Regspraak: Reflecting on a judgment – an outlier, or just a standard eviction case?

Author: ZT Boggenpoel

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2024, p. 580-590
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i3a10

Abstract

Die uitspraak in Trustees for the Time Being of the PG W Family Trust v N W (87/2023) 2024 ZAWCHC 57 (31 Jan 2024) vorm die fokus van hierdie vonnisbespreking. Hier is ’n beroep op die hof gedoen om te besluit of dit regverdig en billik is om ’n bejaarde vrou en haar seun, wat albei verskeie gesondheids- en sielkundige uitdagings gehad het, uit te sit vanuit eiendom waarvan die eerste tot derde applikante mede-eienaars is. Die hof het bevind dat dit wel regverdig en billik sou wees om die respondente uit te sit, maar het die bevel onderhewig aan verskeie voorwaardes gemaak.
Hierdie saak toon dat nieteenstaande die feit dat die nuwe uitsettingsbedeling merkwaardig meer sensitief is vir marginaliteit, swakheid en kwesbaarheid, uitsetting van onregmatige okkupeerders beslis moontlik is, ongeag of die onregmatige okkupeerders in ’n paar kategorieë van kwesbaarheid val in terme van faktore wat in die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond 19 van 1998 gelys word.
Hierdie bydrae daag ons uit om na te dink of ’n saak soos die PG W-saak die pendulum weggeskuif het van (of na) eksklusiewe fokus op die gemeenregtelike reg om uit te sluit (gebaseer op die grondeienaar se sterker reg tot besit), wat die fokus van uitsettingsregspraak in die voor-grondwetlike era was. In die konteks van geskikte alternatiewe behuising toon die PG W-saak aan dat ’n hof dit vir die plaaslike owerheid los om te bepaal watter behuising geskik is. Die hof sal egter in sy bevel probeer om die verwoestende gevolge van uitsetting en hervestiging te versag deur soms selfs positiewe verpligtinge op grondeienaars te plaas om die hervestiging draagliker te maak.
Oor die algemeen het die vonnisbespreking gepoog om gedagtes te gee oor die druk-trek-elemente van die balansering van die diskresie om ’n uitsetting toe te staan al dan nie. En hoewel ’n mens nie kan voorspel hoe ’n ander uitsettingsaak in die toekoms beslis sal word nie, gegewe die uniekheid van die feite en omstandighede in ’n bepaalde geval, kan ’n mens beslis begin om sleutelaanwysers aan te toon van ’n tendens in uitsettingsgevalle. Daar word gehoop dat hierdie vonnisbespreking sal bydra tot die bespreking van hoe so ’n tendens moontlik lyk – en wat die slaggate daarvan kan wees.