Is South African copyright law out of fashion? The problem with section 15(3A) of the Copyright Act 1978
Author: S Karjiker
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Anton Mostert Chair of Intellectual Property Law, Professor in Mercantile Law, Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2022, p. 246-265
Abstract
In hierdie artikel toon die outeur dat kreatiewe persone, soos mode-ontwerpers, as gevolg van die omvang van die uitsondering in artikel 15(3A) van die Wet op Outeursreg 98 van 1978, en die daaropvolgende geregtelike interpretasie daarvan, by gebrek aan geregistreerde ontwerpersbeskerming of ’n eis weens onregmatige mededinging, geen effektiewe beskerming geniet om die kopiëring van hul skeppings te voorkom nie. Daar was ’n paar gevalle wat gepubliseer is, van beweerde kopiëring van Suid-Afrikaanse ontwerpers. Die voorstelle dat sodanige optrede ’n skending van outeursreg daarstel, toon gebrek aan begrip van artikel 15(3A). Trouens, die gebrek aan begrip van artikel 15(3A) van die wet dui daarop dat daar onvoldoende waardering is vir die impak en implikasies daarvan, vir die sogenaamde modereg. Artikel 15(3A) poog om die sogenaamde ontwerp-kopiereg-koppelvlak te reguleer. In die afwesigheid van ’n bepaling soos artikel 15(3A), sal kopieregbeskerming na industriële artikels uitgebrei word deur die industriële ontwerpe, of prototipes, waarop die artikels gebaseer is, te beskerm. As gevolg van die omvang en duur van beskerming wek daardie tipe beskerming ernstige kommer oor die sosiale koste van kopiereg op hierdie gebied, veral met betrekking tot artikels soos onderdele. Dit sal lei tot die skep van monopolieë ten opsigte van industriële artikels soos onderdele. Die bydrae bied ’n oorsig van die historiese ontwikkeling van die regulering van die ontwerp-kopiereg-koppelvlak, waarvan artikel 15(3A) die jongste voorbeeld is. Benewens ’n ontleding van die effek van artikel 15(3A), veral met betrekking tot die beskerming van mode, ondersoek die outeur in die artikel ook hoe die ontwerpkopiereg- koppelvlak in die Verenigde Koninkryk se Wet op Kopiereg, Ontwerpe en Patente van 1988 gereguleer word. Hoewel die wetgewer met artikel 15(3A) probeer om wesenlike bekommernisse aan te spreek, word deur die outeur aangevoer dat die bepaling te wyd is. Dit het tot gevolg dat skeppings wat wel een of ander vorm van beskerming verdien, nie die nodige beskerming kry nie, of selfs beskerming geweier word. Die situasie is onbevredigend en moet aangespreek word deur die skepping van ’n nuwe, outomatiese vorm van beskerming vir kreatiewe persone soos mode-ontwerpers. Hierdie beskerming behoort die vorm aan te neem van ’n ongeregistreerde ontwerpreg.