The protection of fictional characters with specific reference to the Rapid Phase case
Authors S Karjiker and L Mc Loud
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Anton Mostert Chair of Intellectual Property Law, Professor in Department of Mercantile Law, Stellenbosch University; LLB student, Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2019, p. 688 – 712
Abstract
Die outeurs bespreek die beskerming van fiktiewe karakters binne die konteks van die Suid-Afrikaanse kopiereg. Die enigste Suid-Afrikaanse saak wat handel oor die beskerming van fiktiewe karakters is Rapid Phase Entertainment CC v SABC. In hierdie saak het die eiser (die skeppers van die strokiesprent “Madam and Eve”) ’n saak vir kopieregskending teen die verweerder, die SAUK, ingestel. Die eiser het beweer dat die verweerder die karakters van sy strokiesprent onregmatig in een van die verweerder se televisie advertensies gebruik het. Hierdie uitspraak het heelwat kritiek ontlok en derhalwe is die Suid-Afrikaanse posisie rakende die beskerming van fiktiewe karakters onseker en onderontwikkeld. In hierdie artikel formuleer die outeurs ’n benadering wat deur die Suid-Afrikaanse howe in die toekoms toegepas kan word wanneer hulle gekonfronteer word met ’n saak wat handel oor die kopieregskending van ’n fiktiewe karakter. Omdat die Suid-Afrikaanse howe tot op datum nog nie die kwessie voldoende aangespreek het nie, is die Amerikaanse reg geraadpleeg om die benadering te formuleer. Die Amerikaanse standpunt was oorspronklik dat fiktiewe karakters nie onafhanklik van die werk waarin hulle oorspronklik voorgekom het, beskerm kon word nie. Hierdie benadering was egter aangepas in Walt Disney Productions v Air Pirates waarin die hof bevind het dat dit wel moontlik is vir ’n fiktiewe karakter om onafhanklik van die oorspronklike werk beskerm te word. Die vraag wat egter ontstaan is: Wanneer word hierdie onafhanklike beskerming deur die karakters geniet? Hierdie vraag vorm die sentrale ondersoek van die artikel.
Hierdie artikel bevat ’n omvattende ontleding van die Rapid Phase-saak. Die outeurs verwys na ’n alternatiewe gevolgtrekking waartoe die hof moontlik kon kom indien dit die korrekte benadering in die konteks van die Suid-Afrikaanse reg toegepas het. Die outeurs stel voor dat hierdie nuut geformuleerde benadering in die toekoms deur die Suid-Afrikaanse howe toegepas word om ’n uitspraak soos dié in die Rapid Phase-saak te vermy en te verseker dat die hof ’n moderne benadering toepas wanneer dit kom by die beskerming van fiktiewe karakters.