Regspraak: The relationship between social rights and other rights and limits to the state’s discretion to fulfil and promote social rights

Author: IM Rautenbach

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2024, p. 123-133
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i1a9

Abstract

 In Eskom Holdings SOC Ltd v Vaal River Development Association (Pty) Ltd (2023 5 BCLR 527 (KH), 2023 4 SA 325 (KH)) is ’n appèl oorweeg teen die bekragtiging deur die hoogste hof van appèl van die hooggeregshof se verlening van ’n interdik teen Eskom om die vermindering van kragtoevoer na die Lekwa en Ngwathe munisipaliteite op te skort, hangende die uitslag van ’n hersieningsaansoek in die hooggeregshof van Eskom se besluit om die toevoer te verminder. Eskom het die kragtoevoer ingevolge artikel 21(5) van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit 4 van 2006 drasties verminder omdat die munisipaliteite nie hulle finansiële verpligtinge teenoor Eskom nagekom het nie. Die konstitusionele hof het die verlening van die interdik bekragtig. Die uitspraak van die hof is onderteken deur vyf regters en die mindersheiduitspraak is gesteun deur vier regters. Daar was eenstemmigheid in die uitsprake dat die vermindering van die kragtoevoer ’n uiters nadelige uitwerking gehad het op die watertoevoer, riolering, versorging van siekes en bejaardes, besoedeling van die Vaalrivier, onderwys en ekonomiese bedrywighede – ’n humanitêre en omgewingsramp was aan die ontwikkel.

In die hoofuitspraak is beslis dat die applikante die hof daarvan oortuig het dat verskillende handvesregte van die inwoners feitelik aangetas of bedreig was, naamlik die regte op menswaardigheid, lewe, toegang tot gesondheidsorg, voedsel, water, onderwys en op ’n omgewing wat nie skadelik vir gesondheid en welsyn is nie. Insoverre hier ook sosiale regte ter sprake was, was dit ’n geval van direkte skending of bedreiging en nie ’n geval van ’n versuim om die regte te bevorder en te verwesenlik nie. Volgens die minderheidsuitspraak kon die applikante nie bewys dat hulle steun op ’n prima facie reg nie. Die enigste reg waarop die applikante volgens die minderheid kon steun, is ’n reg op elektrisiteit en die minderheid kon nie daarvan oortuig word dat só ’n reg in die handves van regte of enige ander regsreël erken word nie.

Die minderheid se eng benadering hou geen rekening met die feit dat die beskermingsvelde van handvesregte so oorvleuel dat dieselfde handeling meerdere regte kan aantas en dat grondwette dikwels afsonderlike regte waarborg vir sekere persone (bv kinders) of teen aantasting deur sekere handelinge (bv die administratiewe handelinge en handelinge om die pleging van misdade te ondersoek en te straf) nie.

Sosiale regte beskerm gedrag en belange, byvoorbeeld lewe, menswaardigheid en fisiese en psigiese integriteit teen inmenging deur optrede binne die raamwerk van byvoorbeeld toegang tot geskikte behuising, gesondheidsorg, voedsel, water, maatskaplike sekerheid en onderwys. ’n Argument dat elektrisiteitsvoorsiening beskou kan word as ’n instrument om sekere handvesregte te beskerm of te bevorder, is volgens die minderheid onaanvaarbaar omdat instrumente om regte te bevorder nie deel van die “subjek van regte” is nie en, word in dieselfde paragraaf bygevoeg, omdat die staat ’n wye diskresie het om te besluit watter metodes gevolg moet word. Die vereiste in artikels 26(2) en 27(2) dat die staatsmaatreëls redelik moet wees, is aangehaal maar nie verduidelik nie.

Die sosiale regte in die grondwet is soos al die ander regte verskans en beregbaar en die beperkings wat gestel word ten opsigte van die uitoefening van diskresies om regte te beperk, moet altyd uitgespel word. Die minderheid se lukrake benadering en waarskuwing oor die wye bevoegdheid van die staat sal hopelik nie in toekomstige hofbeslissings gevolg word nie.