Mind the misnomer: juxtaposing discriminatory intent with motive in relation to grievous religious persecution
Author: Werner Nicolaas Nel
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer, Faculty of Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 424 – 458
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a3
Abstract
Verskeie hedendaagse verskynsels van massa-diskriminerende gruweldade word óf in die naam van godsdiens óf op grond van die slagoffers se godsdienstige identiteit gepleeg. Gevolglik kan die vryheid om ’n godsdiens te kies en in die naam daarvan op te tree ’n tweeledige effek hê in die konteks van die internasionale strafreg, oënskynlik in terme van die onderskeid tussen “godsdiensgebaseerde vervolging” en “godsdiensgemotiveerde vervolging”. Dit is daarom ’n wanopvatting dat godsdienstige onverdraagsaamheid (vooroordeel gebaseerde godsdienstige motief) die katalisator is vir sulke massa-diskriminerende gruweldade. Dit is meer akkuraat om, waar van toepassing, te onderskei tussen vervolgingsvergrype wat gemotiveer is deur godsdiens en vervolgingsvergrype gebaseer op die slagoffers se godsdienstige oortuigings. Alhoewel beide verskynsels betreurenswaardige dade van miskenning van gelykheid en menswaardigheid is, kan beide gepleeg word sonder ’n onderliggende godsdienstige onverdraagsaamheid. Terwyl eersgenoemde oorwegend gepaard gaan met waarom die vervolging gepleeg is (godsdiens as die katalisator van motief), oorweeg laasgenoemde teen wie die vervolging gerig was (godsdiens as die identifiserende element). Dit is gebaseer op die onderskeid tussen die mens rea-elemente van “opset” en “motief”, wat nie uitgeklaarde konsepte is wat ’n eenvoudige, duidelike onderskeid toelaat nie. Trouens, motief word oor die algemeen beskou as irrelevant in die vasstel van strafregtelike aanspreeklikheid vanweë die sui generis-aard daarvan, wat kompleks, veelvuldig en onderling verwant kan wees. Godsdiensmotief en godsdiensgerigte diskriminerende opset vervleg egter dikwels – veral met godsdienstige onverdraagsaamheid – in welke geval ’n onderskeid tussen motief en opset kunsmatig en oorbodig is. Kwansuis is “motief” egter van belang om die aard van vervolgingsvergrype te verstaan. Gevolglik stel die artikel die diskriminerende opset om te vervolg naas die motief vir vervolgingsvergrype om sodoende die rol van godsdiens in die konseptualisering van godsdiensgebaseerde vervolging as ’n misdaad teen die mensdom in terme van die Statuut van Rome (sogenaamde “gruwelike godsdiensgebaseerde vervolgingsvergrype”) te verduidelik.