Regspraak: When will the notorious case of Hollington v F Hewthorn & Co Ltd 1943 KB 587 (CA) be laid to rest in South Africa?

Author: Wouter Le R De Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 533 – 547
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a9

Abstract

Die onlangse uitspraak in Maqubela v The Master het onteenseglik aangetoon dat die veel gekritiseerde Engelse saak van Hollington v F Hewthorn and Co Ltd steeds as bindende gesag deur Suid-Afrikaanse howe beskou word. Die onderhawige bydrae fokus eerstens op die Maqubela-saak, met verwysing na die relevante feite, die kernvraag vir die hof se beslissing en die hof, by monde van waarnemende regter Moorcroft, se redenasie. Die derde respondent, mev Maqubela, en die oorledene, mnr Maqubela, was binne gemeenskap van goedere getroud. Die oorledene was ’n prokureur en ten tye van sy afsterwe het hy as regter in die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof waargeneem. Voor sy dood het die oorledene ’n versekeringspolis op sy eie lewe uitgeneem en sy boedel as begunstigde aangewys. Die oorledene het intestaat gesterf, wat aanleiding gegee het tot ’n dispuut tussen onder andere die derde respondent, die meester en twee kinders van die oorledene (die applikante). Twee kernvrae het voor die hof gedien. Eerstens, het die opbrengs van die lewenspolis binne die gemeenskaplike boedel of ’n afsonderlike boedel van die oorledene geval? Die vraag val buite bestek van hierdie bespreking. Daar word volstaan om te meld dat die hof bevind het dat die opbrengs binne die oorledene se afsonderlike boedel geval het. Tweedens moes die hof beslis of die derde respondent onwaardig was om van die oorledene se boedel te erf omrede sy skuldig bevind was aan vervalsing van die oorledene se beweerde testament en bedrog deur aan die meester voor te hou dat die testament eg was. In die konteks het die vraag ontstaan of die derde respondent se genoemde skuldigbevinding toelaatbare getuienis in die siviele hof was om te bewys dat sy inderdaad skuldig was aan die misdrywe en dus op grond van openbare beleid onwaardig was om van die oorledene te erf. Indien die vraag negatief beantwoord sou word, sou sy in beginsel geregtig gewees het om ’n kindsdeel uit die oorledene se boedel te erf. (Die gemeenskaplike boedel was insolvent.) Die vraag het geverg dat die hof ’n bevinding betreffende die regsposisie maak en dit op die feite toepas. Kortliks kom dit op die volgende neer. Uit hoofde van artikel 42 van die Wet op Bewysleer in Siviele Sake 25 van 1965 geld die Engelse gemene bewysreg (“common law”), soos op 30 Mei 1961, in Suid-Afrika, vir sover plaaslike wetgewing en ander regsreëls nie ’n situasie reguleer nie. Dit beteken dat die Engelse beslissing in die Hollington-saak, beslis in 1943, as bindende gesag in Suid-Afrika geld. Die ratio van die Hollington-saak hou in dat ’n skuldigbevinding in ’n strafsaak nie toelaatbare getuienis is in ’n daaropvolgende siviele saak, gebaseer op wesenlik dieselfde feite, om te bewys dat die beskuldigde (nou meestal eiser) inderdaad die misdryf gepleeg het nie. Waarnemende regter Moorcroft het homself gebonde geag aan die Hollington-saak en bevind dat die derde respondent se skuldigbevinding aan vervalsing en bedrog, in verband met die oorledene se beweerde testament, nie toelaatbare getuienis in die siviele verrigtinge was om te bewys dat sy inderdaad skuldig was aan die misdrywe en dus onwaardig was om van die oorledene te erf nie. Die vonnisbespreking gee vervolgens ’n regsvergelykende oorsig van die regsposisies in Engeland, Australië en Nieu-Seeland. In Engeland is die reël in die Hollington-saak by wyse van wetgewing afgeskaf. In Australië het ál die state, met uitsondering van Wes-Australië, ook die reël in die Hollington-saak by wyse van wetgewing herroep. Getuienis betreffende ’n skuldigbevinding in ’n strafsaak is dus toelaatbaar verklaar in daaropvolgende siviele verrigtinge gebaseer op wesenlik dieselfde feite. Daar is egter nie eenvormigheid betreffende die gewig wat aan so ’n skuldigbevinding geheg moet word nie. Is dit bloot toelaatbaar en vir die hof om toepaslike gewig daaraan te heg? Of, skep dit prima facie bewys wat bloot ’n weerleggingslas plaas op die party wat die korrektheid van die skuldigbevinding betwis? Of, skep dit prima facie bewys wat ’n volle bewyslas op die genoemde party plaas om die teendeel op ’n oorwig van waarskynlikheid te bewys (die huidige posisie in Engeland). In beide Wes-Australie en Nieu-Seeland is die Hollington-reël by wyse van regspraak afgeskaf. In die verband fokus die bespreking op die Wes-Australiese saak van Mickelberg and Mickelberg v Director of Perth Mint (1986 WAR 365) en die Nieu-Seelandse beslissing in Jorgensen v News Media (Auckland) Ltd (1969 NZLR 961).  Die bespreking sluit af met ’n kritiese evaluering van die huidige Suid-Afrikaanse posisie. Die kernkritiek is dat die Hollington-reël onrealisties en irrasioneel is deurdat dit ’n skuldigbevinding, wat gebaseer is op bewys bo redelike twyfel, as irrelevant en ontoelaatbaar brandmerk in ’n daaropvolgende siviele saak, waar die bewysmaatstaf bloot ’n oorwig van waarskynlikheid is. Daar word ook na voorbeelde in die regspraak verwys om die absurde resultate te beklemtoon waartoe die reël kan lei. Ten slotte word aan die hand gedoen dat die tyd ryp is vir Suid-Afrika om die voorbeeld van die ander genoemde jurisdiksies te volg en die reël af te skaf. Die mees gepaste metode sou wetgewing wees aangesien dit meer geskik is as regspraak om presiese inhoud aan die nuwe regsposisie te gee. Maar, aangesien ingryping deur die wetgewer onwaarskynlik is, word die hoop uitgespreek dat ’n hoër hof, wat in die toekoms geroepe sou wees om oorweging aan die Hollington-reël te gee, bereid sou wees om die hof se inherente grondwetlike mag om die gemenereg te ontwikkel, uit te oefen en die Hollington-nalatenskap finaal ter ruste te lê.