The link between over-indebtedness and mental health: a South African legal perspective

Author: G Van Niekerk

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor in Mercantile Law, University of Limpopo
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2025, p. 263-280
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i2a3

Abstract

Die finansiële gesondheid van individue in Suid-Afrika is kommerwekkend en baie mense skuld meer geld as wat hulle gemaklik, indien enigsins, kan terugbetaal. Meer as twee derdes van individue is angstig oor hulle huishoudelike skuld. Gesondheidsorgwerkers wat individue met geestesgesondheidsprobleme behandel, kry dikwels te doen met pasiënte wat meer skuld het as wat hulle kan bekostig. Deur die verband tussen ’n oormatige skuldlas en geestesgesondheid te analiseer, kan gesondheidsorgwerkers ingelig word oor die regsopsies beskikbaar vir sulke pasiënte. Die literatuur sedert 2000 dui aan dat daar ’n verband is tussen verbruikers wat meer skuld het as wat hulle kan betaal en hulle geestesgesondheid. Die spanning wat gepaard gaan met oormatige skuld kan die geestesgesondheidsprobleme van individue vererger. Aan die ander kant kan probleme met geestesgesondheid aanleiding daartoe gee dat ’n individu meer skuld aangaan as wat hy/sy kan terugbetaal.
Die skuldverligtingsmaatreëls beskikbaar vir individue is die sekwestrasieprosedure ingevolge die Insolvensiewet, die administrasieprosedure ingevolge die Wet op Landdroshowe en die skuldhersieningsprosedure ingevolge die Nasionale Kredietwet. In die meeste gevalle van oormatige skuld deur individue, sal die prosedure in die Nasionale Kredietwet die aangewese prosedure wees om verligting te bring, aangesien hierdie wet spesifiek daarop gemik is om verbruikers te beskerm teen oormatige skuld. Finansiële opvoeding oor die voorkoming en vermindering van oormatige skuld moet ernstig oorweeg word vir individue wat sodanige uitdagings in die oë staar. Die literatuur dui aan dat gesondheidsorgwerkers hulle pasiënte se finansiële status in ag moet neem wanneer hulle behandel word vir geestesgesondheidsprobleme.
Die implikasies van hierdie studie is dat professionele persone wat pasiënte behandel wat geestesgesondheidsprobleme het, gelyktydig met ’n oormatige skuldlas, strategieë moet implementeer om pasiënte te bemagtig om skuld te beheer of aan te spreek en die hoof te bied. Beleidmakers behoort te fokus op raamwerke wat ’n holistiese benadering bied aan individue met meer skuld as wat hulle kan betaal en wat ook geestesgesondheidsuitdagings in die oë staar.