Fundamental procedural rights of civil litigants in Australia and South Africa: is there cause for concern? (part 2)
Authors Wouter Le R De Vos and Theo Broodryk
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Law, Curtin University, Western Australia; Visiting Professor, University of Johannesburg; Associate Professor and Manager: Legal Aid Clinic, University of Stellenbosch.
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2019, p. 627 – 639
Abstract
Die artikel oorweeg die verskillende wyses waarop fundamentele prosedurele regte van siviele litigante in beide Australië en Suid-Afrika erken word. Die artikel oorweeg verder die mate waartoe modern hervormings wat tot die siviele prosesregsisteme van voorafgaande jurisdiksies aangebring is hierdie regte beïnvloed. Die moderne hervormings wat in die artikel bespreek word hou primêr verband met die toenemende behoefte in hedendaagse gemeenregtelike sisteme aan prosedures wat daarop gemik is om siviele dispute op ’n goedkoper, vinniger en meer effektiewe wyse op te los. Die artikel oorweeg gevolglik of die Australiese- en Suid-Afrikaanse prosesregtelike sisteme op die regte pad is betreffende die beskerming van partye se fundamentele regte en of daar rede tot kommer behoort te wees. In beide Australië en Suid-Afrika speel geregtelike saakbestuur ’n toenemende belangrike rol gedurende litigasie, met die gevolg dat geregtelike saakbestuurders se magte voortdurend aan die uitbrei is. Daar bestaan ook voortdurende meedoënlose druk om weg te beweeg van verhore en om van alternatiewe geskilbeslegting, veral bemiddeling, gebruik te maak om siviele dispute op te los. In die artikel argumenteer die outeurs dat hierdie hervormings om verskeie redes ’n ontkenning van siviele litigante se fundamentele regte tot gevolg kan hê.
Die breë spektrum van magte wat aan geregtelike saakbestuurders verleen word om prosedurele beslissings te maak kan ’n nadelige effek hê op die wyse waarop ’n party sy of haar saak pleit en voorlê vir geskilbeslegting. In die artikel argumenteer die outeurs dat dit ’n onregverdigbare beperking op ’n party se reg om gehoor te word tot gevolg kan hê. Die outeurs argumenteer verder dat die toenemende beweging weg van verhore en meer na alternatiewe geskilbeslegting die belangrike grondwetlike rol van die howe in siviele geskilbeslegting en die ontwikkeling van die reg kan benadeel. Dit maak verder ook inbreuk op ’n persoon se reg op toegang tot die howe.