Regspraak: Moving on thin ice – recent judgment in a deviation case a caveat to employers to exercise utmost caution when contemplating new appointments

Author: J Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2022, p. 798-808
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i4a9

Abstract

 Die regsberoep word deur etiese en professionele beginsels onderlê. Een van die beginsels wat in hierdie bespreking uitgelig word, is die van handhawing en beskerming van die publiek se persepsie van die regsberoep, onder andere om ’n goeie en eerbare beroep te wees. Dit kan negatief beïnvloed word indien litigasie tussen regspraktisyns as ’n vorm van binnegevegte beskou word en kan moontlik ’n interne krisis binne die professie skep. Alhoewel Solomon v Junkeeparsad (2022 3 SA 526 (GJ)) maar een voorbeeld van litigasie tussen regspraktisyns is, beklemtoon die saak, hoewel indirek, die konseptuele vraag of litigasie tussen regspraktisyns as ’n vorm van binnegevegte beskou kan word. Dit sal skadelik wees vir die persepsie van die regsprofessie indien sodanige litigasie ’n nuwe norm geword het en nou aanvaarbaar is binne die ontwikkelende professie in die moderne samelewing. In die aanspreek van hierdie vraag hou die outeur rekening met die feit dat in Suid-Afrika, soos in Australië en ander regsbestelle gebaseer op die Engelse “common law”, sprake is van onderskeidelike professies van die balie en die sybalie. Dié geskeie balies beïnvloed moontlik die regsverhouding tussen kliënte, prokureurs en advokate. Dit bepaal ook die bron van aanspreeklikheid vir die betaling van ’n advokaat se fooi. Alhoewel die bron van ’n prokureur se aanspreeklikheid in die verlede oor die algemeen as kontraktueel beskou is (in beide die Suid-Afrikaanse en die Australiese regspraktyk), rus ’n verpligting op prokureurs in Suid-Afrika om ’n advokaat se fooi te betaal wat nou weerspieël word in die gedragskode (soos vasgestel ingevolge artikel 35 van die Regspraktykwet 28 van 2014). ’n Prokureur het sowel ’n professionele as etiese plig om die verskuldigde betaling van derde partye se fooie (insluitend die van advokate) onverwyld te maak. ’n Versuim om hierdie plig stiptelik na te kom, reflekteer op swak bestuur van die prokureur se regspraktyk. Alhoewel ’n advokaat wel ’n reg het om regstappe in te stel teen iedere prestasieskuldenaar ook waar professionele fooie uitstaande is, rus daar ’n kollektiewe en etiese verantwoordelikheid op die lede van die regsprofessie om die beeld en reputasie van die professie te beskerm. Met hierdie aantekening dui die outeur daarop dat dit dalk tyd is om alternatiewe geskilbeslegtingsprosesse te vind om dispute tussen regspraktisyns, as lede van die regsberoep, aan te spreek.