Regspraak: No title to prosecute: Grasping at straws or tactical move?

Author: M Watney

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2022, p. 405-417

Abstract

’n Beskuldigde persoon se reg op ’n billike verhoor geniet beskerming in artikel 35 van die handves van regte soos vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Die grondwet self omskryf die handves van regte as die hoeksteen van demokrasie in die land waarin die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid bevestig word (a 7(1)). Omvattende werking word aan die handves verleen aangesien artikel 8(1) toepassing vind op die totale reg en bindend is op die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag en alle staatsorgane. Die konstitusionele hof het in dié verband beklemtoon dat die reg op ’n billike verhoor fokus op die belang van prosedurele billikheid. Overgesetsynde plaas dit die kollig op die optrede van die polisiediens en nasionale vervolgingsgesag asook die toepaslike magtigende wetgewing aan die hand waarvan strafregtelike vervolgings ingestel word. In die twee onlangse beslissings van S v Moussa (2021 2 SASV 378 (GJ)) en S v Zuma (2022 1 All SA 533 (KZP), (CCD 30/2018) 2021 ZAKZPHC 89 (26 Oktober 2021)), het die onderskeie beskuldigdes in ’n poging om hul reg op ’n billike verhoor te beskerm, ’n pleit ingevolge artikel 106(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 opgewerp dat die aanklaer nie bevoeg was om te vervolg nie. Die betrokke pleit vorm reeds jare deel van die strafprosesregbedeling in Suid-Afrika en verskyn basies woordeliks dieselfde in opvolgende wetgewing sedert 1903. Desnieteenstaande het dié pleit weinig aandag in gerapporteerde beslissings en bykans geen aftrek in akademiese diskoers gekry nie. Dié gebrek het ruimte gelaat vir die pleit om in die vermelde beslissings enersyds onagsaam aangewend te word, en andersyds as skuiwergat te dien in die ewige spel van klaarblyklike verhoorontduiking. In die Moussa-saak beslis die hof tereg, na ontleding van presies wie oor verhoorbevoegdheid beskik en die rol van die aanklaer as verteenwoordiger van die direkteur van openbare vervolgings, dat die vervolgingsbevoegdheid van ’n aanklaer nie nadelig geraak word deur ’n vorige aanklaer wat haar bevoegdhede oorskry het nie en die pleit word van die hand gewys. In hierdie geval is die verkeerde remedie aangewend en word daar aan die hand gedoen dat die beskuldigde suksesvol sou wees indien die hof genader was met ’n aansoek om die vervolgingsgesag te verplig om die ooreenkoms wat met die beskuldigde gesluit was, gestand te doen asook ’n bevel wat die vervolgingsgesag verbied om die vervolging voort te sit. Die bevoegdheid van ’n aanklaer om te vervolg word in wese bepaal aan die hand daarvan of hy korrek as sodanig aangestel is, ’n delegasie om vervolgings waar te neem aan hom uitgereik is en of die vereiste eed afgelê is. In uitsonderlike gevalle vereis wetgewing dat die nasionale direkteur ’n spesifieke vervolging skriftelik moet magtig. In die Zuma-saak is nie een van hierdie vereistes bevraagteken nie. Die hof is egter versoek om ’n uitgebreide betekenis te heg aan artikel 106(1)(h) ten einde daarby ook in te sluit ’n beweerde gebrek aan objektiwiteit en onafhanklikheid van die aanklaer, kortom dat hy tesame met ander beamptes in die vervolgingsgesag die vervolging van die beskuldigde op ’n bevooroordeelde manier bedryf het. Die hof weier om aan die vertolking van “aanklaer” enige iets anders toe te dig as wat juis beslis is in Ndluli v Wilken NO (1991 1 SA 297 (A)) naamlik dat dié term verwys na die persoon wat as aanklaer in die hof optree en nie na die staat of vervolgingsgesag in die breë nie. Steunend op uitsprake van die hoogste hof van appèl beklemtoon die hof verder dat die adversatiewe strafprosesregsisteem van die aanklaer vereis om doelgerig en met ywer ’n vervolging op billike wyse waar te neem en dat volkome regterlike objektiwiteit en ’n algehele gebrek aan vooroordeel nie van aanklaers vereis word nie. Die hof beslis dat daar geen meriete bestaan om die toepassingsgebied van die pleit uit te brei in die lig van bestaande effektiewe remedies waarmee die reg op ’n billike verhoor beskerm kan word nie en wys ook in hierdie geval die pleit van die hand.