PRASA’s open-door commuter trains remain a reliable source of income for legal practitioners: a survey of recent case law

Author: TJ Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor Extraordinarius in Private Law, University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2024, p. 189-221
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i2a1

Abstract

Ofskoon die spoorwegstelsel in Suid-Afrika reeds vroeg ontwikkel het en tydens die vorige eeu ’n hoogtepunt van effektiwiteit én diensbaarheid bereik het, het dit oor die laaste dekades erg verval, in die besonder wat pendeldienste deur voorstedelike treine betref. Hierdie toestand het aanleiding gegee tot die stigting van die Rail Commuters Action Group wat in 2005 in Rail Commuters Action Group v Transnet t/a Metrorail daarin geslaag het om die konstitusionele hof daarvan te oortuig dat die Passenger Rail Agency of South Africa (PRASA) wat vir pendeldienste verantwoordelik is, ’n publiekregtelike verpligting het om pendelaars veilig te vervoer. Dieselfde hof het in 2016 in Mashongwa v Passenger Rail Agency of South Africa beslis dat PRASA se verpligting teenoor pendelaars ook privaatregtelik van aard is en dat verbreking daarvan die grondslag van ’n deliktuele vordering kan vorm.
In 2023 is daar verskeie uitsprake in die SAFLII hofverslae gerapporteer, waarvan die volgende vyf gehandel het oor beserings opgedoen deur pendelaars wat tydens hul reis by oop treindeure uitgeval het en ernstig beseer is: Mthethwa v Passenger Rail Agency of South Africa (PRASA), Maphela v Passenger Rail Agency of South Africa, Mathekga v Passenger Rail Agency of South Africa, Mavhungu v Passenger Rail Agency of South Africa en Davids v The Passenger Rail Agency of South Africa. In hierdie bydrae word elk van hierdie uitsprake krities ontleed om te bepaal hoe die howe die geykte beginsels van die deliktereg probeer toepas om die toenemende aantal sake van dié aard te besleg.
Slegs een van die uitsprake is as rapporteerbaar aangemerk (die Maphela-saak), wat aanduidend is van die feit dat die regters (met die uitsondering van die voorsittende beampte in die Davids-uitspraak almal waarnemend) nie van oordeel was dat hulle oorspronklike bydraes tot die regspleging gemaak het nie. Ofskoon dit die geval blyk te wees, bied hul uitsprake waardevolle voorbeelde vir die praktyk van hoe veral die onregmatigheids- en nalatigheidselement van die onregmatige daad in dié soort geval benader en toegepas word. Ongelukkig skiet meeste van hierdie uitsprake in ’n mindere of meerdere mate tekort ten aansien van die hantering van die regsteorie, byvoorbeeld wat die uiteensetting en toepassing van die toets vir nalatigheid betref. Dit kom ook voor of daar nie deurgaans duidelikheid heers oor die grense van die onregmatigheids- en nalatigheidselemente nie. Verder blyk dit dat die meerderheid regters tevrede was om die kousaliteitsvraag slegs met verwysing na feitelike kousaliteitsbeginsels te besleg, sonder om juridiese kousaliteit uitdruklik te oorweeg.
Dit blyk duidelik dat dringende stappe nodig is om die infrastruktuur van ons pendel-spoorverkeer te verbeter ten einde te verhoed dat die soort ongeval wat in hierdie bydrae onder die loep geneem word, voortduur, of selfs vererger. Tot tyd en wyl dit geskied, sal PRASA se treine met oop deure ’n betroubare inkomstebron vir regpraktisyns verseker.