Liability arising from traffic accidents involving self-driving cars in private international law

Authors: J Neels and E Fredericks

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Private International Law and director of the Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg; Associate Professor of Private International Law and deputy director of the Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2024, p. 510-526
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i3a6

Abstract

Die onderhawige bydrae handel oor die internasionaal-privaatregtelike aspekte van deliktuele en skuldlose aanspreeklikheid wat uit verkeersongelukke kan volg waarby selfbesturende motors betrokke is. Die aangeleentheid word bespreek teen die agtergrond van die vergelykende aanwysingsreg insake onregmatige dade. Verskeie aspekte van die tersake verwysingsreëls kom ter sprake: die historiese vertrekpunt van die lex loci delicti; die vraag of daardie begrip verwys na die reg van die land van die deliktuele handeling (die lex loci delicti commissi) of na die reg van die land van die deliktuele skade of nadeel (die lex loci damni); die vraag of die lex loci damni slegs verwys na die reg van die land van die direkte of ook van die indirekte nadeel; die leer van die mees noue verbintenis met die partye en die beweerde onregmatige daad; ’n via media tussen die twee heersende benaderings (reg van nouste verbintenis of die lex loci delicti as vertrekpunt); verskeie ontsnappingsmeganismes; die begunstigingsbeginsel en die verval van die Engelsregtelike dubbele aanspreeklikheidsbeginsel.
Die Suid-Afrikaanse regspraak en dogmatiek word in verband gebring met die benaderings op die globale vlak. In hierdie verband word daar gefokus op twee toonaangewende uitsprake, naamlik Burchell v Anglin van 2010 en East Asian Consortium BV v MTN Group Ltd van 2022. Enkele verwysings word ook gemaak na die uitspraak in Various Parties obo Minors v Anglo American SA Ltd uit 2023, waar die hof die reg van toepassing op die beweerde delik moes vasstel in die konteks van die bepaling van die reg van toepassing op bevrydende verjaring. Die Burchell-saak volg ’n benadering soortgelyk aan dié van die Amerikaanse beslissing in Babcock v Jackson maar die East Asian Consortium-uitspraak ondersteun ’n voorstel van Forsyth. Volgens die Burchell-saak moet alle tersake koppelfaktore in ag geneem word by die bepaling van die reg van nouste verwantskap. Die locus delicti kan ’n belangrike rol in die verband speel. In die East Asian Consortium-uitspraak speel die lex loci delicti commissi die rol van vertrekpunt maar met behoud van ’n sekere buigsaamheid.
Geen uitsprake is reeds gerapporteer oor die toepaslike reg op deliktuele aanspreeklikheid waar selfbesturende motors betrokke was nie. Die skrywers doen tentatief aan die hand dat deliktuele aanspreeklikheid wat uit verkeersongelukke kan volg in die geval waar selfbesturende motors betrokke is, deur die volgende regstelsels beheers moet word en wel ter keuse van die eiser: die reg van die deliktuele daad, die reg van die deliktuele nadeel en die lex fori. Daarnaas kan die eiser aantoon dat ’n ander regstelsel wesenlik nouer aan die aangeleentheid verwant is, wanneer daardie regstelsel toegepas moet word. Daar word in dié verband verwys na die volgende faktore wat ’n eiser-vriendelike benadering aandui: die behoefte om slagoffers van die nuwe tegnologie te beskerm; die moeilikhede met die bewys van nalatigheid in die spesifieke verband; die grondwetlike beskerming van menswaardigheid, lewe, liggaamlike en psigiese integriteit, privaatheid en eiendom; die grondwetlike waarde van sosiale geregtigheid en, in die algemeen, ’n sosiale benadering tot die reg. Die voorgestelde oplossing mag ook in die algemeen vir die internasionale deliktereg van belang wees. Daar word verder kortliks ingegaan op produkteaanspreeklikheid in verband met selfbesturende motors in die internasionale privaatreg.
Die bydrae behandel die aangeleentheid vanuit ’n historiese en regsvergelykende hoek. Daar word onder meer verwys na aspekte van (of skrywers verbonde aan) die reg van Australië, Botswana, Duitsland, Ghana, Indië, Kanada, Nieu-Seeland, Nigerië, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika, asook na tersake internasionale en supranasionale instrumente, naamlik twee Haagse konvensies en ’n Europese regulasie.