Regspraak: Court acting mero motu in making findings against a party on issues not raised with the parties and without having heard them thereon

Author: W Le R De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting Professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2024, p. 590-600
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i3a11

Abstract

In hierdie saak het drie applikante aansoek gedoen om die uitsetting van twee respondente van ’n perseel wat aan die eerste applikant behoort het. Daar was ook ’n derde respondent maar die het geen rol in die verrigtinge gespeel nie. Aangesien alternatiewe akkommodasie oorweeg sou moes word, is die stad Kaapstad as ’n vierde respondent gevoeg. Die eerste applikant was “The Trustees for the Time being of the PG Williams Family Trust”. Die trust is gestig deur Peter G Williams (Peter), ’n prokureur, en hy en sy vrou, Annastasia, was die enigste trustees. Peter het te sterwe gekom, wat beteken het dat Annastasia die enigste oorblywende trustee was. Dit het ook meegebring dat sy effektiewelik die eerste applikant was. Peter het drie eiendomme gehad ten tye van sy dood. Annastasia en haar kinders het een eiendom bewoon, ’n ander een is verhuur, terwyl die derde woning deur Annastasia aan die tweede en derde applikante verkoop is. Ingevolge die koopkontrak was laasgenoemde geregtig op ongestoorde besit (vacua possessio). Die probleem was egter dat die eerste en tweede respondente reeds vir jare die perseel bewoon het. Dit het blykbaar met Peter se stilswyende goedkeuring geskied, maar niks is op skrif geplaas nie. Die eerste respondent was Neil, 60 jaar oud en werkloos. Hy was Peter se broer. Die tweede respondent was Gladys, 87 jaar oud, swak en sorgbehoewend. Sy was beide Neil en Peter se moeder.
Namens die applikante is betoog dat, self al het die twee respondente ’n reg van okkupasie bekom, kon dit met kennisgewing aan hulle beëindig word. Sodanige skriftelike kennisgewing is inderdaad driemaal aan die respondente gegee. Volgens die applikante was die respondente se okkupasie daarna onregmatig. Die respondente het aangevoer dat hulle ’n lewenslange reg van okkupasie van Peter ontvang het, wat deur Annastasia ontken is. Hulle het egter toegegee dat sodanige reg deur kennisgewing beëindig kon word. Die respondente het dus eintlik nie ’n geldige verweer gehad nie. Gevolglik het waarnemende regter Holderness bevind dat hulle onregmatiglik in besit van die perseel was.
In die lig van artikel 26(3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 en artikel 4(7) van Wet 19 van 1998 moes die hof vervolgens oorweeg, na inagneming van alle relevante omstandighede, of dit regverdig en billik (“just and equitable”) sou wees om die respondente uit te sit. In die verband moes die regter ook oorweeg of die stad Kaapstad alternatiewe akkommodasie aan die respondente sou kon verskaf. ’n Verontrustende faktor wat die hof ook in ag geneem het, was die feit dat die eerste applikant (Annastasia) aangebied het om die tweede respondent (Gladys) in haar (Annastasia se) huis te laat woon met die hulp van ’n versorger, welke aanbod summier deur Gladys van die hand gewys is. Na oorweging van alle relevante omstandighede het die regter tot die slotsom gekom dat dit wel regverdig en billik sou wees om ’n uitsettingsbevel toe te staan. Maar ten einde die ongunstige gevolge van sodanige bevel te temper het sy sekere onderhoudsverpligtinge op die eerste applikant geplaas, wat onder andere ingehou het dat laasgenoemde ’n gekwalifiseerde en ervare versorger in diens moes neem wat die tweede respondent vir agt ure elke dag moes bystaan.
Die vraag of die hof ’n onderhoudsverpligting op ’n party kon plaas, wat nie ’n bloedverwant van die tweede respondent was nie, is nie ten aanvang as een van geskilpunte deur die regter geïdentifiseer nie. Dit is ook nie teenoor die partye se regsverteenwoordigers geopper sodat hulle betoë daaroor kon aanbied nie. Die regter het dus heeltemal mero motu opgetree toe sy tot die bevinding gekom het en die onderhoudsbevele uitgereik het.
Die vonnisbespreking gee kritiese oorweging aan die genoemde bevinding en bevele van die hof, met inagneming van die fundamentele prosesregtelike waarborge van siviele litigante. Veral van belang in die verband is die reg om aangehoor te word (audi alteram partem) en die gelykheidsbeginsel. Deur nie die oplegging van onderhoudsbevele as ’n geskilpunt te identifiseer en geleentheid aan die regsverteenwoordigers te bied om betoë daaroor aan te bied nie, het die regter versuim om die partye se reg om hulle onderskeie sake by die verhoor aan te bied en hulle opponente se sake te betwis, te eerbiedig. Sy het haarself ook van die geleentheid ontneem om die partye se argumente in ag te neem by oorweging van haar bevinding en gepaste bevele.