
REGSPRAAK
Prescription of legal professional negligence claims: trailblazing or leading up the garden path of The Prescription Act?
Author: Y Joubert
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2025, p. 401-411
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i2a13
Abstract
In Le Roux v Coetzee moes die konstitusionele hof beslis of ’n eis gegrond op ’n regspraktisyn se professionele nalatigheid verjaar het ingevolge artikel 12(3) van die Verjaringswet 68 van 1969, al dan nie. Die appellante het ’n prokureur, die tweede respondent, genader om ’n opsie om grond te koop namens hulle uit te oefen. Die mandaat het hy nie nagekom nie omrede hy versuim het om te voldoen aan artikel 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981 (as agent, moes hy skriftelike magtiging van die appellante ontvang het om die opsie namens hulle uit te oefen en dít is nie gedoen nie). Tweede respondent se terugvoer aan die appellante was dat hy wel gepoog het om die opsie te bewerkstellig, maar hy is meegedeel dat die plaas ter sprake reeds aan iemand anders verkoop is.
Die appellante het ’n aksie in die hooggeregshof ingestel teen die eksekuteur van die boedel en die nuwe eienaar van die plaas vir restitusie en skadevergoeding gebaseer op vermeende kontrakbreuk. Die eis was onsuksesvol omdat nie voldoen is aan artikel 2(1) van Wet 68 van 1981 nie. Ter sprake is die feit dat die appellante vir die eerste keer tydens hierdie verhoorverrigtinge kennis gekry het van die tweede respondent se nienakoming van daardie tersake artikel van Wet 68 van 1981. Hierdie nuwe kennis het gelei tot die instelling van ’n afsonderlike eis in die hooggeregshof, die keer teen die tweede respondent, gebaseer op sy nienakoming van die mandaat en sy nalatigheid. Die respondente (die regspraktyk én die betrokke prokureur) het ’n spesiale pleit van verjaring geliasseer. Die hof het dié pleit afgewys en het die vordering in die mandant as appellante se guns beslis.
Teen die beslissing van die hof van eerste instansie het die respondente geappelleer na die hoogste hof van appèl. Hierdie hof het beslis dat die lasgewer se eis uitgewis is deur verjaring. Die hof beslis dat die opdraggewer reeds in 2003 oor alle materiële feite beskik het om ’n eis van professionele nalatigheid te kon instel teen die lakse prokureur maar dat hulle dit nie binne die bestek van die voorgeskrewe drie jare gedoen het nie. Dit was die onvergenoegde mandator se beurt om daarteen te appelleer en hulle het hul tot die konstitusionele hof gewend. Die resultaat was drie beslissings met dieselfde uitkoms, naamlik dat die appellante wél kans gegun word om die hoogste hof van appèl se beslissing op appèl te neem. Die redenasie van die onderskeie beslissings is egter verskillend.
Volgens die meerderheidsbeslissing was dit nodig om ’n eksepsie te skep ten einde die appellante te begunstig. Die algemene reël aangaande artikel 12(3) van die Verjaringswet is dat hierdie artikel die kennis van feite as bepalende element veronderstel om die aanvang van die verjaringstermyn te bepaal en dat kennis van regsafleidings na aanleiding van die tersake feite geen uitwerking het op die aanvang van die verjaringstermyn nie. Die meerderheidsbeslissing verwys na verskeie beslissings wat hierdie algemene reël toepas as gevestigde reg. Volgens die meerderheidsbeslissing is dit moontlik dat hierdie reël egter tot onregverdige beslissings kan lei, veral as ’n regspraktisyn se advies ter sprake is, aangesien ’n kliënt wat ongeskoold is in die reg, nie in staat is om die vermeende regsadvies se juistheid te toets nie. Volgens die meerderheidsbeslissing is die evaluering van regsadvies ’n regsafleiding. Die hof stel dus ’n beperkte eksepsie daar, wat slegs van toepassing is eerstens, op ’n eis gebaseer op die nalatigheid van ’n regspraktisyn en tweedens, as ’n regsafleiding deel vorm van die minimum feite wat ’n party benodig vir ’n suksesvolle aksie. Die eksepsie is dat die omskrywing van “feite” in sulke gevalle gesien moet word om die regsafleiding in te sluit.
Die tweede beslissing (die van regter Van Zyl) stem nie saam met die skepping van ’n spesiale eksepsie nie, aangesien dit nie in die belang van regsekerheid is om na willekeur uitsonderings van gevestigde reëls te maak nie. Volgens die beslissing van regter Van Zyl is die korrekte toepassing van die algemene reël voldoende om die remedie wat deur die appellante versoek word, daar te stel. Die stelling is dat die appellante eers in November 2007 verneem het van die nienakoming van artikel 2(1), en dat dít wel kennis van ’n “feit” daarstel. Hierdie “feit” is ingevolge artikel 12(3) nodig om die verjaringstermyn ten aansien van ’n vordering teen die onagsame mandataris te laat begin loop.
In hierdie bespreking word om die volgende redes tot die gevolgtrekking geraak dat die beslissing van regter Van Zyl meer verkieslik is as dié van die meerderheid: die gedrag van die appellante toon dat hulle eers in November 2003 kennis geneem het van die nienakoming van artikel 2(1) van Wet 68 van 1981. Voor hierdie datum het hulle aanvaar dat die aanvaardingsmandaat van hulle vir die volvoering van die opsie soos deur hul gegee aan die mandataris in orde was, maar dat die uitwerking daarvan gefnuik is deur die voorafgaande verkoop van die plaas in weerwil van die opsie. Om dié rede was die aanvanklike vordering deur hulle ingestel teen die eksekuteur van die boedel van die opsieverlener en die nuwe eienaar van die plaas. Met kennisname van die nuwe feit van nienakoming van artikel 2(1), het hulle eers besef dat hulle vordering nie teen die vermeende teenpartye lê nie, maar teen die prokureur as mandataris. Hulle remedie is gevolglik ’n eis om skadevergoeding as gevolg van professionele nalatigheid en nienakoming van die mandaat. Die kennisname van die nienakoming van artikel 2(1) is kennis van ’n feit wat hulle nie voorheen gehad het nie, asook ’n feit wat noodsaaklik is vir ’n eis gebaseer op professionele nalatigheid en daarin lê die verskil tussen hierdie saak en ander regspraak waarna in die meerderheidsbeslissing verwys word.