Is a scheme rule prohibiting the keeping of animals in a sectional title scheme invalid? Lessons from the landmark decision of the New South Wales court of appeal

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Research Fellow, Department of Private Law, University of Stellenbosch, Emeritus Professor in Civil Law, University of Aberdeen
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 456-473
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a3

Abstract

Die beslissing van die appèlhof van Nieu-Suid-Wallis in die Cooper-saak en die regsgevolge daarvan, toon dat die redelikheidskriterium ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal of ’n skemareël wat die aanhou van huisdiere verbied onredelik en dus ongeldig is. Die aanwending van die redelikheidskriterium bied ook ’n aanduiding of die weiering van die trustees om hulle toestemming tot die aanhou van ’n dier te verleen onredelik is en gevolglik deur die hof vervang kan word met ’n beslissing dat die dier wél aangehou mag word.

Die outeur toon dat die drieledige toets waarop die hof in die Cooper-saak gesteun het om die skemareël wat ’n algehele verbod op die aanhou van diere geplaas het, ongeldig te verklaar, ooreenstem met die Suid-Afrikaanse redelikheidtoets. ’n Algemene verbod op die aanhou van diere is onredelik en dus ongeldig omdat dit die erkende eiendomsbevoegdheid om ’n huisdier aan te hou, ontken.

Die voorgeskrewe skemareëls is nie op ’n kontrak gebaseer nie, maar verskaf eerder ’n raamwerk waarvolgens harmonie in die skema bewerkstellig kan word. Daarom maak dit nie saak of die gewraakte reël deur ’n eenparige of ’n spesiale besluit ingevoer is nie. Die beslissing van die ombud of die hof moet op ’n objektiewe redelikheidstoets berus. ’n Skemareël wat die aanhou van diere sonder meer verbied is onredelik en dus ongeldig omdat sodanige reël nie ’n meganisme aan die trustees verleen om die unieke omstandigheid van die eienaar of dier in ag te neem om die aanhou van die dier te bewillig of af te keur nie. Die reël beperk die erkende eiendomsbevoegdheid om diere aan te hou onredelik en onnodiglik. Dit volg nie ’n gebalanseerde benadering tot die velerlei belange wat by die aanhou van diere ter sprake is nie, maar beklemtoon eerder die belange van eienaars wat sonder meer teen die aanhou van diere in die skema gekant is.