Regspraak: The objective approach to the interpretation of contracts, contextual evidence and the delectus personae principle
Author: MFB Reinecke
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 149-158
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a11
Abstract
Die onderhawige saak handel oor ’n appèl na die konstitusionele hof teen ’n uitspraak van die hoogste hof van appèl. Die Randse Afrikaanse Universiteit as voorganger van die latere Universiteit van Johannesburg het grond aan Auckland Park Theological Seminary verhuur en die kern geskilpunt was of laasgenoemde sy vorderingsreg kon sedeer. Dit het die konstitusionele hof genoodsaak om die huurkontrak en die bedinge daarvan uit te lê. Die konstitusionele hof aanvaar in beginsel die sogenaamde objektiewe benadering tot die uitleg van ’n kontrak soos uiteengesit in Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality (2012 4 SA 593 (HHA)). Anders as die hoogste hof van appèl in die Endumeni-saak sien die konstitusionele hof egter nie die bedoeling van die partye as ’n blote mite nie aangesien die doel van uitleg volgens die hof juis is om die werklike bedoeling van die kontraktante vas te stel. Vir die hof is “context everything” en die hof neem ’n veel liberaler houding as voorheen in teenoor die toelating van kontekstuele getuienis sonder om die “parol evidence rule” oorboord te werp.
Die relatief onlangse aanvaarding van die objektiewe benadering in die regspraak is ’n belangrike ontwikkeling en die meriete daarvan word in die bydrae bespreek. Die hof toon dat ’n reg nie vir sessie vatbaar is nie as daar ’n uitdruklike of stilswyende beding in die kontrak is wat sessie uitsluit en ook as die delectus personae-beginsel toepaslik is. Volgens die konstitusionele hof geld die delectus personae-leer waar die reg wat gesedeer staan te word persoonlik van aard is.
In casu bevind die hof dat dit die partye se bedoeling was dat Auckland Park Theological Seminary se reg uit hoofde van die huurkontrak persoonlik van aard is. Gevolglik beslis die hof dat die betrokke reg op grond van die delectus personae-beginsel nie vir sessie vatbaar is nie. Daar word egter aan die hand gedoen dat as dit die bedoeling van die partye is om ’n eg persoonlike reg te skep, daar na alle waarskynlikheid ’n stilswyende verbod op sessie afgelei sal kan word met die gevolg dat sessie om dié rede uitgesluit is. Voorts word voorgestel dat die delectus personae-leer beperk word tot gevalle waar die skuldenaar nie sonder benadeling sy skuld aan ’n voorgestelde sessionaris kan voldoen nie. Ongelukkig is die regspraak nie volkome duidelik oor die aard en omvang van die delectus personae-leer nie.