Regspraak: The availability of the actio legis aquiliae and the actio iniuriarum between spouses
Author: J Neethling
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 602-611
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a10
Abstract
Daar is geen klinkklare antwoord in die Suid-Afrikaanse reg op die vraag of gades mekaar met die actio legis Aquiliae en die actio iniuriarum kan aanspreek nie. Vir doeleindes hiervan word onderskei tussen huwelike buite en binne gemeenskap van goed. Net eersgenoemde is hier van direkte belang en die positiefregtelike posisie sien soos volg daaruit: ’n Gade getroud buite gemeenskap van goed mag in beginsel stante matrimonio vrylik enige van dié twee deliksaksies teen die ander gade instel. In TG v WC was die partye, getroud buite gemeenskap van goed, besig om te skei. Hulle is getroud na ’n verhouding waarin die verweerder te kenne gegee het dat hy die eiseres lief het en altyd saam met haar wil wees. Kort na huweliksluiting het hul verhouding egter verbrokkel toe die verweerder haar begin verneder en gevra het om die huis te verlaat. Die eiseres het toe uitgevind dat op die tydstip wat die verweerder haar gevra het om te trou, hy reeds gemeen het dat hul verhouding onherstelbaar verbrokkel het, maar dit nie vir haar gesê het nie. Sodoende het hy haar deur sy bedrieglike wanvoorstelling beweeg om die huwelik te sluit. Gebaseer op dié feite, het die eiseres die verweerder op twee skuldoorsake aangespreek; eerstens die Aquiliese aksie om skadevergoeding te eis vir die suiwer ekonomiese verlies wat sy gely het (haar onkoste weens die huwelik) as gevolg van die verweerder se opsetlike wanvoorstelling; en tweedens die actio iniuriarum om solatium te verhaal weens die aantasting van haar eer en goeie naam. Die verweerder teken eksepsie teen beide eise aan op grond daarvan dat geeneen ’n skuldoorsaak daarstel nie. Die hof beslis dat die eiseres se eerste eis nie gedingsvatbaar is nie omdat dit strydig met openbare en regsbeleid sou wees. Ten onregte. Dit is gevestigde reg dat ’n opsetlike wanvoorstelling wat tot kontraksluiting lei, contra bonos mores en bygevolg onregmatig is en daarom ’n deliktuele skuldoorsaak uitmaak. Die hof moes dus die eksepsie teen hierdie eis van die hand gewys het. Daarenteen het die hof tereg bevestig, soos deesdae algemeen aanvaar word, dat die actio iniuriarum tot die beskikking van gades getroud buite gemeenskap van goed is en dat daar dus geen hindernis vir ’n vrou is om haar man weens iniuria aan te spreek nie. Die eksepsie teen hierdie eis word dus tereg afgewys.