdie agtergrond bied die artikel ’n etiese en professionele raamwerk vir die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologieë in die regspraktyk,
wat opgesom kan word as: (i) daar is niks verkeerd om kunsmatige intelligensie tegnologie te gebruik in ’n regspraktyk nie, maar alhoewel die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie aanvaarbaar is, kan die blinde aanvaarding van sulke inligting etiese en professionele uitdagings skep, (ii) ’n regspraktisyn moet bewus wees of kunsmatige intelligensie tegnologie gebruik word in die voorbereiding van hof- of ander dokumente, (iii) daar is geen plek vir sorgeloosheid in die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologieë nie, aangesien sulke sorgeloosheid kan lei tot die misleiding van die hof en medepraktisyns, (iv) waar kunsmatige intelligensie tegnologie gebruik is om hof- of ander dokumente voor te berei, moet ’n regspraktisyn verseker dat toepaslike stappe geneem word om die akkuraatheid van die inligting van kunsmatige intelligensie stelsels te verifieer, en (v) ’n regspraktisyn het algemene verantwoordelikheid oor die toesig van alle regsdienste wat gelewer word, ongeag of hulp van ander mense of kunsmatige intelligensie tegnologie ontvang word.
Onkunde van ’n regspraktisyn se etiese en professionele pligte in hierdie omstandighede is geen verskoning nie, veral in verband met die vermoëns en beperkings van kunsmatige intelligensie tegnologie. Nietemin, regspraktisyns kan nie verwyder word van die regspraktyk nie en dit is die regspraktisyn se verantwoordelikheid om die inligting te verifieer, ongeag die bron van die inligting. Indien hierdie etiese en professionele pligte nie nagekom word nie, kan regspraktisyns onderworpe wees aan sanksies en dissiplinêre stappe.