South Africa’s latest medically assisted reproduction draft regulations: close, but no cigar
Authors: Donrich Thaldar and Bonginkosi Shozi
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor, School of Law, University of KwaZulu-Natal; Postdoctoral Research Scholar, Institute for Practical Ethics, UC San Diego
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 1-24
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a1
Abstract
Medies-geassisteerde voortplanting in Suid-Afrika word tans gereguleer deur regulasies wat in 2012 gepromulgeer is ingevolge die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003. In Maart 2021 het die minister van Gesondheid nuwe konsepregulasies gepubliseer vir kommentaar. Hierdie artikel ontleed die nuwe konsepregulasies teen die agtergrond van groeiende regspraak in die gebied van medies-geassisteerde voortplanting, asook teen die agtergrond van nuwe tegnologiese ontwikkeling in hierdie gebied oor die afgelope dekade. In die eerste deel van die artikel word aspekte waarin die konsepregulasies verbeter het op die huidige regulasies uitgewys en ontleed, te wete (i) die nuwe, meer akkurate definisie van “gameetskenker”; (ii) die verhoogde perk op die hoeveelheid kinders wat verwek mag word met die gamete van ’n enkele skenker; (iii) die betrokkenheid van die direkteur-generaal in die vasstelling van vergoeding vir verskaffing van gamete; en (iv) die terugkeer na gemeenregtelike regulering van eienaarskap van gamete en in vitro embrio’s. Die tweede deel van die artikel word toegespits op aspekte waarin die konsepregulasies verbeter behoort te word, naamlik (i) inkonsekwentheid en onsamehangendheid van verskeie definisies; (ii) die beperking dat spermselle slegs deur self-stimulasie bekom mag word vir medies-geassisteerde voortplanting; en (iii) die gebrek aan regulering van menslike oorerflike genoom-redigering. Die derde deel van die artikel verskaf ’n oorsig van die drie bepalings van die 2012 regulasies wat tans die onderwerp is van ’n grondwetlike hofsaak en wys hoe die 2021 konsepregulasies poog om die knelpunte in die hofsaak aan te spreek. Hierdie drie bepalings is (i) die vereiste dat ’n paartjie (hetsy getroud of in ’n permanente verhouding) hulself moet onderwerp aan sielkundige evaluasie indien hulle mekaar se gamete wil gebruik vir medies-geassisteerde voortplanting; (ii) die verbod op voor-inplantingstoetsing van in vitro embrio’s vir nie-terapeutiese geslagseleksie; en (iii) die verbod op bekendmaking – deur énigiemand – van inligting oor mense wat gebruik gemaak het van medies-geassisteerde voortplanting, óf wat verwek is deur medies-geassisteerde voortplanting, óf wat gamete geskenk het vir medies-geassisteerde voortplanting. Die gevolgtrekking word gemaak dat die konsepregulasies ’n prysenswaardige poging is om op die bestaande regulasies te verbeter, maar dat dit nog in talle opsigte wesenlik tekort skiet. Ten einde hierdie tekortkominge aan te spreek, word omvattende aanbevelings gemaak oor hoe om die konsepregulasies aan te pas.