Regspraak: Slicing the baloney pretty thin: Lessons in fair use from the Warhol case

Author: S Karjiker

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2025, p. 187-202
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i1a11

Abstract

Wanneer dit kom by inbreukmaking op kopiereg is die belangrikste wysiging van die Wet op Outeursreg 98 van 1978 wat deur die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg voorgestel is (Wysigingswetsontwerp op Kopiereg B 13D – 2017, 9 Junie 2022), in alle waarskynlikheid die bekendstelling van die Amerikaanse konsep van billike gebruik (“fair use”), om ons huidige stelsel van billike handeling (“fair dealing”) te vervang. Dit is dus insiggewend om die mees onlangse billike gebruik-uitspraak van die Amerikaanse hooggeregshof in Andy Warhol Foundation for the Visual Arts, Inc v Goldsmith (2023) 143 SCt 1258 te bespreek gegewe die feit dat hierdie hof nie gereeld kopieregsake aanhoor nie.

Die Warhol-saak het gehandel oor ’n bewering van kopieregskending van ’n foto wat deur die fotograaf Lynn Goldsmith geneem is en waarvan ’n syskerm afdruk deur die popkunstenaar Andy Warhol gemaak is. In 1981 het Goldsmith ’n swart en wit ateljeeportretfoto van die musikant Prince (“die foto”) geneem. Die foto is in 1984 aan die tydskrif Vanity Fair gelisensieer as ’n “kunstenaarsverwysing vir ’n illustrasie”, wat in die tydskrif sou verskyn saam met ’n artikel oor Prince later daardie jaar. Vanity Fair het Warhol opdrag gegee om die illustrasie te skep. Hy het verskeie syskermafdrukke vervaardig, gebaseer op die foto. Een van hierdie syskermafdrukke is in die 1984-tydskrif gebruik. Na die dood van Warhol is die kopiereg van die syskermafdrukke aan die Andy Warhol Foundation for the Visual Arts, Inc (“AWF”) oorgedra.

Ná Prince se dood, in 2016, het Condé Nast (Vanity Fair se houermaatskappy) nog een van die syskermafdrukke gebruik vir ’n gedenkartikel oor die musikant, nadat die AWF toestemming daarvoor gegee het. Goldsmith het egter nie toestemming vir die verdere gebruik van die syskermafdruk gegee nie. Goldsmith het ook geen betaling ontvang nie, en is ook nie as die bron van die illustrasie erken nie. Dit was ten opsigte van hierdie verdere gebruik dat Goldsmith beweer het dat haar kopiereg in die foto geskend is. Die AWF het beweer dat hierdie gebruik van die syskermafdruk nie Goldsmith se kopiereg in die foto geskend het nie, aangesien Warhol se syskermafdruk op billike gebruik van die foto neerkom, en dat dit transformerend was.

Die appèl na die Amerikaanse hooggeregshof was beperk tot net een kwessie: of die eerste faktor vir billike gebruik – die doel en karakter van die gebruik – die AWF of Goldsmith bevoordeel. Die hooggeregshof het bevind dat hierdie faktor Goldsmith bevoordeel het, en dat haar kopiereg in die foto geskend is. Die beslissing van die Amerikaanse hooggeregshof was egter nie eenparig nie. Daar was teenstrydige meerderheids- en minderheidsuitsprake, wat wys dat billike gebruik nie dieselfde sekerheid as billike hantering gee nie. Dit lei tot vermorste en duur litigasie (of ’n groter moontlikheid daarvan). Daar word voorgehou dat hierdie saak, of soortgelyke sake, ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing as direkte kopieregskending beskou sal word. Die Warhol-saak dien as nog ’n bewys van die problematiese aard van billike gebruik, en daar word sterk aangeraai om die implementering daarvan te vermy.