Regspraak: Email hackers, conveyancers and pure economic loss

Author: E Zitzke

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 145-161
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a8

Abstract

Hierdie vonnisbespreking is ’n kritiek op Edward Nathan Sonnenberg v Hawarden (2024 5 SA 9 (HHA)). Die saak handel oor epos-kuberkraking in die konteks van aktebesorging wat lei tot suiwer ekonomiese verlies. Die koper van onroerende eiendom moes die koopprys aan die aktebesorger oorbetaal. Die aktebesorger het sy bankbesonderhede per epos aan die koper gekommunikeer. ’n Kuberkraker het die epos onderskep voordat die koper dit ontvang het en het sy eie bankbesonderhede aan die koper verskaf. Die misleide koper het toe R5,5 miljoen aan die boosdoener oorbetaal. Die kuberkraker het verdwyn teen die tyd wat die waarheid na vore gekom het.

Die koper eis haar verlore miljoene van die aktebesorger in ’n deliksaksie in die hooggeregshof. In Hawarden v Edward Nathan Sonnenbergs Inc (2023 4 SA 152 (GJ)) bevind die hof van eerste instansie dat die aktebesorger onder ’n regsplig was om “nie nalatig” teenoor die eiser te handel nie. Die hof bevind ook dat die regsplig nie nagekom is nie en dat die verweerder die eiser se skade op ’n nalatige wyse veroorsaak het. Dus slaag die eiser. Terwyl die uitspraak swak gestruktureer is en konseptuele foute daarin gemaak word, bevat dit ’n paar akkurate stellings oor die beleidsoorwegings wat in ag geneem moet word by die bepaling van die onregmatigheid van die verweerder se handeling.

Op appèl beslis die hoogste hof van appèl dat die eiser om twee redes nie onregmatigheid kon bewys nie: Eerstens sou ’n bevinding van onregmatigheid lei tot onbepaalde aanspreeklikheid en tweedens was die eiser nie kwesbaar vir die risiko nie omdat sy haarself kon beskerm het teen die skade wat sy gely het.

In hierdie vonnisbespreking word daar geargumenteer dat die hoogste hof van appèl se bevinding oor onregmatigheid foutief is. Teenstrydig met die hoogste hof van appèl se bevinding, word geargumenteer dat verskeie faktore daarop dui dat onregmatigheid wél aanwesig is: (i) die feit dat die erkenning van ’n regsplig in hierdie konteks ’n inkrementele verwikkeling van die reg sou behels wat alreeds ’n regsplig erken tussen ’n prokureur en derde partye wat betalings maak; (ii) die professionele aansien van prokureurs en statutêre verpligtinge wat op regspraktisyns geplaas word; (iii) die nabye en direkte verhouding tussen die eiser en verweerder in hierdie geval; (iv) die vertroue wat die publiek in regsfirmas behoort te hê; (v) die feit dat daar geen aantoonbare risiko van onbepaalde aanspreeklikheid is nie; (vi) die feit dat die eiser se bydraende nalatigheid nie as ’n absolute verweer teen haar gebruik mag word nie; en (vii) die feit dat die tegnologiese risiko van epos-kuberkraking objektief akuut voorsienbaar is asook die verweerder se subjektiewe kennis hieroor.