Promoting fair individual labour dispute resolution for South African educators accused of sexual misconduct (part 1)

Author: SA Coetzee

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor, Department of Educational Leadership and Management, College of Education, UNISA
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 29 – 42
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a2

Abstract

Die afsku van seksuele wandade met kinders verander nie die noodwendigheid dat die oppergesag van die reg erken en, uit ’n arbeidsregperspektief, billikheid in ondersoeke na bewerings nagestreef word nie. Dit is algemeen bekend dat ’n klagte van seksuele wangedrag die einde van ’n opvoeder se loopbaan kan beteken, sy of haar persoonlike lewe omverwerp, en sy of haar familie en vriende leed berokken. Die media vererger die gevolge van ’n klagte van seksuele wangedrag deurdat hulle vervolging deur die openbare mening aanvuur, en opvoeders, wat belangrike rolspelers in kinderbeskerming is, tot waarskynlike verdagtes maak. Reken hierby die verskynsel dat ’n beskuldigde op grond van bewerings skuldig bevind word, en dat klagtes teen opvoeders soms vals is. Dit is nodig dat opvoeders wat van seksuele wangedrag beskuldig word, billik behandel word. Die inwerkingtreding van Kollektiewe Ooreenkoms 3 van 2018, wat ’n ondersoek deur ’n arbiter verpligtend maak indien ’n Suid-Afrikaanse opvoeder van seksuele wandade met ’n leerder beskuldig word, maak hierdie behoefte nog dwingender. Met hierdie artikel poog die skrywer om by te dra tot die bevordering van billike geskilbeslegting vir Suid-Afrikaanse opvoeders wat van seksuele wangedrag met ’n leerder beskuldig word. Die skrywer verduidelik eerstens waarom sy van mening is dat daar ’n dwingende behoefte is aan billikheid jeens opvoeders wat van seksuele wangedrag beskuldig word. Daarna plaas sy die artikel in die toepaslike konteks deur te kyk na alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures vir individuele arbeidsgeskille. Vervolgens ondersoek sy die prosedure vir individuele geskilbeslegting wat Suid- Afrikaanse opvoeders tot hulle beskikking het as hulle hul teen ’n klagte van seksuele wangedrag met ’n leerder moet verdedig. Laastens ontleed die skrywer algemene misverstande oor arbitrasie wat billike uitkomste kan belemmer as opvoeders hulle teen klagtes van seksuele wangedrag moet verdedig. Algemene misverstande wat billikheid tydens arbitrasie kan beïnvloed, sluit in dié oor die de novoaard van arbitrasie; die bewyslas; die bewyse wat vereis word; die belang van getuienis; die reëls oor hoorsêgetuienis; probleme met getuies; die misbruik van uitstel; verteenwoordiging; en wat ’n oorsig behels. Hierdie misverstande word merendeels geïllustreer met voorbeelde uit arbitrasieverslae oor seksuele wangedrag van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys. Ander arbitrasiebepalings en hofbeslissings word eweneens genoem.