Regspraak: Claims for restitution arising from the non-fulfilment of suspensive conditions in contracts
Author: PH O’Brien
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2021, p. 823-843
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i4a8
Abstract
Die verbintenisregtelike aspek wat in hierdie saak ter sprake gekom het, kon volgens geykte regsbeginsels opgelos word. Die terugbetaling van ’n deposito en die oorbetaling van opgeloopte rente by die nievervulling van opskortende voorwaardes in ’n kontrak was ter sprake. Die voornemende koper (Afrimat) het die deposito in ’n spesiale beleggingsrekening van die voornemende verkoper (Timasani) by ’n bank inbetaal met die ooreenkoms dat die geld namens Afrimat gehou sou word en dat die opgeloopte rente Afrimat sou toekom. By die nievervulling van die voorwaardes het die sakereddingspraktisyn van Timasani geweier om die deposito terug te betaal aan Afrimat. Die gronde vir die weiering het gespruit uit ’n dispuut oor die kwantum van die afslaerskommissie waarvoor Afrimat aanspreeklikheid aanvaar het. Die hof van eerste instansie het Timasani gelas om eerstens die deposito terug te betaal aan Afrimat en tweedens die opgeloopte rente aan dit oor te betaal. Die hoogste hof van appèl het ’n appèl van die hand gewys en die hof van eerste instansie se bevinding gesteun dat die regsgeding nie deur die statutêre moratorium op regsgedinge teen maatskappye in sakeredding gestuit word nie. Laasgenoemde kwessie met gepaardgaande prosedurele kwessies val buite die bestek van hierdie bespreking. Wat die verbintenisregtelike aspek betref, is daar ’n groot waarskynlikheid dat die ware grondslag van die uitspraak eenvoudig ’n eis was vir nakoming van die kontrak dat die deposito en opgeloopte rente by die nievervulling van die voorwaardes terug- en oorbetaal moes word aan Afrimat. Die hoogste hof van appèl het egter skynbaar die eis op ’n verrykingsgrondslag toegestaan. In hierdie verband word die stelling onder andere in die uitspraak gemaak dat die kontrak terugwerkend nietig geword het by die nie-vervulling van die opskortende voorwaardes. Daar word aan die hand gedoen dat dit ’n obiter dictum was wat heeltemal onnodig was vir ’n bevinding dat ’n verrykingsvordering beskikbaar was. Ten spyte van gemeenregtelike gesag vir so ’n verstekreël, word daardie reël vandag in regstelsels gebaseer op die Romeinse reg verwerp op die basis dat dit ’n fiksie is en ’n foutiewe en onlogiese vertolking van Romeinse tekste verteenwoordig. So ’n fiksie het onverwagte en ongewenste gevolge vir derde partye wat hangende vervulling van opskortende voorwaardes regte verkry wat op die kontrak berus. Dit is derhalwe nie meer die verstekgevolg van die nievervulling van opskortende voorwaardes in verwante regstelsels nie. Dit is ook moeilik om in te sien hoe in die afwesigheid van ’n kontrak en sonder oorweging van afwykende uitsprake, die hof die eis vir oorbetaling van opgeloopte rente op ’n verrykingsgrondslag kon toestaan.