Pathways to review available to an organ of state acting in the public interest: the unintended loophole of the Gijima “exceptions”
Authors: C Green and MP Fourie-Viljoen
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate at Cheadle Thompson and Haysom Inc Attorneys; Associate at Cheadle Thompson and Haysom Inc Attorneys
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2024, p. 491-509
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i3a5
Abstract
Dit is ’n algemeen aanvaarde reël in die Suid-Afrikaanse administratiefreg dat ’n applikant wat die geregtelike hersiening van ’n administratiewe handeling verlang, nie ’n keuse het tussen hersiening kragtens die Promotion of Administrative Justice Act (3 van 2000), en hersiening kragtens die gemeenregtelike legaliteitsbeginsel nie. Die korrekte regsmiddel tot geregtelike hersiening word bepaal deur die aard van die handeling – as die handeling administratief van aard is, reël die wet die hersiening, as die handeling uitvoerend van aard is, geld die legaliteitsbeginsel.
Die konstitusionele hof se uitspraak in State Information Technology Agency SOC Limited v Gijima Holdings (Pty) Limited (2018 2 SA 23 (KH)), het hierdie aanvaarde ortodoksie as regsinnigheid omvergewerp deur te bepaal dat staatsorgane wat aansoek doen om hulle eie administratiewe handeling te laat hersien, hulle nie op die wet kan beroep nie. Die uitspraak het fel akademiese kritiek uitgelok en is uitgemaak as verwarrend én teoreties ongegrond. Die uitspraak het nietemin twee sogenaamde “uitsonderings” op die “reël” in die vooruitsig gestel: die dicta is uitdruklik nie bedoel om staatsorgane wat ander staatsorgane se handelinge wil hersien, of staatsorgane wat optree in die publieke belang, te bind nie.
In hierdie artikel bespreek die outeurs die onvoorsiene gevolge van hierdie twee “uitsonderings” met verwysing na ander onlangse regspraak. Die fokus is op die tweede uitsondering en wys dat hierdie uitsondering ’n kenmerkende skuiwergat in die Gijima-beginsel, soos dit bekend staan, laat. Die artikel onderskei eers tussen geregtelike hersiening kragtens die wet en die legaliteitsbeginsel. Daarna word die Gijima-uitspraak geanaliseer, en die daaropvolgende akademiese kritiek bespreek. Verder word drie onlangse uitsprake deur hoë howe wat die Gijima-beginsel toepas, bespreek, om veral die uitwerking van die twee Gijima-uitsonderings te bestudeer.
Daar word betoog dat die Gijima-uitsondering met betrekking tot staatsorgane wat in die publieke belang optree, asook daaropvolgende toepassings daarvan, daartoe lei dat staatsorgane nou hulleself kan beroep op óf die wet óf die legaliteitsbeginsel. Hierdie gevolg is direk teenstrydig met die beginsel dat ’n applikant nie sodanige keuse het nie. Die artikel bespreek ook hoe die besondere bewoording in die Gijima-saak dit oënskynlik onmoontlik maak vir ander howe as die konstitusionele hof om ’n ander interpretasie van die Gijima-saak te ontwikkel.