Regspraak: Liability for an omission in terms of section 60(1)(a) of the South African Schools Act – a comfortable victory against the state

Author: Johan Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 547 – 564
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a10

Abstract

In hierdie saak waarin ’n prima facie oorweging van die feite daarop dui dat die eiser uit die staanspoor ’n goeie vooruitsig op sukses gehad het, is sy taak verder vergemaklik deur die wyse waarop die verdediging namens die eerste verweerder (die departement van onderwys in die Noord-Kaap) hanteer is, asook die feit dat die hof nie voldoende aandag aan die inhoud van artikel 60(1)(a) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 geskenk het ingevolge waarvan die staat aanspreeklik gestel word vir deliktuele én kontraktuele skade wat voortvloei uit die bedryf van skoolaktiwiteite by openbare skole nie. Nadat T, die eiser se elfjarige seun, die skooltoilet besoek het, kon hy dit nie laat spoel nie weens ’n tekort aan water. Toevallig het hy ’n houer met suur waarmee verstopte riole oopgemaak word in ’n ander deel van die ablusiegeriewe ontdek en, onder die indruk dat dit water bevat, het hy dit probeer aanwend as spoelmiddel. Die drastiese chemiese reaksie wat daarop gevolg het, het sy nuuskierigheid geprikkel en saam met een van sy maats het hy ’n verdere eksperiment uitgevoer deur van die vloeistof in ’n urinaal te giet. Die uiteinde hiervan was dat die hewig spattende suur op hom beland het en ernstige  brandwonde veroorsaak het waarvoor hy mediese behandeling moes ontvang. T se vader het namens hom skadevergoeding gevorder van die eerste verweerder as politieke hoof van die Noord-Kaapse onderwysdepartement onder wie se jurisdiksie die betrokke openbare skool geval het, asook van die werknemer (MK) wat die houer met suur tydens sy etensuur in die toiletgeriewe agtergelaat het. Die eis teen laasgenoemde is egter ter elfder ure laat vaar. In hierdie aangeleentheid het die hof heel oppervlakkig te werk gegaan om die eerste verweerder aanspreeklik te bevind. Ofskoon die aangeleentheid onteenseglik oor middellike aanspreeklikheid gehandel het, het die hof hom in wese nie daaroor uitgelaat nie en voortgegaan om die optrede van MK te toets aan die vereistes (elemente) van ’n onregmatige daad, te wete handeling, onregmatigheid, skuld (in casu nalatigheid), kousaliteit en nadeel. Om verstaanbare redes is daar bloot aanvaar dat daar aan die handelings- en nadeelvereistes voldoen is, terwyl daar in ietwat meer besonderhede op die oorblywende delikselemente gekonsentreer is om uiteindelik tot die gevolgtrekking te kom dat MK se versuim deur die houer met suur te laat waar dit binne die bereik van jong kinders was, aan al die deliksvereistes voldoen het en dat sy werkgewer derhalwe vir T se nadeel aanspreeklik is. ’n Besondere kenmerk van die uitspraak is dat daar bykans geen verwysing na stawende gesag voorkom nie. Die enkele verwysings na regspraak het gehandel oor ’n futiele verweer wat aangebied is. Wat egter hinder is dat daar ’n aanwending was van beginsels rakende onregmatigheid, nalatigheid en kousaliteit – delikselemente wat in die bestaande regspraak normaalweg behandel word met verwysing na oorvloedige gesag, gesien die kompleksiteit daarvan (veral wat betref onregmatigheid). Verder is die hof se aanwending van die breë boni mores onregmatigheidstoets nie te rym met die algemene benadering dat daardie toets alleenstaande slegs te pas kom wanneer daar nie toepassing van uitgekristalliseerde reëls moontlik is nie. In hierdie geval was die bekende beginsels van omissio per commissionem, beheer oor ’n gevaarlike voorwerp, kennis en begrip van moontlike nadeel en regsreëls as ontstaansbron van ’n regsplig om positief op te tree kennelik toepaslik. Die wyse waarop die hof die aanwending van die toets van die redelike persoon vir nalatigheid beskryf het, laat ook veel te wense oor. Wat kousaliteit betref, was daar geensins ’n vermelding van die onderskeid tussen feitelike en juridiese kousaliteit nie. Die wanindruk wat hierdie uitspraak uiteindelik laat, is dat die ingewikkelde beginsels rakende hierdie elemente eenvoudig geykte reg is. ’n Verdere gebrek in die uitspraak is te vinde in die hof se dubbelsinnige beskrywing van MK se diensverhouding: dit is onduidelik of hy ’n werknemer van die skool of die departement van onderwys was. Sou dit laasgenoemde wees, is die bevinding van aanspreeklikheid aan die kant van die onderwysdepartement te verstane. Indien MK egter in diens van die skool of die betrokke bestuursliggaam was, sou die gevolg heel anders kon uitspeel, aangesien artikel 60(1)(a) saamgelees met artikel 1 van die Suid-Afrikaanse Skolewet die departement van onderwys alleen aanspreeklik stel vir nadeel gely tydens skoolaktiwiteite, naamlik amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspannings- of sosiale aktiwiteite van die betrokke openbare skool. MK se gedraginge wat tot T se beserings aanleiding gegee het, word by die eerste oogopslag nie deur daardie wetsbepaling gedek nie, met die gevolg dat óf die skool, óf die bestuursliggaam dan aanspreeklik sou kon wees. Daar bestaan egter enkele regterlike dicta waarvolgens dit wel onder die betrokke bepaling tuisgebring kan word. Die hof se versuim in hierdie verband kan egter daaraan toegeskryf word dat daar namens die verweerder aanspreeklikheid aanvaar is vir MK se optrede, ’n erkenning wat by nabetragting heel waarskynlik onwys was. Die metodiek waarvolgens die ratio decidendi geskryf is, is heel ongewoon en kan ernstig bevraagteken word. Waarskynlik was die hof daarop bedag om uitvoering te gee aan die 2018-voorskrif van ons hoofregter aan die regterspresidente om uitsprake kort en kragtig, en liefs nie vakkundig (“scholarly”) nie, te hou. Moontlik daarom vind ’n mens geen verwysing nie na regspraak as gesag by behandeling van die belangrikste aspekte van die saak wat verband hou met die vraag of MK se versuim wel aan al die deliksvereistes voldoen het. Daar word daarop gewys dat regters nie, soos in die onderhawige geval, deur hul uitsprake as nie rapporteerbaar nie te merk, sodanige uitsprake buite die sfeer van gelding van die stare decisis-leerstuk kan plaas nie. ’n Uitspraak soos die onderhawige bly steeds ’n bindende presedent.