Regspraak: The court’s power to appoint a liquidator in terms of section 163 of the Companies Act 71 of 2008
Authors: WJC Swart and Andre Boraine
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Pretoria
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2024, p. 812-822
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i4a10
Abstract
In Berlein v Salisburg Landy (Pty) Ltd ((3330/20) 2023 ZAMPMBHC 52 (26 Sept 2023)) het die hof ’n likwidateur kragtens artikel 163(2)(b) van die Maatskappywet 71 van 2008 aangestel. Die beslissing word gekritiseer eerstens omdat regshulp kragtens artikel 163(2) toegestaan is sonder dat ’n aansoek op grond van artikel 163 voor die hof gedien het. ’n Hof het geen diskresie om regshulp kragtens artikel 163(2) uit te oefen alvorens die gronde in artikel 163(1) bewys is nie. Tweedens het die hof ten spyte van die wye diskresie wat dit ingevolge artikel 163(2) geniet, ’n likwidateur aangestel terwyl daar verskeie alternatiewe en meer gepaste vorms van regshulp tot die hof se beskikking was wat minder drastiese gevolge vir die maatskappy en ander belanghebbendes sou inhou. Die feite en beslissing in hierdie saak lig sekere probleme en potensiële probleme met betrekking tot die formulering van artikel 163(2)(b) van die wet toe. Artikel 163(2)(b) van die wet wat die hof magtig om ’n likwidateur aan te stel, word vergelyk met artikel 241(3)(b) van die Kanadese Corporations Act (RSC 1985 c C-44) en artikel 233(2) van die Australiese Corporations Act 2001. Die regsposisie in Engeland word ook oorweeg. Die gevolgtrekking word gemaak dat alhoewel die regshulp in die laasgenoemde bepalings in die Kanadese en Australiese reg oënskynlik soortgelyk is aan die regshulp wat in artikel 163(2)(b) vervat is, is daar belangrike verskille in die formulering daarvan. Die bewoording van artikel 163(2)(b) van die wet is boonop uit pas met ander bestaande Suid-Afrikaanse regsbeginsels en statutêre bepalings in die volgende opsig: In Suid-Afrika word ’n likwidateur aangestel deur die meester van die hooggeregshof en nie deur ’n hof nie. Kragtens artikel 163(2)(b) kan ’n likwidateur aangestel word wanneer dit vir die hof voorkom dat die betrokke maatskappy insolvent is. Die bewoording van hierdie artikel is problematies, aangesien die hof blykbaar nou die likwidasie van ’n maatskappy kan beveel sonder enige konkrete gronde of bewyse dat die maatskappy insolvent is. Daar word gevolglik geargumenteer dat die hof se vertolking van artikel 163(2)(b) foutief is aangesien die hof nagelaat het om artikel 163(2)(b) saam met die gronde vermeld in artikel 163 te lees. Die hof se bevinding dat blote bewerings van wanbestuur aanduidend is van ’n maatskappy se insolvensie wat ’n bevel kragtens artikel 163(2)(b) regverdig, word ook krities onder die loep geneem. Die outeurs beveel enkele wysigings tot artikel 163(2)(b) aan.