Governance failures in South African public higher education institutions – lessons to be learnt from company law

Authors: CJ Van der Walt and MK Havenga

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Associate, University of Johannesburg; Emeritus Professor, University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2023, p. 647 – 659
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i4a3

Abstract

Sedert 1996 is die hoëronderwyslandskap talle kere deur die wetgewer ondersoek met die oog op verbetering. Die vernaamste wetgewing wat universiteite beheer, is die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997. Dié wetgewing is in vele opsigte merkwaardig. Die rede daarvoor is dat die rolspelers betrokke by hoër onderwys hard baklei het om hul eie belange voorop te stel toe die wetgewing ter tafel was. Op die einde is ’n spreekwoordelike pakt gevorm wat beoog het om drie ongedefinieerde en dikwels teenstrydige konsepte met mekaar te versoen, naamlik akademiese vryheid, institusionele outonomie en openbare verantwoordbaarheid. Waar die spilpunt tussen hierdie drie moet wees, was altyd in dispuut, maar op die einde is dit in ’n groot mate oorgelaat aan openbare universiteite om hulself te reguleer en te administreer. Daarenteen moet private hoëronderwysinstellings volgens die Maatskappywet geïnkorporeer word en moet voldoen aan die statutêre raamwerk geskep vir korporatiewe bestuur deur daardie wet.
Die geskiedenis het bewys dat die vertroue wat deur die wetgewer in die integriteit, eerlikheid en bekwaamheid van raads- en bestuurslede van openbare universiteite geplaas is, heeltemal misplaas was. Die ineenstorting van korporatiewe bestuur by talle van die 26 openbare universiteite speel in die openbare domein af, maar nog grootliks in die afwesigheid van regspraak om leiding te gee.
Die skrywers gee ’n oorsig van sommige van die ineenstortings van korporatiewe bestuur by openbare universiteite. Die oogmerk is om daaruit te identifiseer wat die knelpunte is wat aangespreek behoort te word. Die wetgewer het probeer om die situasie te beredder deur bestaande maatreëls te verskerp wat ineenstorting van korporatiewe bestuur by openbare universiteite aanspreek, en verdere maatreëls in te stel. Dit wat steeds in die openbare domein afspeel, bewys dat nie veel aan die saak verander het nie. Duidelik is ’n veel beter statutêre raamwerk nodig om die kernprobleem aan te spreek, naamlik die gebrek aan voldoende formele regsreëls om aanvaarbare praktyke van korporatiewe bestuur by openbare universiteite af te dwing.
Die skrywers doen aan die hand dat dit nie nodig is om die spreekwoordelike wiel te herontwerp nie. Die Maatskappywet bevat reeds ’n bloudruk wat as voorbeeld gebruik kan word vir ’n behoorlike regsraamwerk vir korporatiewe bestuur by openbare universiteite. Die skrywers verwys na bepaalde gevalle waarvoor daar aan die hand van bepalings van die Maatskappywet voorsiening gemaak kan word vir die regsposisie van raads- en bestuurslede van openbare universiteite. Hierdie maatreëls hou verband met die standaard wat verwag word van sodanige trustees van nasionale belange se gedrag ten einde klaarheid en verantwoordbaarheid te bewerkstellig, hul verpligting en aanspreeklikhede, hul vertrouens-, sorg- en vaardigheidsverpligtinge, hul aanspreeklikheid om as misdadigers verklaar te word, en hul gevolglike dwangmatige verwydering uit poste sou hul skuldig bevind word aan optrede wat nie met die beginsel van uberrima fides ooreenstem nie. Sodanige maatreëls sal verantwoordbaarheid, deursigtigheid en goeie korporatiewe bestuur van openbare universiteite bevorder.