Regspraak: Precarium to the rescue as deus ex machina in a hard case
Author: Johan Scott
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 171-191
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a10
Abstract
Die Khumalo-saak handel oor ’n bejaarde man (K) se aansoek om ’n spoliasiebevel teen L (die eienaar van ’n plaas waaroor K jare lank vir hom ’n pad na sy woning toegeëien het) wat eensklaps sy grond toegespan het en geweier het om die heksleutels aan K – ’n okkupeerder ingevolge artikel 1 van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg 62 van 1997, woonagtig op ’n buurplaas – te oorhandig ten einde hom in staat te stel om steeds die pad te gebruik. Ofskoon daar ’n ander pad na K se woning was, was dit uiters swak en slegs geskik vir gebruik deur 4×4 voertuie. Aangesien K net ’n ou bakkie besit het, het hy geweldig ongerief verduur as gevolg van L se optrede. L het aangevoer dat hy goeie redes gehad het vir sy optrede, onder andere bodembewaring en om wilddiewe hok te slaan, asook dat K boonop nie ingevolge ’n serwituut van via toegang oor sy plaas gehad het nie. Die grondeisehof het op grond van ’n bedenklike toepassing van artikel 22(2)(c) van die Wet op Herstel van Grondregte 22 van 1994 vir hom jurisdiksie toegeëien. Verder het die hof, strydig met die robuuste en spoedeisende aard van die mandament van spolie, die beswaar dat die applikant sy aansoek eers na twee jaar en agt maande geloods het, summier verwerp en daarnaas, ook strydig met bestaande beginsel en praktyk, in besonderhede op die meriete van K se saak ingegaan om tot die beslissing te geraak het dat daar ’n stilswyende precarium tussen K en L gesluit is, omdat L se werknemers wat sienderoë toegelaat het dat K die pad oor L se grond gebruik, as L se verteenwoordigers vir doeleindes van sluiting van die precarium-ooreenkoms bevind is. Ingevolge die normale reëls moes die prekaris, K, dus volgens die hof redelike kennis van die precarium dans, L, ontvang het voordat laasgenoemde sy plaas kon afsper. Die hof het in wese “geregtelik kennis geneem” van hierdie precarium en hom geensins gesteur aan die bestaande reëls van die kontraktereg en, in die besonder, die verteenwoordigingsreg nie. Veral oppervlakkig was die hof se behandeling van die vereiste van skending van quasi-besit vir die mandament van spolie in gevalle waar die applikant nie in daadwerklike beheer van ’n onroerende saak was nie. Die hof het hier in werklikheid deur middel van die toepassing van spoliasiebeginsels spesifieke nakoming van die precarium-kontrak gelas. Daar word betoog dat die hof uit sy pad gegaan het om K uit sy verknorsing te help, ofskoon daar in die lig van geldende regsreëls geen regverdiging vir sodanige regshulp was nie. Hoogstens het die feit dat L jarelank vir K toegelaat het om sy pad te gebruik op toestemming – ’n eensydige regshandeling wat te eniger tyd herroep kan word – neergekom en L was dus ten volle daarop geregtig om sy plaas af te sper. Daar kan verder geensins betoog word dat daar ’n grondwetlike verpligting op L gerus het om K se gebruik van die pad oor sy plaas te gedoog nie. Deur hierdie uitspraak het die hof ’n gevaarlike presedent geskep.