REGSPRAAK

The test for leave to appeal under section 17(1)(a)(i) of the Superior Courts Act 10 of 2013

Authors: D Van Loggerenberg and S Vivian

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Pretoria Society of Advocates
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2025, p. 349-358
https://doi.org/10.47348/TSAR/2025/i2a8

Abstract

In die saak onder bespreking het die hof uit eie beweging ’n opinie uitgespreek rakende die korrekte toets vir die gunstige oorweging van ’n aansoek om verlof tot appèl teen die bevel van ’n hof van eerste instansie ingevolge artikel 17(1)(a)(i) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 onder omstandighede waar daar geen geskil met betrekking tot dié toets voor die hof was nie en die partye nie deur die hof versoek was om volledige regsargument oor die toets aan die hof voor te lê nie.
Daar word aangetoon dat die toets vir ’n suksesvolle aansoek om verlof om te appelleer teen die bevel van ’n hof van eerste instansie statutêr gereël word in artikel 17(1)(a)(i) van Wet 10 van 2013. Dit is ’n strenger toets as dié wat voorheen deur die howe ontwikkel en toegepas is vir die doel. In hierdie opsig is die uitspraak verkeerd en het die waarnemende regter wat dit gelewer het, onder andere, uit die oog verloor dat:
(a) ingevolge die gemenereg daar ’n outomatiese reg van appèl was;
(b) wat betref die outomatiese reg van appèl ingevolge die gemenereg teen bevele van howe van eerste instansie is die posisie statutêr verander met die wysiging van die voormalige Wet op die Hooggeregshof 59 van 1959 met ingang 1 April 1983 deurdat vanaf daardie datum die outomatiese reg van appèl afgeskaf is en vervang is met ’n bedeling waar verlof tot appèl verkry moes word;
(c) die toets vir verlof tot appèl teen ’n bevel van ’n hof van eerste instansie soos neergelê deur die howe in die tydperk sedert 1 April 1983 tot en met die inwerkingtreding van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 op 23 Augustus 2013, behels het dat die hof van mening moes wees dat die appèl ’n redelike vooruitsig van sukses mag hê;
(d) in die lig van die feit dat die inwerkingstelling van ’n bedeling waar howe van appèl se werkslas verminder moes word deur in alle gevalle voorsiening te maak vir aansoeke om verlof tot appèl, het die wetgewer deur middel van die toets neergelê in artikel 17(1)(a)(i) bedoel om statutêr ’n strenger toets neer te lê, te wete dat ’n hof verlof tot appèl slegs mag toestaan indien die hof van mening is dat die appèl ’n redelike vooruitsig van sukses het.
In hierdie bespreking word aangetoon dat die uitspraak teenstrydig is met die strenger toets in artikel 17(1)(a)(i) soos neergelê deur die hoogste hof van appèl, verskeie uitsprake van volledige howe, verskeie volbanke en ’n groot hoeveelheid enkel regters van die hooggeregshof. Die uitspraak is gevolglik verkeerd. Boonop is dit slegs ’n obiter dictum.