
AANTEKENINGE
The National Credit Act 34 of 2005 and the registrar of the high court
Author: C Singh
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2025, p. 339-348
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i2a7
Abstract
Die primêre funksie van die griffier van die hooggeregshof is om die administratiewe bedrywighede van die hof te bestuur, om sommige regterlike pligte uit te voer ten einde onnodige hofprosedures te vermy en om regters by te staan. Wanneer artikel 23 van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 in samehang met reël 31(5) van die Eenvormige Hofreëls gelees word, is dit duidelik dat ’n griffier, behalwe in buitengewone omstandighede waar residensiële eiendom betrokke is, bemagtig word om ’n verstekvonnis toe te staan. Die oogmerk met die reël is om die las van die hofrol en regters se werkslading te verlig deur ’n diskresie aan ’n griffier te verleen om ’n verstekvonnis in relatief ongekompliseerde en onverdedigde sake toe te staan.
Die vraag of ’n griffier by magte behoort te wees om ’n verstekvonnis toe te staan in bepaalde aangeleenthede wat deur die National Credit Act 34 van 2005 beheers word, het onlangs weer die aandag in meerdere uitsprake van die howe ontvang. Artikel 130 van die wet bepaal dat enige aangeleentheid wat in die hof aanhangig gemaak is ingevolge ’n kredietooreenkoms wat deur die wet gereguleer word, slegs deur die hof aangehoor mag word. Artikel 130 maak egter geen verwysing na die griffier nie. Dit laat die vraag ontstaan of die wet nie die magte van die griffier met betrekking tot die toestaan van ’n verstekvonnis afwater in aangeleenthede waar kredietooreenkomste soos beheers deur die wet ter sprake kom nie.
Hierdie vraag is op verskeie maniere in die howe beantwoord. In sommige uitsprake is bevind dat die griffier nie oor die mag beskik om ’n verstekvonnis in kredietooreenkomste wat deur die wet gereguleer word, te verleen nie, terwyl in ander uitsprake gemeen is dat die griffier steeds oor hierdie bevoegdheid beskik. Duidelikheid met betrekking tot die griffier se bevoegdheid om die toestaan van ’n eksekusiebevel te oorweeg, is noodsaaklik om die hof volhoubaar te bestuur en voldoende skuldafdwingingsprosedures ingevolge kredietooreenkomste te handhaaf.
Die toonaangewende uitspraak in die onderhawige saak uit die Gautengse afdeling van die hooggeregshof het onlangs hierdie vraag onder die loep geneem en bevind dat artikel 23 van Wet 10 van 2013 nie in stryd met artikel 130 van die National Credit Act is nie, en dat die griffier wel oor die nodige bevoegdheid beskik om ’n verstekvonnis vir doeleindes van die National Credit Act toe te staan.