The three pillars regulating international sales contracts on the African continent
Author: Marlene M Wethmar-Lemmer
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor, Department of Jurisprudence, University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2024, p. 676-691
https://doi.org/10.47348/TSAR/2024/i4a4
Abstract
In 2018 is die Afrika Vastelandse Vryehandelsooreenkoms (African Continental Free Trade Agreement) gesluit met die bedoeling om ’n gemeenskaplike mark vir goedere en dienste op die kontinent te vestig ten einde ekonomiese integrasie en beleggingsgeleenthede te bevorder met die vermindering van armoede as einddoel. Die uiteenlopende regstelsels in Afrika vergestalt die grootste nie-tarief struikelblok vir internasionale handel op die kontinent. Die harmonisering van die regsbeginsels, veral insake alle aspekte rakende internasionale koopkontrakte is dus van kardinale belang vir die bevordering van handel tussen Afrikalande maar ook tussen Afrikalande en hul handelsvennote wêreldwyd. Daar bestaan afdoende bewyse dat internasionale kommersiële arbitrasie die verkose dispuutbeslegtingsmeganisme in internasionale handelsdispute daarstel. Die harmonisering van die substantiewe regsreëls wat internasionale koopkontrakte en verbandhoudende transaksies reguleer; die harmonisering van die aanwysingsreëls oftewel die reëls van die internasionale privaatreg wat die toepaslike substantiewe regsreëls aandui asook die harmonisering van die prosedurele reëls wat internasionale arbitrasie beheers, verteenwoordig dus die drie pilare vir die effektiewe regulering van internasionale handel in Afrika. In hierdie bydrae word dié drie elemente ontleed en voorstelle aan die hand gedoen om kontinentale harmonisering van aldrie te bewerkstellig. Eerstens word aanbeveel dat alle state in Afrika lidlande van die Weense Koopverdrag van 1980 (CISG) word. Tans het die Weense Koopverdrag sewe-en-negentig lidlande wêreldwyd, verteenwoordigend van alle regstradisies. Ten spyte van die feit dat hierdie verdrag meer as veertig jaar oud is, groei die aantal lidlande steeds – meer as twintig lande het sedert 2010 tot die Weense Koopverdrag toegetree. Hierdie standhoudende groei in die getal lidlande dui daarop dat die CISG steeds as ’n gesaghebbende en geldige stel substantiewe internasionale koopreëls beskou word. Tweedens, wat die harmonisering van die aanwysingsreëls betref, word aan die hand gedoen dat die African Principles on the Law Applicable to International Commercial Contracts die beste grondslag daarstel vir harmonisering van tans uiteenlopende benaderings in Afrika tot die vasstel van die toepaslike reg. Derdens word daar na die Wet op Internasionale Arbitrasie 15 van 2017 en die skedules tot daardie wet gekyk vir die harmonisering van die prosedurele regulering van internasionale kommersiële arbitrasie.